'n Inkopietog op soek na nuwe klere of skoene is vir baie mense ’n heerlike bederf. Maar dit kan duur raak. Deur jou klere op te pas kan dit langer hou en jou mettertyd baie geld bespaar.

Hier is wenke om jou klere in ’n goeie toestand te hou.

REG WEGGEBÊRE

  • Draadhangers kan jou klere uitrek; vervang dit dus met plastiek- of opgestopte hangers. Houthangers is ook ’n goeie keuse en is die beste om ’n kledingstuk se vorm te behou, kreukels te versag en vog weg van die materiaal te trek.
  • Hou ’n laventelsakkie in jou kas vir ’n vars reuk – dit sal ook silwermotte en ander goggas weghou.
  • Hou jou skoene in ’n puik toestand deur dit met blaaie uit ou tydskrifte te stop sodat dit hul vorm behou. Jy kan dit ook in kussing- slope bêre om dit stofvry en droog te hou.
hanger
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

WASGOEDWENKE

  • As jy ’n kledingstuk te gereeld was, kan dit die vorm en kleur beïnvloed. Was gevlekte klere met die hand met ’n klein bietjie water en ’n druppel wasmiddel. Hang dit daarna buite in vars lug en natuurlike lig. Dit help om bakterieë en reuke te verminder.
  • Lugdroging is die beste vir klere – veral vir delikate items. Hang wit of ligte kleure in die son om dit helder te hou en donker klere in die skaduwee om verbleiking te verminder.
  • Probeer om jou wasmiddel te halveer en voeg ’n halwe koppie koeksoda daarby. Te veel wasmiddel kan die kleur en veselstof van klere stroop – en water wat te warm is, kan dieselfde doen. Louwarmwater behoort genoeg te wees om klere skoon te kry en vars te laat ruik.
  • Voeg ’n halwe koppie swart koffie of tee by die spoelwater om donker klere te vernuwe.

VERF KNOPE 

  • Verhoed dat knope afval deur met deursig­tige naellak oor die garing te verf. Wie het in elk geval tyd om ’n knoop vas te werk?
knoop
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

NOG TRUUKS

  • Blaas nuwe asem in kledingstukke en verfris jou klerekas deur ou broeke te kleur of bleik of jeans in ’n kortbroek te omskep. Jy kan selfs vir jou ’n oulike denimsak of beursie van ou jeans maak.
  • Hou ’n vlekverwyderingspen in jou handsak – dis nuttig om lastige koffieblapse by die werk of ’n rooiwynvlek tydens ’n aandjie uit te verwyder.
  • Pleks van stryk, hang jou klere in die badkamer terwyl jy stort – die stoom verminder kreukels en jy hoef minder tyd by die strykplank deur te bring.
  • Wend parfuum en haarsproei aan voor jy aantrek om te verhoed dat die alkohol daarin jou klere verwoes. 
jeans
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

BRONNE: SHEKNOWS.COM, DAILYMAIL.COM, RD.COM, GOODONYOU.ECO; ONS DOEN ONS BES OM GOEIE RAAD SAAM TE STEL, MAAR JY BEPROEF DIÉ WENKE OP JOU EIE RISIKO. HUISGENOOT AANVAAR NIE VERANTWOORDELIKHEID VIR ENIGE SKADE OF BESERING WAT DAARDEUR VEROORSAAK IS NIE.