Kenners is dit eens dat jou bestuurder moet weet h
Kenners is dit eens dat jou bestuurder moet weet hoe hard jy werk, selfs al werk jy van die huis af. Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images.

Devan Moonsamy, die uitvoerende hoof van die ICHAF Opleidingsinstituut, sê in vandag se tye is harde werk nie meer genoeg nie. In vandag se tye moet jy seker maak jou bestuurder wéét jy werk hard.

“Om te spog is dalk nie jou manier van doen nie, en jy is bang dit kom oor as verwaand. Maar die enigste manier om vorentoe te beweeg in jou loopbaan, is om sigbaar te wees. Ons kan nie meer in die skadu’s wegkruip en toelaat dat ander krediet vir ons werk vat nie,” sê Devan.

Penny Holburn, ’n loopbaanafrigter van Johannesburg, sê om vorentoe te gaan in jou loopbaan is dit nodig om sigbaar te wees vir die beduidende waarde wat jy tot die onderneming toevoeg. Dit beteken dat dit wat jy lewer, die onderneming moet  help om suksesvol te wees. En jy moet dit wat jy lewer, aan jou baas en belanghebbendes in die maatskappy kommunikeer.

Adviesartikel
Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images.

Jonti Mayer, ’n sake- en lewensafrigter van Johannesburg, is dit eens met Penny. Hy sê dit gaan nie daaroor om te spog oor jou harde werk nie, maar eerder om te wys wat die waarde is wat jy tot die onderneming toevoeg wanneer dit nie duidelik is nie.

“Jou baas wil hê jy moet waarde toevoeg. Die meeste van die tyd sal hy of sy hopelik die waarde wat jy toevoeg kan sien. Maar as hulle nie dit nie sien nie, moet jy seker maak hulle sien dit wel,” sê Jonti. 

“Jy sal uiteindelik raakgesien word vir werk wat jy gedoen het, veral as dit goed is. As jy oor ’n tydperk konsekwent briljante werk gedoen het, en jou baas sien dit nie raak nie, kry ’n nuwe baas. Want dit is sieldodend om sulke goeie werk te doen sonder om die erkenning daarvoor te kry.”

Kim Everitt, ’n neuro-afrigter van die Neurocoach Instituut in Centurion, sê die landskap van werk het die laaste paar jaar verander. 

“Om die werk te doen en die resultate te kry, is ’n gegewe. Ons word nou gemeet aan hoe ons ekstra bydra tot wat ons posbeskrywing is,” sê Kim.

“Dit beteken nie noodwendig om  harder te werk nie, maar slimmer. Vra jouself af bestuur jy jouself doeltreffend? Toon jy hoë vlakke van emosionele intelligensie en dink jy aan die groter prentjie?”

Adviesartikel
Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images.

Volgens Devan maak die feit dat baie mense van die huis af werk, dit nog moeiliker om seker te maak jy kry erkenning vir jou harde werk as voorheen toe jy onder jou baas se neus gesit het. 

Penny Holburn, ’n loopbaanafrigter van Johannesburg sê ’n mens moet versigtig wees dat as jy van die huis af werk, dit nie ’n geval word van “out of sight, out of mind” nie. 

“Wanneer jy van die huis af werk, is dit jou uitsette wat belangrik is, nie noodwendig die tyd wat jy by jou lessenaar sit nie. Maak ook seker jy sê vir jou baas waaraan jy werk en hoe dit gaan as jy van die huis af werk,” sê Penny.

“Ons moet wegbeweeg van die gedagtegang dat harde werk vanself spreek, want dit is nie noodwendig meer die waarheid nie,” sê Devan. 

“Die individu wat die harde werk doen, moet self die praatwerk doen. 

“As jy sien jou harde werk word altyd oorskadu en jy kry nie enige erkenning nie, is dit dalk tyd vir ’n nuwe benadering.”

Judith Matthis, ’n loopbaanafrigter van Johannesburg, sê as jy voel jy word nie raakgesien nie, kommunikeer meer, sit strukture in plek waar jy jou insette kan deel – soos gereelde terugvoervergaderings – en plaas jouself in jou baas se skoene dat jy weet dit wat jy deel, is bruikbaar vir jou baas en die onderneming.

Hier is wenke om te probeer om erkenning vir jou harde werk te kry

  • Volgens Devan is dit belangrik om jou prestasies met ander te deel. Dit kan lei tot ’n gesprek oor jou harde werk. Om jou prestasies met ander te deel beteken nie jy spog nie. Dit wys net die vordering wat jy met jou werk gemaak het. Judith sê dit is ook belangrik om lesse wat jy geleer het, met jou kollegas te deel.
  • Devan sê jy moet krediet gee vir ander se werk. Een manier vir jou om raakgesien te word vir jou harde werk is om aan ander se werk erkenning te gee. Om terugvoer oor werk te gee, sal lei tot ’n positiewe kultuur in die span en maak dat hulle mekaar aanmoedig. Dit kan weer maak dat jou spanlede vir jou krediet gee.
  • Hou jou baas op hoogte met jou vordering, sê Devan. “Doen wat jou baas vra op tyd. Sê vir jou baas wat jy al gedoen het. As jy die ekstra myl kan gaan, vra jou baas of hulle dit wil hê. En vra jou baas of jou werk op standard is,” sê Jonti. Op dié manier kan jy verseker wees dat jou produktiwiteit in vergaderings geprys sal word.
  • Gryp nuwe geleenthede aan. Nog ’n manier om raakgesien te word, is om meer take aan te vat wat uitdagend is. Jou span gaan beïndruk wees, maar ook gemotiveerd om net so hard soos jy te werk. Daarby sal die bestuur sien jy doen altyd meer as wat van jou verwag word.
  • Vind uit wat is jou baas se grootste behoefte en spreek dit aan, sê Kim. “Is dit sekerheid, betekenis, liefde, konneksie of verskeidenheid? As jy sy grootste behoefte aanspreek, sal dit jou help om meer sigbaar te wees.”
Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe.