Maar die dood is ’n werklikheid wat troeteldiereienaars in die een of ander stadium moet trotseer. Dit verg moeilike besluite wat dadelik geneem moet word, al is jy hartseer.

Die eerste prioriteit is om jou troeteldier se oorskot te hanteer.

Jou plaaslike veearts sal jou kan raad gee, of jy kan ’n troeteldierverassingsonderneming in jou gebied kontak. Dié ondernemings bied gewoonlik ook ’n tuisafhaaldiens.

Verassing

Vir menige diereliefhebber is die dood van ’n troeteldier soos ’n sterfte in die familie – dis ’n tyd van groot hartseer en rou. Om die dier se as op ’n gunstelingplek te strooi is ’n mooi manier om tot siens te sê aan ’n lojale vriend. Dis ook moontlik om ’n troeteldier in ’n spesiale begraafplaas ter ruste te lê. Foto: Gallo Images/Getty Images

Dit is die algemeenste en praktiesste oplossing. Daar is twee soorte. 

  • Individuele verassing met die teruggee van as: In dié geval word die dier individueel veras en sy as in ’n spesiale kissie, kruik of glasfles aan die eienaar terugbesorg. Die prys wissel van R500 tot R2 000 na gelang van die gewig van die troeteldier en of hy afgehaal moet word, sê Karin Mathews, bestuurder van R.I.Pets, ’n troeteldierkrematoriumdiens in die Wes-Kaap. 
    “Ná ’n individuele verassing maak ons seker ons kliënte kry ’n sertifikaat wat die verassingsdatum en egtheid van die troeteldier se as bevestig om enige twyfel te verlig,” sê sy, en voeg by enige troeteldier kan veras word. “Ons het al honde, katte, voëls, rotte, slange, varkies en selfs ’n paar vlakvarke gehad.” 
  • Standaard- of gemeenskaplike verassing: Dié diens word gebied aan eienaars wat nie die oorskot van hul troeteldiere wil hou nie. Dit behels dat ’n aantal troeteldiere terselfdertyd veras word en kos sowat R450 per troeteldier.

Wat van begrawe?

Terwyl party mense dalk hul geliefde troeteldiere by die huis wil begrawe, is dit eintlik nie wettig nie.

“Daar is verordenings wat die begrawe van diere in ­stedelike gebiede verbied weens higiënekwessies en besmetting,” sê Jessica ­Midlane van Legacy Pet Crematorium in Johannesburg. 

“Die dier word byvoorbeeld dalk nie diep genoeg begrawe nie, of ander diere kan dit opgrawe. Dit kan ook ’n naby­geleë waterbron besmet, veral as die genadedoodsmiddel in die liggaam teenwoordig is.”

Party stede het troeteldierbegraafplase, maar dit word bestuur volgens streng regulasies wat plaaslike owerhede instel. “Ons het ’n troeteldierbegraafplaas waar die as begrawe mag word, asook ’n gedenkmuur waar as saam met jou troeteldier se gunstelingspeelding of ’n foto gehou kan word,” sê Jessica.

Verwerking van verdriet

Die verlies van ’n gekoesterde troeteldier kan jou verslae en hartseer laat voel.

Baie verassingsondernemings bied berading om jou die dood te help hanteer. Dit is ook belangrik om daarop te let dat jy jou ander troeteldiere se normale roetine moet handhaaf, want hulle kan ook beangs en verward oor die verlies van hul maat voel.