MAAK HOPIES 

Hoe meer jy jou wasgoed sorteer, hoe veiliger is jou klere, sê die Amerikaanse leefstylghoeroe Martha Stewart. 

Benewens dit in hopies van ligte en donker kledingstukke te skei, beveel sy ook aan jy skei baie vuil of modderige klere van effens vuil klere en swaar of growwe materiale soos denim van deli­kater materiale. 

RITS TOE 

Sorg dat baadjies en langbroeke toegerits is, want los ritssluiters kan aan delikate klere haak en die glas van voorlaaiwasmasjiene krap. 

Maar knope moet altyd oop gelos word, want as jy byvoorbeeld ’n toeknoophemp met vasgemaakte knope was, kan die knope die knoopsgate beskadig of skeur. Let ook op mou- en kraagknope.  

BLEIK WARM 

Bleikmiddel is die doeltreffendste wanneer dit met warm water gebruik word. 

Kies die warm verstelling op die wasmasjien vir die beste verbleiking. 

Vermy bleikmiddel wanneer jy rekbare of Lycra-materiale was – al is dit wit – want dit vreet die rek weg.

WEG MET VLEKKE 

Jy dink dalk die beste manier om ’n vlek te behandel, is om dit met mening met wasmiddel te skrop. Maar dit kan die vlek laat versprei. 

Tik die wasmiddel eerder liggies van buite na binne aan die vlek. 

DIE KLEURTOETS 

Bekommer jy jou dat die kleur van jou nuwe rooi hemp sal versprei? Doen dié maklike toets voor jy met ’n bol wasgoed vol pienk kolle sit. 

“Maak ’n weggesteekte plek op die kledingstuk klam en klad dit met ’n wit lap om te sien of die kleursel vloei. As dit wel die geval is, was die item dan eerder afsonderlik tot die kleur ophou vloei,” beveel Martha aan. 

OEFENKLERE 

  • Was altyd jou oefendrag in koue water en met minder wasmiddel, want sterk sepe kan die delikate materiaal beskadig. Gebruik die helfte van die gewone hoeveelheid waspoeier of vloeistof en moenie versagmiddel byvoeg nie. Sorg dat jy die items apart van jou alledaagse klere was of oorweeg dit om jou sportbra’s en tenk­tops in ’n maassak of kussingsloop te sit. 
  • Wonder jy hoe jy jou sweterige oefendrag weer gaan laat vars ruik as jy minder wasmiddel gebruik? As jou klere sleg ruik ná ’n strawwe oefensessie, week dit in ’n mengsel van water en asyn voor jy dit was. Jy kan ook die asyn (of ’n paar eet­lepels koeksoda) in die was gooi. 
  • ’n Tuimeldroër kan jou gimklere laat skeeftrek of krimp. En omdat die materiaal gemaak is om vinnig droog te word wanneer jy sweet, word dit ook baie vinnig in die droër droog. As jy jou gimklere haastig moet droog kry, kies dan eerder ’n lae verstelling en moet dit nie vir die volle siklus in die tuimeldroër los nie. 

MATERIAALVERSAGMIDDEL: DIE MOENIES 

  • Almal hou van sagte handdoeke, maar het jy geweet vloeibare materiaalver­sagmiddel kan wollerige materiale minder absorberend maak? As jou handdoeke nie meer so goed afdroog nie, slaan die ver­sagmiddel met elke paar wasse oor. 
  • Mikrovesellappe is wonderlik vir stof vasvang en vloeistowwe opvee. Maar dit werk soms minder goed nadat jy dit met versagmiddel gewas het.
  • Kinders se slaapdrag moet vlambestand wees om die risiko te verminder dat dit aan die brand kan slaan. Onthou dat versagmiddel die materiaal van jou kinders se nag­klere en kamerjasse minder bestand teen vlamme maak. 
BRONNE: VERILYMAG.COM, GOODHOUSEKEEPING.COM, DAILYMAIL.CO.UK, RD.COM 
Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.
ONS DOEN ONS BES OM GOEIE RAAD SAAM TE STEL, MAAR JY PROBEER DIÉ WENKE OP JOU EIE RISIKO. HUISGENOOT AANVAAR NIE VERANTWOORDELIKHEID VIR ENIGE SKADE OF BESERING WAT DAARDEUR VEROORSAAK IS NIE