Vandag (10 September) is Wêrelddag vir selfdoodvoorkoming. Die dag het ten doel om groter bewustheid oor selfdood, die psigiese siektes wat dit veroorsaak, en hoe dit voorkom kan word te skep. 

Die Wereldgesondheidsorganisasie (WGO) sê meer as 800 000 mense sterf jaarliks as gevolg van selfdood. En vir elke selfdood is daar nog 20 selfdoodpogings.   

Hoe lees jy die tekens – by jouself en by 'n geliefde – en hoe vra jy vir raad? Hier is raad.

Wie is vatbaar vir selfdood?

In verreweg die meeste gevalle word selfdood veroorsaak deur depressie. 

Dan is daar ook die impulsiewe optrede waar mense selfdood pleeg na byvoorbeeld verbrokkelde verhoudings, chroniese siekte en finansiele probleme.

As iemand voorheen hul lewe probeer neem het, is die risiko van nog 'n selfdoodpoging groter. Mense met 'n alkohol- of dwelmprobleem en die wat aan chroniese pyn of 'n ernstige siekte ly loop ook 'n groter risiko.

Mense wat sosiaal geïsoleerd is, is ook meer geneig om selfdood te pleeg. 

Intense emosies lei dikwels tot afsondering, sê Elize Parker, 'n raadgewer vir Huisgenoot-lesers en skrywer van motiveringsboeke. 

“Jy skep jou eie wegkruiptye. Leef soos 'n skilpad veilig in jou dop. Jy is net eenvoudig te moeg om ook nog kans vir mense te sien. Maar so sny jy jouself ook af van kragbronne.”

Beplan om diegene te sien wat jou energie gee, is haar raad. “Maak 'n lysie van almal wat jou vanjaar gesteun het en sien hulle gereeld in dié tydjie; nie net ’n kuberkuier of SMS’e of e-posse nie. 

“Woorde op 'n skermpie, al is hulle hoe mooi of al word hulle hoe goed bedoel, versterk niemand se hart soos ’n kuiertjie van aangesig tot aangesig nie. Daar lê baie onuitgesproke troos in ’n ander se liggaamstaal tydens ’n gesprek."

Raad vir depressielyers

Cassey Chambers, bedryfdirekteur van die Suid-Afrikaanse depressie- en angsgroep (Sadag), gee nog raad aan depressielyers:

  • Vra hulp en wees spesifiek. Mense is dikwels baie gewillig om te help as jy presies se wat jy nodig het.
  • Moenie langer êrens bly as wat jy wil nie. As jy weet jy het 'n plan om byvoorbeeld 'n partytjie te verlaat, kan dit angstigheid help verlig.
  • Moenie te diep in die bottel kyk nie. Onthou, drank is 'n depressant, en as jy dit misbruik, sal dit jou erger laat voel. Wees veral versigtig as jy medikasie neem.
  • Doen iets geesteliks, familiegerigs of nietematerialisties.
  • Moenie die juk van skuld dra nie. As 'n skuldgevoel oor enigiets in hierdie tyd jou wil oorval, se bloot vir jouself: "Daar is volgende week genoeg tyd om skuldig te voel!" Doen dit gereeld, dan sal die skuldgevoelens jou nooit lamlê nie. 
  • "Nee" is nie 'n vloekwoord nie. Ons laat onsself dikwels in meer moeilikheid beland as waarvan ons bewus is omdat ons dit nie oor ons lippe kan kry om te se: "Dankie, maar nee dankie."

Lees die tekens

Selfdood onder tieners is wêreldwyd aan die toeneem. Ouers kan hul oë oophou vir dié gevaartekens by hul kinders. Dit geld ook vir enigeen wat besorgd is oor 'n geliefde se geestestoestand.

Wees bedag wanneer jou tiener of geliefde:

  • Praat of grappies maak oor selfdood
  • Eet- en slaappatrone verander
  • Onttrek aan vriende en familie
  • Belangstelling in gewone aktiwiteite verloor
  • Sy of haar besittings weggee of weggooi
  • Hulself gedurig kritiseer en afkraak
  • Se persoonlikheid verander, soos van gesellig na stil
  • Belangstelling in persoonlike voorkoms en higiëne verloor
  • Buie onverwags wissel
  • Gedigte en opstelle oor die dood skryf
  • Sukkel met chroniese siekte of onlangs 'n geliefde verloor het
  • Aan 'n traumatiese voorval blootgestel is

Ander hoërisiko-faktore

  • Verhoudingsprobleme
  • Geweld en emosionele of seksuele mishandeling
  • Familiegeskiedenis van selfdood of depressie
  • Siekte
  • Vorige selfdoodpogings

Kan selfdood verhoed word?

Volgens die WGO kan dit wel verhoed word deur 'n paar voorsorgmaatreëls in plek te stel: 

1. Verminder toegang tot dit wat ingespan word om selfdood te pleeg (plaagdoders, vuurwapens, sekere medikasies).

2. Verantwoordelike verslaggewing deur die media

3. Hersiende alkoholbeleid om die skadelike gebruik daarvan te verlaag

4. Vroeë identifikasie, behandeling en sorg van mense met geestelike en afhanklikheidsstoornisse gediagnoseer is.

5. Lei nie-gespesialiseerde gesondheidswerkers op om selfdoodgedrag te kan evalueer en bestuur

6. Opvolgsorg vir diegene wat reeds selfdood probeer pleeg het.

KRY HIER HULP:

Sadag se selfdoodhulplyn: 0800-567-567 of 31393 (SMS-lyn) 

Destiny Hulplyn vir jong mense: 0800-41-42-43

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.