Koeponboekie

Nie almal kry sakgeld of het los werkies om hul geliefde met ’n geskenk op Valentynsdag te bederf nie. En dis nie nodig om ’n klomp geld op peperduur geskenke te blaas nie. Dié idee is gratis én oulik.

Maak ’n koeponboekie met sowat 10 koepons in wat jou maat kan gebruik.

Op elke koepon skryf jy ’n prettige aktiwiteit. Dink roomysafspraak, ’n stappie in die natuur, ’n reeks op Netflix, of skryf ’n liedjie saam.

Maak nie saak watter koepon jou maat op ’n spesifieke tyd of dag uit die boekie haal en vir jou gee nie, jy moet dit dan vir hulle doen – selfs al is dit oor Zoom.

Ter illustrasie. Foto: Getty Images/Gallo Images
Ter illustrasie. Foto: Getty Images/Gallo Images

Tydkapsule

Die lewe is soms ’n gejaag, en voor jy jou oë uitvee, is jy ’n grootmens wat elke dag moet werk toe gaan. Onplesierig. Dit is hoekom dit belangrik is om jou lewe nou te geniet saam met jou maat.

Kry ’n houer – dalk ’n boks of blik – waarin jy en jou maat op Valentynsdag spesiale goedjies kan insit wat julle aan mekaar herinner.

Hoekom sit julle nie jul gunstelingmasker in die houer met dié dat jul liefde tydens die covid-19-pandemie geblom het nie? Begrawe die houer dan iewers op ’n plek waar julle dit oor ’n jaar of paar jaar kan opgrawe.

Dit is ’n oulike idee om vir elke item wat jy in die houer sit vir jou maat te verduidelik hoekom jy dit daarin sit en hoekom dit vir jou en jul verhouding spesiaal is.

Stroomvermaak

Kry die springmielies en jul gunstelingpeuselhappies reg vir ’n fliekdag. Maak julle tuis en gemaklik op ’n rusbank en geniet lekker flieks. Dit hoef nie net romkoms te wees nie.

As jy hou van aksie en jou maat van dramas of rillers, kan dit ook werk. Julle kan elkeen ’n fliek kies om te kyk; sit jul fone af en geniet die vermaak.

Showmax en Netflix het ’n klompie nuwe flieks vir kykgenot.

Besluit vooraf watter flieks julle gaan kyk sodat julle nie ure mors om flieks te kies nie.

As julle nie saam kan wees op Valentynsdag nie, kan julle die flieks apart kyk en op jul fone oor WhatsApp-video of Zoom dié afspraak saam geniet.

Ter illustrasie. Foto: Getty Images/Gallo Images
Ter illustrasie. Foto: Getty Images/Gallo Images

Pandemiepakkie

As julle mekaar nie op Valentynsdag kan sien nie en jy ’n paar rand het wat jy gespaar het, kan jy ’n “pandemiepakkie” maak en dit vir jou liefie stuur.

Vat ’n ou skoendoos, maak dit mooi op en pak goed daarin wat jou aan jou maat laat dink.

Dit kan enigiets van hul gunstelingsoetgoed, ’n inkleurboek vir jong volwassenes, ’n hangertjie met jul voorletters daarop gegraveer of biltong wees.

Of as jy dit ’n ware pandemiepakkie wil maak, kan jy ’n cool gesigmasker, een met hul gunstelingsuperheldkarakter se logo of met snaakse sêgoed daarop, en handreiniger daarby sit.

Ter illustrasie. Foto: Getty Images/Gallo Images
Ter illustrasie. Foto: Getty Images/Gallo Images

Bakpret

Jy onthou seker die groot piesangbroodbakmalligheid toe die inperking vroeg verlede jaar begin het. Byna elkeen het iemand geken wat piesangbrood gebak het of in die sosiale media gesien hoe mense piesangbrood by die huis bak.

As ’n paartjie kan julle nou kreatief in die kombuis raak, en dit hoef nie in een kombuis te wees nie.

En nee, dit hoef nie piesangbrood te wees nie. Kry ’n maklike resep en bak oor ’n video-oproep ietsie lekkers saam wat julle dan vir mekaar kan stuur.

As julle mekaar wel kan sien, tower iets soets en moois in die oond op. Julle kan daarna jul lekker gebak op Instagram deel of foto’s van jul lekkernye vir jul vriende stuur.

Ter illustrasie. Foto: Getty Images/Gallo Images
Ter illustrasie. Foto: Getty Images/Gallo Images

Sosialeafstand-skattejag

As julle nie daarmee gemaklik is om mekaar tydens die pandemie te sien nie, maar jy steeds iets avontuurlustigs vir jou maat wil doen, is ’n skattejag die perfekte keuse.

Kry eers toestemming of laat weet jou maat se ouers dat jy dalk vroegoggend in hul tuin of agterplaas dinge gaan wegsteek.

Steek dan op die oggend van Valentynsdag ’n paar soetgoed soos sjokolade iewers in die tuin of agterplaas van hul huis weg. Sit oulike boodskappies by elkeen wat jou maat kan soek wanneer jy weg is. Dit sal ’n heerlike verrassing wees.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe