Deesdae is ons almal fotofoendi’s.

Met ’n slimfoon in die hand kan oud en jonk meesterlike foto’s neem danksy die goeie kameras waarmee dié veeldoelige stukkie tegnologie toegerus is.

Dink maar aan jou onlangse see-vakansie en die horde foto’s wat jy van die sonsondergang geneem het, of die selfies van jou en jou wederhelf terwyl julle aan mengeldrankies teug.

Foto: pexels.com/Kerde Severin
Foto: pexels.com/Kerde Severin

Of dalk het jy ’n wenfoto geneem van ’n leeu wat ’n rooibok in die wildtuin plattrek. Maar wanneer jy met jou gunstelingfoto by familie en vriende wil spog, is dit ’n reusetaak om dit tussen die magdom ander op jou foon op te spoor.

Gelukkig maak die gevorderde tegnologie van vandag dit vir jou moontlik om jou elektroniese foto’s vinnig en doeltreffend te sorteer en veilig te bêre – op so ’n manier dat jy net so vinnig jou vinger op ’n bepaalde foto kan lê as wat jy daardie onvergeetlike oomblik vasgevang het.

“Die meeste van ons sit met duisende foto’s op ons fone. Ons laai dit in die sosiale media op en soms kyk ons nie eens weer daarna nie. ’n Paar maklike opsies is wel beskikbaar wat jy kan inspan om jou geliefkoosde foto’s mooi weg te bêre, te organiseer en selfs fotoboeke mee te maak,” sê Martin de Kock, ’n voormalige Huisgenoot-fotograaf en deesdae die eienaar van ’n foto-en-videografiemaatskappy, MDK Africa.

Hiermee kan nuttige apps jou help, waarvan die meeste boonop gratis is. Ons het raad oor hoe om te werk te gaan.

KNYP TYD AF OM JOU FOTO’S DEUR TE KYK

Foto: pexels.com / Leah Kelley
Foto: pexels.com / Leah Kelley

“Gewoonlik as ek ’n tydjie vry het, gaan ek die foto’s een-een deur om te besluit watter ek wil hou en watter ek wil uitvee,” sê Lisa van Rooyen, die sosialemediaster beter bekend as Lisametdierooihare.

Sy sê die grootste fout wat sy al begaan het, is om al haar foto’s bloot op haar rekenaar af te laai.

“Ek vergeet dan soms watter foto’s ek reeds daarbinne het, en dan is dit net chaos wat vreeslik lank neem om uit te sorteer.”

Daar is ’n maklike manier om dié kopseer te vermy, sê Martin.

Hy stel voor jy skep verskillende lêers (“folders”) op jou rekenaar en sorteer die foto’s volgens maande, jare, mense, plekke of gebeure.

“Onthou ook om jou foto’s altyd te kopieer en op meer as een eksterne hardeskyf te bêre om baie trane te vermy,” is sy raad.

Katinka Oosthuizen, wat op Instagram as Katinka die Kat bekendstaan, vertel sy neem “vrek baie foto’s” en deel hulle graag met haar 92 000 volgelinge.

“Ek probeer om minstens een keer per jaar die foto’s te sorteer en op my rekenaar te laai,” sê sy.

LAAT ’N APP JOU FOTO’S SORTEER

Foto: pexels.com/ picjumbo
Foto: pexels.com/ picjumbo

Die gebruik van ’n app soos Google Photos is “ ’n baie beter, vinniger en makliker opsie” as om foto’s bloot van jou selfoon op jou rekenaar te laai, meen Martin.

Wat Google Photos so uniek maak, is dat dit deur geografiese merkers (“geo-tagging”) en gesigsherkenning jou foto’s vir jou baie toeganklik maak, sê hy.

“Die app sorteer foto’s volgens mense se gesigte en volgens die plekke waar dit geneem is. As jy dus ’n spesifieke mens, plek of gebeurtenis onthou waarvan jy ’n foto wil opspoor, is dit baie eenvoudig om te kry.”

Die app sorteer ook self elke maand jou nuwe foto’s in verskeie afdelings. Om die app te kry, moet jy ’n e-posrekening by Gmail hê. Op die meeste Androidfone is dié app reeds kant en klaar geïnstalleer. So nie kan jy dit deur jou foon se appwinkel aflaai.

“Die lekker ding van Google Photos is dat jy gratis ’n onbeperkte aantal foto’s en video’s aanlyn op die cloud kan bêre as jy die app se opsie kies om die foto’s in ’n kleiner grootte te bêre,” sê Martin.

Maak jy van dié wolk gebruik, word jou foto’s aanlyn gebêre. Jy teken eenvoudig met jou Gmail-rekening in om toegang tot die foto’s van enige van jou toestelle te kry en om hulle daar af te laai.

Nog ’n voordeel is dat as jou selfoon of rekenaar verlore of gesteel sou raak jou foto’s steeds veilig op die wolk is.

Bêre jy foto’s daar in hul oorspronklike grootte, kry jy 15 GB se bêreruimte gratis. Of jy kan na 100 GB se bêreruimte opgradeer teen R30 per maand.

“Stel die app in om net oor Wi-Fi jou foto’s te bêre, anders sal dit al jou foon se data opvreet,’’ sê Martin.

Iphone se iCloud is soortgelyk aan Google Photos. Dié app is reeds op jou iPhone geïnstalleer en jy gebruik jou Apple-rekening om toegang tot dié funksie te kry. 

Ekstra bronne: NBC News, lifehack.org, The Guardian

Ander nuttige foto-apps
  • Remove Master Hierdie app maak die verwydering van foto’s pret met ’n aanslag soortgelyk aan dié van Tinder. Nadat jy die app gratis van jou foon se appwinkel afgelaai het, kan jy die foto’s een-een deurgaan en jou vinger na links vee om ’n foto te verwyder of na regs om dit te behou. Die volgende foto sal daarna outomaties opduik.
  • Remo Hierdie app skandeer die fotogalery op jou foon en lys al die duplikate en soortgelyke foto’s vir jou. Dit gee jou die geleentheid om maklik van die foto’s ontslae te raak en net een te behou. Daar is geen gevaar dat jy per ongeluk al jou foto’s sal verwyder nie, want Remo laat net toe dat jy die duplikate skrap. Dié app is gratis by Google Play en die Apple Store beskikbaar.
  • Gemini Photos Dié iPhone-app kies outomaties foto’s van swak gehalte en lys hulle vir jou sodat jy kan besluit of hulle verwyder moet word of nie. Dit sluit duplikate, skermgrepe en foto’s in wat onduidelik of swak belig is. Dié gratis app kies ook self die beste foto uit ’n versameling.
  • Bulk Delete Bulk Delete gee jou die opsie om foto’s wat in ’n sekere tydperk geneem is te skrap – of dit nou in die afgelope uur of maand is. Jy kan ook ouer foto’s skrap as jy daarvan ontslae wil raak saam met die herinnerings aan ’n eks wat jou hart gebreek het. Met dié app kan jy ook jou hele fotogalery blitsig verwyder nadat jy die foto’s op die wolk of op jou rekenaar gebêre het en van voor af met ’n vars fotogalery wil begin. Die app kos $1 (R17).

Ekstra bron: Businessinsider.com

Praktiese wenke

Raak ontslae van duplikate

Jy het net een foto van ’n sekere geleentheid of mens nodig. Verwyder enige duplikaatfoto’s. Talle apps (sien kassie hierbo) kan jou met dié takie help.

Verwyder swak foto’s

Nie al jou foto’s is meesterstukke nie, al dink jy dalk so. Party is dalk swak belig of jou duim wys moontlik in die raam.

Jy moet eerlik met jouself wees en enige swak foto’s verwyder. Helaas is jou foon se asblik ál plek waar van hulle hoort.

Hou jou lyf kurator

Dink aan jouself as ’n kurator by ’n museum. Kyk na foto’s van vorige seevakansies of van jou vriende se troue en besluit watter foto’s daardie tyd die beste weerspieël. Hou hulle en verwyder die res.

Deel foto’s met ander

Deel jou foto’s met geliefdes. Gaan sit saam met vriende en familielede en kyk jou foto’s deur.

Dit is ’n goeie manier om herinnerings aan sekere geleenthede op te roep, en ’n vars oog kan jou ook van oorbodige foto’s help ontslae raak.

Herhaal die stappe

’n Groot geheim is om hierdie hele proses te herhaal. Hoe meer jy van swak foto’s ontslae raak en duplikate verwyder, hoe meer gaan jy in beheer voel en hoe meer ruimte is daar om nog foto’s te bêre.

Ekstra bron: Lifehack.org

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.