Jy het matriek, ’n graad of ’n diploma agter jou naam en nou is jy reg vir jou droomwerk. Al wat jy moet doen, is om ’n onderhoud by te woon, of hoe?

Wel, dis nie heeltemal so maklik nie. Die deurslaggewende faktor in jou loopbaan is jy – en as jy daardie droomwerk wil losslaan, moet jy eers sorg dat jy jouself beter leer ken.

Weet wat jy wil hê

Jou belangstellings of studierigting behoort jou ’n goeie idee te gee watter soort loopbaan jy wil volg. Doen navorsing oor daardie bedryf en praat met mense wat daarin werk om uit te vind of jy daarin sal tuis voel.

Sal jy byvoorbeeld ongereelde ure moet werk of baie moet reis? As dit jou nie geval nie, oorweeg ander opsies.

’n Werkgewer se gunstelingvraag in ’n onderhoud is: “Vertel my van jouself,” sê Brenda Bensted-Smith, uitvoerende hoof van Ad Talent-werwingspesialiste.

“Oefen jou antwoord daarop, want dit is belangrik. Beskryf jou kwalifikasies, werkgeskiedenis en vaardighede. Beklemtoon dié wat nodig is vir die betrekking waarvoor jy aansoek doen.”

Vra jou ook af waarom jy die werk wil hê. ’n Salaris is nodig, maar is dit finansiële sekuriteit, ’n behoefte om kreatief te wees of iets anders wat jou motiveer?

Dink na oor die ideale werkomgewing vir jou. Geniet jy dit om saam met ander te werk of werk jy liewer op jou eie?

Voor jy by ’n personeelagentskap aanklop, dink eers ernstig na oor presies waarna jy soek, sê Lorna O’Brien van O’Brien Recruitment in die Kaap.

Geniet jy dit om saam met ander te werk of werk jy liewer op jou eie?

“Ons kry te dikwels kandidate hier wat nie kan sê watter soort werk hulle soek, in watter bedryf hulle belangstel of wat hul eindelike loopbaandoelwit is nie. Hulle kan hulself nie aan ons ‘verkoop’ nie,” sê Lorna.

Hierdie kandidate sukkel dikwels om hul eie waarde te bepaal, terwyl hulle juis in ’n onderhoud moet kan beklemtoon hoe hulle waarde tot ’n onderneming kan byvoeg.

Dink heel eerste aan die groter geheel, die koers wat jy met jou lewe wil inslaan. Dit is jou lewensdoelwitte. Besluit dan op kleiner doelwitte wat jy van dag tot dag nastreef en as sporte dien op die leer na jou lewensdoelwitte.

As jy eers jou lewensdoelwitte bepaal het, kan jy hulle in kategorieë verdeel, soos jou loopbaan, geldsake en persoonlik lewe.

Maar soos Tamara Wolpert van Viv Gordon Placements in Kaapstad sê: “Soms verander ’n mens se doelwitte omdat die lewe sy loop neem. Wanneer die omstandighede verander, is dit belangrik om buigsaam te wees en nie te streng met jouself nie.”

As jy net wil werk om jou rekenings te betaal, wees eerlik daaroor teenoor jouself, maar vra jou ook af of dit al rede is.

“Geld is party mense se hoofmotivering, maar die meeste verlang ook loopbaanbevrediging; nie net ’n vet salaristjek nie,” sê Jack Molisani, skrywer van die boek Be the Captain of Your Career.

“Mense wat ’n loopbaan bloot vir finansiële gewin volg, is nie so suksesvol soos dié wat passievol is oor hul werk nie,” sê Lorna.

Haar raad aan werksoekers is: “Raak betrokke by iets wat jy geniet – en finansiële sukses sal volg.

“Jou 20’s is die tyd wanneer jy die boublokke vir jou loopbaan moet lê, die nodige vaardighede moet aanleer en ervaring opdoen wat nuttig vir jou en die werkgewer van jou keuse sal wees.”

’n Mens kan maklik vashaak by ’n betrekking met finansiële belonings, maar waarin jy nie noodwendig die vaardighede sal aanleer om in jou loopbaan te vorder nie, waarsku sy. Jy kan dan later in ’n situasie beland waarin jy eers “ ’n tree agtertoe moet gee om vorentoe te beweeg”.

Dis veel moeiliker wanneer jy ouer is en al die verantwoordelikhede van ’n volwassene het, soos om ’n gesin te onderhou.

Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images

Weet wat in jou steek

Nog ’n gewilde vraag in ’n onderhoud is: “Vertel my van jou sterk en swak punte.”

Dis moeilik om te beantwoord; jy sal jou huiswerk moet doen. Om jou sterk eienskappe te identifiseer, moet jy kyk watter vaardighede jy het.

Maak ’n lysie van:

  • Vaardighede op kennis gegrond. Dit is die vaardighede wat jy deur studie en ondervinding opgebou het, soos rekenaar- en taalvaardighede.
  • Universele vaardighede wat jy in enige werk kan gebruik, soos die vermoë om probleme op te los.
  • Persoonlike eienskappe, soos dat jy hard werk, goed in ’n span saamwerk en betroubaar is. Jy kan gerus ook ander se insette vra.

Doen ’n opname onder jou vriende, familie en kollegas met behulp van Google Forms (google “how to create a Google survey”).

Vra dat hulle ’n lys van jou vaardighede en vermoëns maak. Hulle kan dit anoniem doen. So nie kan jy vrae aan hulle e-pos. Hierdie inligting sal jou help bepaal wat jou sterk punte is en aan watter eienskappe jy moet slyp.

Hoe gemaak met die lastige vraag oor jou swakhede?

“Moenie sê: ‘Ek het niks’ nie, want niemand is volmaak nie,” sê Brenda.

“Jy kan ’n professionele swakheid noem, soos ’n gebrek aan ervaring (nie vermoë nie) of ’n swak eienskap in iets positiefs omskep en verduidelik hoe jy dit probeer verbeter.

“Jy kan byvoorbeeld sê: ‘Ek is geneig om alles self te wil doen, want ek voel niemand anders kan dit so goed doen nie, maar ek leer nou om te delegeer, met uitstekende resultate.’ ”

Die meeste mense is swak beoordelaars van hul eie vermoëns, meen Erich Dierdorff, ’n dosent aan die Driehaus-sakeskool aan die DePaul-universiteit in Chicago.

“Selfkennis behels om te verstaan wie ons is en hoe ons met ander ooreenstem of van hulle verskil,” skryf hy in ’n artikel in die Amerikaanse bestuurstydskrif Harvard Business Review.

Vir ’n geheelbeeld van onsself moet ons ook weet hoe ander ons beskou, meen Erich. Alexis Kitchen van Afrizan Personnel in Johannesburg stem saam.

“Een van ons geliefkoosde vrae in ’n onderhoud is: ‘Wat dink jy sal die referente op jou CV oor jou goeie eienskappe sê? En wat sal hulle as jou swak eienskappe beskou?’

“Dit vereis dat kandidate die terugvoer oorweeg wat hulle oor hul werk kry pleks van hul eie mening daaroor; dis dikwels ’n openbaring.”

Jy het selde of ooit net een vaardigheid vir ’n betrekking nodig.

“Werkgewers soek mense met ’n spektrum talente,” sê Jack. Daarom moet jy vaardighede ontwikkel wat jou aantreklik vir voornemende werkgewers sal maak.

Maak ’n kontrolelys

Nadat jy jou sterk en swak punte beoordeel het, vra jou af:

  • Watter vaardighede het ek nodig vir die werk wat ek graag wil hê?
  • Aan watter swak eienskappe moet ek dadelik aandag skenk?
  • Watter sterk punte moet ek verder verbeter?
  • Hoeveel tyd sal ek daaraan wy?

As jy nuwe vaardighede moet aanleer, vind uit of jy aanlyn kursusse kan volg of by ’n opleidingsinstansie moet inskryf.

Moet ook nie van die basiese vaardighede vergeet wat in die arbeidsmark vereis word nie. ’n Rybewys is byvoorbeeld in talle betrekkings ’n voorvereiste.

Rekenaarvaardighede is dikwels onontbeerlik, sê Tamara. Korrekte grammatika en spelling sal ook in jou guns tel.

Bou so kontakte op

’n Netwerk kontakte kan jou werk help kry. Gesprekke met hulle kan jou ook help besluit of die loopbaan wat jy in gedagte het die regte een vir jou is. Kenners gee hierdie wenke:

  • Google, LinkedIn en Facebook is ’n goeie vertrekpunt om met mense in dieselfde bedryf te skakel.
  • Maak ’n lys van kennisse met wie jy in die sosiale media kontak het, vriende en familie en besluit wie van hulle deel van jou beroepsnetwerk kan word, is Lorna O’Brien van O’Brien Recruitment se raad.
  • Onthou jy kan ook kontakte opbou terwyl jy jou kinders by die skool aflaai of mense by ’n braai ontmoet, sê sy.
  • Moenie op werkbyeenkomste net met mense gesels wat jy ken nie; maak ook kennis met vreemdelinge, sê Celeste Stewart, direkteur van Bold Curiosity, ’n opleidings-en-ontwikkelingsagentskap.

Ekstra Bronne: Careers24.com, VGP.co.za, Afrizan.co.za, OBR.co.za, Forbes.com, LiveCareer.com, Chicagotribune.com, CareerAddict.com, Gaurdian.co.uk, Harvard Business Review