As dit met jou geldsake beroerd gaan, is dit beter om nuwe lewe in jou eie klere te blaas as om winkel toe te gaan en nuwe klere op skuld te koop. Dit kan ’n goedkoop manier wees om dowwe materiaal ’n tweede kans te gee.

Hier is topwenke vir hoe jy dit met so min moontlik moeite kan doen.

LEES DIE ETIKET

Die meeste materiaalmengsels kan kleurstof vat – ook sintetiese stowwe soos rayon en nylonveselmengsels – maar natuurlike vesels soos katoen, linne, sy, wol en ramie is die maklikste om te herkleur.

Vesels wat nie kleurstof opneem nie, sluit in enigiets wat 100% akrielvesel, poliëster of asetaat is.

Die plastiek- en metaaldele van ’n kledingstuk (soos die ritssluiters en knope) gaan dalk nie die kleurstof optel nie; jy sal dit dalk moet vervang om by die nuwe kleur te pas.

Verkleur,klere
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

KIES JOU METODE

Kies ’n kleurstof op grond van jou kledingstuk se materiaal. Sekere kleurstowwe werk net op natuurlike of sintetiese vesels, terwyl ander op natuurlike én saamgestelde materiaal werk.

Jy kan kies om jou kledingstuk in ’n wasmasjien, ’n pot op die stoof, ’n emmer of ’n wasbak te kleur – dit sal afhang van die kleurstof se aanwysings en die soort kledingstuk.

Hitte help die kleurstof om die materiaal binne te dring; daarom is die stoofmetode die beste vir swart of donker kleurstowwe.

’n Wasmasjien is maklik en gerieflik vir groter kledingstukke, terwyl ’n emmer of die wasbak goed werk vir klein of delikate kledingstukke.

Elke kleurstofproduk is anders; maak dus seker jy volg die vervaardigers seaanwysings tot in die kleinste besonderhede.

JOU WERKSTASIE

Kry vooraf ’n vel plastiek of heelwat koerantpapier reg en hou kombuispapier byderhand sodat jy enige spatsels dadelik kan skoonmaak. Dra handskoene sodat jou hande nie vlek nie.

Verkleur,klere
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

NÁ DIE TYD

Haal die kledingstuk uit die kleurbad, spoel dit onder warm water uit en dan weer onder koue water tot die water wat afloop deurskynend is.

Dis ’n goeie idee om pas gekleurde kledingstukke vir twee tot drie wasse afsonderlik te was sodat daar nie enige oorblywende kleurstowwe deur jou ander klere opgeneem word nie.

SOUT EN ASYN

Jy kan ’n dieper, intenser kleur skep deur ’n koppie sout by die kleurbad te voeg – dit geld vir klere wat katoen, rayon, ramie of linne bevat; of ’n koppie witasyn wanneer jy nylon, sy of wol kleur.

SKOONMAAK

Begroot tyd om jou wasbak en emmers of wasmasjien onmiddellik skoon te maak om te verhoed dat dit gevlek word en jou hele klerekas dieselfde kleur maak.

Maak jou wasmasjien skoon deur ’n volle wassiklus op die hoogste watervlak te laat hardloop met warm water en ’n koppie bleikmiddel. 

BRONNE: LIVING.THEBUMP.COM, RITDYE. COM, MYBLUEPRINT.COM, REALSIMPLE.COM
ONS DOEN ONS BES OM GOEIE RAAD SAAM TE STEL, MAAR JY BEPROEF DIÉ WENKE OP JOU EIE RISIKO. HUISGENOOT AANVAAR NIE VERANTWOORDELIKHEID VIR ENIGE SKADE OF BESERING WAT DAARDEUR VEROORSAAK IS NIE.