Maar Google staan kop en skouers bo die res uit.
Miljoene mense gebruik Google se soekfunksie vir alles van skooltake en navorsing tot vermaak of om 'n restaurant naby jou op te spoor
Nogtans ontsluit baie mense nie Google se volle potensiaal nie. Hier is 'n paar bruikbare truuks vir jou volgende Google-soektog om jou die beste resultate te help kry.
1. Gebruik die oortjies
Aan die bokant van die soektogblad is 'n aantal oortjies (tabs). Gewoonlik sien jy Web, Image, News, en More.
Die oortjies kan jou help om te definieer waarvoor jy soek.
As jy op soek is na foto’s, klik op Images. En as jy 'n onlangse nuusartikel wil opspoor, gebruik die News-oortjie. Jy kan so baie tyd bespaar.
2. Gebruik aanhalings om na 'n presiese frase te soek
Gebruik aanhalingstekens om die raaiwerk vir Google te verminder.
As jy jou soekparameters in aanhalingstekens plaas, sê dit vir die soekenjin om die hele frase te soek.
As jy byvoorbeeld die drie woorde “plastic free shops” sonder aanhalingstekens intik, sal die soekenjin na inhoud soek wat die drie woorde in enige volgorde bevat. Maar wanneer jy aanhalingstekens gebruik ("plastic free shops"), soek Google vir die presies frase, nes jy dit ingetik het.
So kan jy spesifieke inligting opspoor wat dalk andersins onder klomp ander inhoud begrawe sou lê.
3. Gebruik 'n sterretjie waar jy onseker is
Hier is 'n minder bekende truuk: As jy na 'n frase in aanhalingstekens soek met 'n sterretjie wat 'n woord vervang, sal alle variasies van die frase gesoek word - met verskillende woorde in die plek van die sterretjie. Die sterretjie is dus 'n plekhouer vir waar jou geheue jou in die steek laat of jy onseker is.
Dit is veral nuttig as jy probeer om die lirieke van ’n liedjie te kry, maar nie die hele frase onthou nie (byvoorbeeld “imagine all the * living for today”) of selfs as jy probeer om al die dele van ’n gesegde te kry (byvoorbeeld “* is thicker than water”).
4. Deursoek sekere webtuistes vir sleutelwoorde
Die site:-funksie dwing die Google-enjin om net op 'n spesifieke webtuiste te soek. As jy dus "site: Huisgenoot.com malvapoeding" intik (sonder die aanhalingstekens), sal jy spesifiek malvapoedingresepte op Huisgenoot se webtuiste kry.
5. Beperk jou soektog tot 'n spesifieke tydperk
Soms sal jou soekresultate ouer artikels oor 'n gegewe onderwerp oplewer wat nog nie bygewerk is om onlangse veranderings in te sluit nie.
As jy dié probleem ervaar, kan jy 'n datumbeperking op die resultate plaas deur op die Tools-knoppie onder Google se soekbalk te klik. Nog 'n balk maak dan onder die soekbalk oop, en jy klik op "Anytime" om nog opsies te sien en te kies.
Jy kan jou resultate beperk tot die vorige week, maand, jaar of 'n aangepaste tydraamwerk.
Bronne: businessinsider.co.za, lifehack.org, time.org, nytimes.com
Teken in en kry onbeperkte toegang tot 11 Afrikaanse tydskrifte en 35 koerante. Alles op een plek.
KIES JOU PAKKET