Google jouself en wat is die eerste ding wat jy sien? Elke liewe sosialemediaplatform waarop jy al ooit ingeteken het. En as jy deesdae vir ’n nuwe pos aansoek doen of op ’n eerste afspraak gaan, sal jou profielblad straks die eerste plek wees waar jou nuwe baas of toekomstige maat sal kyk.

Die virtuele wêreld van Facebook, Instagram, LinkedIn en Twitter is nou die plek waar jy eerste indrukke maak. Hoe kan jy jou sosialemediarekeninge ’n bietjie skop gee en jou beste kant wys? Hier’s raad.

LinkedIn

Soek jy werk? Jou volgende groot werkgeleentheid is waarskynlik op LinkedIn. Maar met meer as ’n halfmiljard gebruikers wat teen jou meeding, hoe sorg jy dat jy bo die res uitstaan?

Topwenke

  • Wees deeglik. LinkedIn het ’n oorvloed afdelings waar jy aspekte van jou loopbaan kan intik – benut die ruimte tot jou beskikking. Hoe meer besonderhede, hoe beter.
  • Lys vorige ervaring. Benewens jou huidige pos, voeg minstens twee vorige poste by sowel as watter vereistes dit aan jou gestel het.
  • Kry bevestigings en aanbevelings. Vra voormalige en huidige kollegas om jou vaardighede te bevestig of stuur vir hulle ’n versoek vir aanbeveling (Recommendation Request). As dit vir jou te voor op die wa voel, por hulle aan deur een van die vaardighede wat op hul profiel gelys is te bevestig of skryf vir hulle ’n kort aanbeveling. Die een hand was die ander . . .
  • Netwerk met ander. Volg ’n maatskappy waar jy graag wil werk om op die hoogte te bly van die poste wat hulle dalk plaas. Delf selfs dieper en soek na LinkedIn-gebruikers wat by daardie onderneming werk, veral dié in die menslikehulpbronneafdeling. Nooi hulle om met jou te verbind of stuur ’n boodskap waarin jy jou voorstel.

Twitter

Soos ons almal teen dié tyd weet, is dié platform net die plek vir jou as jy graag jou vinger op die pols hou, skerpsinnig is en jou sê in 280 karakters of minder kan sê. Maar dit is nie maklik om op dié blitsvinnige platform vir jou ’n plekkie oop te skrop nie. Kry dit so reg:

Topwenke

  • Twiet ’n paar keer per dag. Twitter is interaktiewer as enige ander sosialemedianetwerk en hier gebeur dinge teen ’n dolle vaart. Jy behoort drie tot sewe keer per dag te twiet vir optimale interaksie en om bo die res uit te staan, volgens data van die bemarkingsmaatskappy CoSchedule.
  • Wees vroeg of laat. Die beste tyd om te twiet is vroeg- of laatmiddag op weekdae, volgens navorsing deur die bestuursmaatskappy Sprout Social.
  • Gebruik hutswoorde. Twiets met minstens een hutswoord kry sowat 12,6% meer reaksie as dié daarsonder, het Sprout Media bevind.
  • Haak by, hertwiet en antwoord. Die byhaak van invloedryke gebruikers en om ander Twittergebruikers se twiets te hertwiet en hul twiets te beantwoord sal hulle weer na jou profiel toe aantrek. En as hulle jou plasing hertwiet, is dit ekstra blootstelling vir jou.

Facebook

Jy gebruik Facebook waarskynlik as ’n manier om met vriende en familie in verbinding te bly. Maar nes Twitter en Instagram is dié platform ’n goeie plek om ’n gevolg op te bou. Die beste deel? Al die mense wat jou ken en van jou hou, is reeds daar.

Topwenke

  • Skep ’n blad pleks van ’n profiel. ’n Facebookblad teenoor ’n profiel is ’n moet vir sakeondernemings of aspirantbeïnvloeders. Om een te skep, klik op Create > Page regs boaan jou Facebookvenster en volg die stappe. Jy wil ’n blad hê wat so volledig moontlik is; daarom moet jy seker maak jy het ’n profielfoto, dekfoto en gedetailleerde About Me-afdeling.
  • Gebruik hutswoorde. Nes op Twitter en Instagram word hutswoorde of -frases ook op Facebook klikbaar. Post Planner, ’n webtuiste wat die sosialemediabemarkingsaktiwiteite van ondernemings help verbeter, het bevind dat terwyl Instagram met 11 hutswoorde die beste werk, Facebook net een of twee nodig het om die hoogste vlak van interaksie te bereik.
  • Bevorder plasings deur advertensies. As jy ernstig daaroor is om jou inhoud soveel moontlik blootstelling te gee, byvoorbeeld as jy jou eie onderneming van die huis af begin, oorweeg dit gerus om Facebook se geteikendeadvertensiestelsel te gebruik. Jy kan kies presies wat jy wil bereik (Page Post Engagements, Page Likes of Clicks to Website) en wie jy wil hê jou plasing moet sien. Die gehoor word dan bepaal met ’n lys opsies soos ouderdom, geslag, plek en selfs opvoeding. Die prys van jou advertensie hang af van hoe lank jy wil hê dit moet wys en hoe groot jy die reikwydte wil hê.

Instagram

Gegewe dat sowat 200 miljoen mense elke dag op Instagram aanteken, is hier ’n groot poel van potensiële volgelinge wat jy kan bereik – maar net as jy weet hoe om by hulle uit te kom.

Topwenke

  • Dink aan jou profiel as ’n handelsnaam. Sluit ’n prettige, beskrywende biografie, profielfoto en behoorlike gebruikersnaam in. ’n Instagram Story Highlight (sien onder) wat mense meer oor jou vertel, is ’n wonderlike manier om jou bekend te stel.
  • Beplan jou toevoer. Instagram gaan daaroor om inhoud te skep wat die oog streel. Pleks van sommerso ’n spul kiekies met allerhande filters te plaas, hou die gevoel van jou profiel konsekwent om dit aanlokliker te maak.
  • Gebruik Stories. Gee jou volgelinge ’n smakie van jou persoonlikheid met Instagram se prettige Stories-kenmerk. Stories verskyn heel boaan jou volgelinge se toevoer; daarom sal hulle waarskynlik dit pleks van die eintlike fotoplasings sien. Volgens gerugte bevoordeel Instagram se raaiselagtige algoritme wat bepaal hoeveel mense jou inhoud sien gebruikers wat al hul Stories-kenmerke gebruik. Speel dus rond met plekke, hutswoorde, gesigfilters, opnames, vrae en nog meer.
  • Beklemtoon dit. Stories verdwyn ná 24 uur, maar ’n nuwe kenmerk, Highlight, laat jou dit op jou profiel bêre. Klik op Highlight regs onderaan enige van jou Stories en volg die aanwysings. Al jou hoogtepunttoevoere sal onder jou biografie aan die bokant van jou profiel sigbaar wees.
Storietyd
  • Instagram en Facebook bied albei ’n Stories-funksie, maar wat is die verskil tussen die twee? Sedert die bekendstelling daarvan in Maart verlede jaar het Facebook se weergawe ’n taamlik stadige begin gehad vergeleke met Instagram se uiters gewilde Stories, wat in Augustus 2016 bekendgestel is.
  • Op albei platforms bly stories 24 uur en kan jy dit met al jou vriende tegelyk, ’n uitgesoekte groep of ’n spesifieke mens deel. Stories op Instagram kan ook op Facebook gedeel word, maar nie andersom nie.
  • Facebook Stories het ’n paar prettige kenmerke, byvoorbeeld maskers, rame en interaktiewe filters (byvoorbeeld vallende sneeu), wat by jou foto’s, grepe of regstreekse video’s gevoeg kan word.
  • Instagram Stories bied effens meer tierlantyntjies. Jy kan jou kiekies en video’s met plakkers, emoji’s of selfs GIF’s opkikker.
  • Jy kan ook vrae vra, ’n opname byvoeg of jou aanhangers ’n foto laat beoordeel – alles ’n goeie manier om interaksie op jou Stories aan te moedig.

Bronne: Sproutsocial.com, Later.com, Blog.hubspot.com, Bloggingwizard.com, Wired.com