Wanneer jy werk soek, is ’n goeie curriculum vitae (CV) noodsaaklik. Dis nie maklik om jou agtergrond en ervaring in ’n bladsy of drie saam te vat nie; hier’s hulp.

Hoekom is 'n CV belangrik? 

Tensy jy deur ’n persoonlike verwysing ’n onderhoud gekry het, is jou CV jou eerste kans om ’n potensiële werkgewer te beïndruk.

Dit kan bepaal of jy vir ’n onderhoud genooi sal word of nie.

Werwers en werkgewers sal jou CV gebruik om te besluit of jy ’n geskikte kandidaat is.

Baie aansoekers sal nie die kortlys vir ’n bepaalde pos haal nie, waarsku Celeste Stewart, direkteur van Bold Curiosity, ’n leer-en-ontwikkelingskonsultasiediens, “nie omdat hulle nie die regte kwalifikasies het nie, maar omdat hulle nie in hul CV wys wat alles in hulle steek nie. Dit is regtig die moeite werd om jou CV goed af te rond.”

Die ideale CV het vier afdelings: persoonlike besonderhede, kwalifikasies, loopbaangeskiedenis en referente, sê Lorna O’Brien van O’Brien Recruitment in Kaapstad.

“Dit moet maklik lees en die datums daarop moet korrek wees.”

Pas dit aan 

Voor jy om ’n pos aansoek doen, maak seker jy voldoen aan die vereistes en dat dit duidelik sal wees vir enigeen wat jou CV lees, sê Alexis.

Onthou, ’n CV is nie ’n een-grootte-pas-almal-dokument nie, maan Tamara.

Pas dit aan volgens die pos waarvoor jy aansoek doen. Die vaardighedeafdeling van jou CV kan nuttig hiervoor wees, voeg Alexis by. “Jy kan dit wysig om op ’n spesifieke rol betrekking te hê,” sê sy.

“Moenie oor jou ervaring jok nie, maar beklemtoon dit wat jou geskik maak vir die pos deur dit eerste te noem of daarop uit te brei,” is Tamara se raad.

Celeste stel voor dat jy jou CV aanpas met die oog op die posadvertensie waarin die vereistes, uitkomste en vaardighede genoem word. “Werk deur die lys en beklemtoon alles wat jy in jou huidige CV het wat daarvoor geskik is.”

Wat moet in? 

Jou kontakbesonderhede en sosialemediagebruikersname is ’n vereiste, en as jy in ’n kreatiewe bedryf werk soek, ’n skakel na jou portefeulje, sê Tamara.

Afgesien van jou kwalifikasies en werkondervinding en -vaardighede moet jy jou werk en persoonlike prestasies uitstippel en ook ander toepaslike aktiwiteite soos vrywillige of liefdadigheidswerk.

Jy kan redes verskaf waarom jy vorige poste verlaat het, maar moenie vorige werkgewers slegsê nie. As jy gedurig van werk verander, kan dit ’n slegte indruk skep, maar jy kan dit voorkom deur goeie redes vir die verandering te verstrek, sê Alexis.

“Gapings in die tydlyn van jou CV kan waarskuwingsligte laat flikker; daarom moet jy daaroor rekenskap gee. Sê liewer byvoorbeeld jy was met kraamverlof of het as ’n kelner gewerk as om glad niks te sê nie,” verduidelik sy.

Kies die mense na wie jy potensiële werkgewers vir inligting oor jou en jou vermoëns verwys versigtig. Sluit dié referente se kontakbesonderhede in.

“Die meeste voornemende werkgewers sal minstens twee referente vereis,” sê Alexis.

“As jy nuut in die arbeidsmark is, kan dit onderwysers of lektore wees.”

Wat moet uit?

Jy hoef nie jou huidige salarisbesonderhede in te sluit nie, tensy die posadvertensie dit vra, sê Tamara.

Hoe langer jy uit die skool is, hoe minder relevant is dit om skoolprestasies in te sluit. Inligting oor jou ouderdom, huwelikstatus en of jy kinders het, is ook volgens haar onnodig.

Hoe gemaak met referente? 

Moontlike werkgewers nader amper altyd die mense wat jy as referente aangegee het.

Werwers het agtergekom as jy dié mense vooraf laat weet dat hulle ’n oproep kan verwag, kry hulle meer gedetailleerde inligting gereed, sê Lorna.

Is dit raadsaam om potensiële werkgewers na jou huidige werkgewer te verwys?

Onthou, hulle sal dan weet jy soek werk, sê Tamara.

“Dit kan die situasie by jou huidige werkgewer ongemaklik maak. Verstrek liewer die name van mense wat weet jy soek ’n ander werk en vir wie jy in die verlede gewerk het,” is haar raad.

Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images

Wat van 'n dekbrief? 

Laat die posadvertensie jou lei: As dit ’n dekbrief vra, sluit dit in. So nie, skryf ’n kort boodskap in die e-pos waaraan jy jou CV heg.

Sê daarin om watter pos jy aansoek doen en hoekom jy meen jy daarvoor geskik is, sê Tamara.

Sorg dat jy die regte posbenaming in die onderwerpveld intik.

In jou dekbrief of e-pos moet jy generiese stellings vermy soos: ‘Ek is hardwerkend en kan waarde tot jul organisasie toevoeg,’ want dit sê niks oor jou nie,” waarsku Celeste.

Kyk liewer weer na die posadvertensie en verduidelik kortliks hoekom jy dink jy die beste kandidaat vir die pos is.

“Die doel van die dekbrief en CV is om die werwer te oortuig jy moet oorweeg word vir die volgende fase van die proses, die onderhoud," sê Celeste.

Skryf altyd ’n nuwe dekbrief vir elke pos waarvoor jy aansoek doen.

“Moenie dieselfde brief keer op keer kopieer en plak nie,” sê Tamara.

Die gevaar bestaan dat jy die verkeerde brief stuur of dit aan die verkeerde mens rig. Sê iets daarin oor die maatskappy waarvoor jy wil werk – die werwer kan dan sien jy het navorsing gedoen en stel in die spesifieke pos belang; nie sommer in enige werk nie.

Vermy die vyf vernaamste flaters wat mense maak wanneer hulle ’n CV saamstel 

1. Dis te lank

Dink aan die mense wat deur stapels aansoeke moet sif; hou dit kort en kragtig.

“CV’s wat bladsye lank en woordryk is, is taboe,” sê die Kaapse werwingskenner Tamara Wolpert.

“Die mens wat jou CV ontvang, kry waarskynlik talle CV’s – soms honderde – en wil so vinnig moontlik by die tersaaklike inligting uitkom.”

Sorg dat jou CV nie langer as drie bladsye is nie – hoe minder werkervaring jy het, hoe korter moet dit wees.

2. Dis swak versorg

Gaan jou spelling en grammatika na of vra iemand om dit vir jou te doen.

“Spel- en taalfoute is onaanvaarbaar,” sê die Johannesburgse werwingskenner Alexis Kitchen.

“(Sulke foute) sê vir werkgewers baie oor jou kommunikasievaardighede en ook jou noukeurigheid.”

3. Dis te ingewikkeld

’n Eenvoudige CV wat maklik lees en goed uiteengesit is, is die beste soort,” sê Tamara.

“CV’s wat van grafika wemel, doen soms afbreuk aan die inligting.”

Eenvoud gee die deurslag, sê sy. Die uitleg van jou CV en die korrekte gebruik van dokumentformatering wys potensiële werkgewers jy is rekenaargeletterd, voeg Alexis by.

Wat die formaat betref, moet jy met jou jongste werkondervinding begin en daarvandaan terugwerk.

Sluit datums op jou CV in, soos wanneer jy jou skoolloopbaan voltooi en klaar studeer het en van wanneer tot wanneer jy waar gewerk het, want werknemers sal wil sien hoe lank jy in elke pos was, sê Tamara.

Lys ook onder jou vorige poste watter pligte jy gehad het. “Poste met dieselfde titel kan verskillende verantwoordelikhede (by verskillende ondernemings) behels; dus is dit belangrik om dit te lys,” sê sy.

4. Dit bevat onwaarhede

Moet nooit die waarheid oor jou vorige poste of kwalifikasies verdraai of aandik nie.

“Werwing behels dat verwysings deeglik nagegaan word; daarom sal enige onwaarhede waarskynlik ontbloot word,” waarsku Alexis.

Selfs al gebeur dit nie, is dit gevaarlik om jou vermoëns te oordryf.

Dit kan nare gevolge inhou wanneer jy in ’n nuwe pos gevra word om jou slag te wys.

“Dit kan met die intrapslag wantroue beteken en ’n nuwe werkverhouding dadelik versuur,” waarsku Alexis.

Tamara waarsku teen regsgevolge as jy oneerlik was in jou CV, want dié leuens kan as bedrog beskou word.