Hulle is die vroue wat baie huishoudings op koers hou en tuis die harde werk doen waarby ’n mens dikwels nie self uitkom nie. Hulle maak kos, maak die huis skoon, doen die wasgoed. Dikwels versorg hulle ook die kinders terwyl ouers by die werk is.

Baie mense sal openlik erken: Sonder hul huiswerker sou hulle nie die mas kon opkom nie.  

Tog toon ’n skokkende nuwe verslag dat baie huiswerkers ondanks hul harde werk en toewyding skaamteloos uit­gebuit word. Lang ure, naweekwerk, min betaling en werkgewers wat arbeids­wette verontagsaam . . .

Dit is dikwels die werklikheid vir die mense wat in Suid-­Afrikaanse huise werk.

Dis moeilik om jou in te dink dat ­iemand net R110 vir agt uur se uitputtende skoonmaakwerk betaal word; tog is dit wat baie van die deelnemers aan ’n opname deur die skoonmaakagentskap SweepSouth verdien.

Vir hul jaarverslag oor betaling en werktoestande het die Suid-Afrikaanse agentskap onderhoude met 1 300 huiswerkers gevoer en bevind sowat 43% word net tussen R1 100 en R3 000 per maand betaal.

Dit is veel minder as die R275 tot R300 per dag wat die Suid-­Afrikaanse Huis-en-dienswerkers­vakbond (Sadsawu) aanbeveel.

Maar min betaling is nie die enigste probleem nie.

  • ’n Volle 85% van die respondente het gesê hulle kry nie betaalde verlof nie
  • 62% dat hulle nie by die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) geregistreer is nie
  • 61% dat hulle nie ’n indiens­nemingskontrak het nie.

Die peiling se uitslag is ’n weerspieëling van wat in baie huishoudings aangaan, meen SweepSouth se uitvoerende hoof, Aisha Pandor.

“Aan die een kant het ons gesien dat die regering baie in dié verband doen en wetgewing daarstel om die bedryf professioneler te maak, maar dis kommerwekkend in watter mate die werk­gewers dié riglyne nakom,” sê sy.

Aisha sê dit is tyd dat werkgewers wakker word oor hul wetlike verpligtings.

“Hierdie vereistes is daar om te sorg dat werkers kry wat hulle toekom,” sê sy.

Wat sê die wet?

Wetgewing stippel ’n aantal reëls uit om seker te maak huiswerkers word regverdig behandel. Dit sluit onder meer die opstel van ’n indiensnemingskontrak in, asook die uitreiking van betaalstrokies, verlof, om oortyd te beperk en vas te stel watter voordele gegee moet word.

Voorbeelde van kontrakte en betaalstrokies kan van die departement van ­arbeid se webtuiste afgelaai word by ­labour.gov.za.

Hoeveel moet jy betaal?

Suid-Afrika se minimum loon is van 1 Januarie 2019 van krag en na R15,00 per uur aangepas – ongeag van die area waar jy woon.

  • Die enigste uitsondering geld vir huiswerkers in groter stede (Area A) en die wat 27 gewone ure per week of minder werk.
  • In dié geval is die betaling hoër teen R16,03 per uur en tot 30 November 2019 van krag.

’n Regverdige salaris vir ’n agtuurdag is tussen R275 en R300, vervoer ingesluit, sê Sadsawu se hoofsekretaris, Myrtle Witbooi.

“Ons moet in ag neem wat dit ons huiswerkers kos om in die eerste plek by die werk te kom; soms kan dit tot R60 per dag wees,” sê sy.

Aftrekkings

Die wet vereis dat werkers ’n betaal­strokie moet kry wat hul volledige vergoeding en aftrekkings wys:

  • Toelaatbare aftrekkings: mediese versekering, spaargeld, pensioen- of voor­sorgfonds, vakbondledegeld, verblyf, lenings (aftrekkings vir verblyf en lenings mag nie meer as 10% van die totale loon beloop nie).
  • Nietoelaatbare aftrekkings: breekskade vir breekware of elektriese toestelle, skade­vergoeding (strykwerk), maaltye wat voorsien word, uniform en opleiding.

Werkure

Dit moenie meer wees nie as:

  • 45 uur per week
  • Nege uur per dag vir ’n vyfdagwerkweek
  • Agt uur per dag vir ’n sesdagwerkweek.

Oortyd

  • Huiswerkers mag nie meer as 10 uur per week oortyd werk nie.
  • ’n Ooreenkoms kan tussen beide partye ooreengekom word om dit na 15 uur per week te verhoog vir twee maande van die jaar.
  • ’n Huiswerker moenie meer as 12 uur op enige dag werk nie, oortyd ingesluit.
  • Oortyd moet teen een en ’n half keer die huiswerker se normale loon betaal word, of betaalde verlof kan in plaas daarvan gegee word.
  • As jy van ’n huiswerker vereis om op Sondae te werk, moet jy dubbel die daaglikse loon betaal.

Blaaskanse

Huiswerkers is ná elke vyf uur van werk op ’n middagetepouse van ’n uur geregtig. ’n Ooreenkoms kan aangegaan word om die pouse te verkort, maar nie tot minder as 30 minute nie.

As huiswerkers oortyd gewerk het, is hulle op ’n tweede pouse geregtig wat nie minder as 15 minute moet wees nie, en hulle moet vergoed word as dit nie geneem word nie.

Verlof
  • Openbare vakansiedae Om op dié dae te werk is vrywillig. Werkers moet dubbelbetaling kry of ’n dag se loon plus ’n volle dag verlof pleks van volbetaling (dubbelbetaling).
  • Jaarlikse verlof Voltydse werkers is op 21 werkdae betaalde verlof geregtig vir 12 maande se diens.
  • Siekteverlof Werkers kan tot ses weke siekteverlof in drie jaar van indiensneming kry. In die eerste ses maande van diens is hulle op een dag betaalde siekteverlof geregtig vir elke 26 dae gewerk.
  • Kraamverlof Huiswerkers is op minstens vier maande onbetaalde kraamverlof geregtig.
  • Gesinsverantwoordelikheidsverlof As ’n huiswerker al langer as vier maande by jou is en minstens vier dae per week werk, is hulle geregtig op drie dae betaalde gesinsverlof per jaar.

Afdanking of diensbeëindiging

Vir werkers wat ses maande of korter in diens is, geld ’n kennisgewingstydperk van minstens ’n week. Werkers wat tussen ses tot 12 maande werksaam is, moet twee weke kennis gegee word. Vir dié wat langer as ’n jaar in diens is, geld ’n tydperk vanvier weke of ’n maand. As jy ’n werker afdank weens ’n verandering in jou finansiële of gesinsituasie en nie vir hulle alternatiewe werk kry nie, moet jy ’n skeidingsloon betaal van een week se loon vir elke 12 maande van ononderbroke diens. 


Wat as werkgewers nie die wet gehoorsaam nie?

“Dit is wetlike vereistes; as jy versuim om daaraan te voldoen, oortree jy die wet,” sê Aisha.

Gloria Kente, ’n voormalige huiswerker wat nou ’n verteenwoordiger vir Sadsawu is, sê die vakbond hanteer elke week baie sake oor werkgewers wat hul werkers onregverdig behandel.

Sy sê huiswerkers wat nie genoeg betaal word nie of swak behandel word, moet Sadsawu kontak.

“As werkgewers nie wil betaal nie, gee ons hulle by die ­departement van arbeid aan,” sê sy.

Die departement het inspekteurs wat dié sake ondersoek, sê die hoofdirekteur vir arbeidsverhoudings by die departement van arbeid, Thembinkosi Mkalipi. Hulle het die mag om skuldige werk­gewers te beboet en hulle te dwing om hul werkers te vergoed.

Anders kan werkers ’n dispuut by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie registreer, wat die regsmag het om werkgewers te verplig om regverdig op te tree.

Registrasie by die WVF 

As ’n werker meer as 24 uur per maand in diens is, moet hul werkgewer hulle by die WVF registreer.

Werkloosheidsversekering bestaan uit ’n bydrae van 2% van die werknemer se totale maandelikse salaris: Die werknemer betaal 1% daarvan en die werkgewer die ander 1%.

Dis die werkgewer se verantwoordelikheid om die nodige aftrekking te doen en die volle bydrae aan die departement van arbeid oor te betaal. Werkgewers kan hul werker op ufiling.co.za/uif registreer en maandelikse betalings doen.

Die lot van huiswerkers
  • Volgens SweepSouth se peiling is 79% van huiswerkers die broodwinner in hul gesin, maar in die huidige ekonomiese klimaat kry hulle besonder swaar, want hul werkgewers kan of wil hulle nie betaal wat hulle toekom nie.
  • Baie werkers verdra dié uitbuiting omdat hulle nie die gevaar kan loop om hul werk te verloor nie.
  • Statistieke SA se kwartaallikse arbeidsmagpeiling wys sowat 15 000 huiswerkers het in die eerste vier maande van verlede jaar hul werk verloor.
  • Maar 45 000 nuwe huiswerkers is in die laaste kwartaal by die ekonomie gevoeg.

“Dié groot wisseling wys die ekonomiese onsekerheid waarmee werkers daagliks saamleef,” sê Aisha.

Ekstra bronne: labour.gov.za, blog.sweepsouth.com, parent24.com, businesstech.co.za
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.

  • Die oorspronklike artikel is ná aanlyn publikasie geredigeer om die korrekte feite te weerspieël.