Die vrees om sonder jou selfoon te wees is deesdae ’n aaklige trend onder baie jong mense. Jy dink jy gaan ’n paar video’s op TikTok kyk voor jy slaap. As jy jou weer kom kry, is dit byna tweeuur die volgende oggend en jou alarm is vir vyfuur gestel.

Hier is vyf maklike dinge wat jy kan doen om te keer dat jy met rooi oë op die skoolbanke sit.

Fokus

Stel ’n alarm op jou selfoon vir ’n sekere tyd wanneer jy dit saans in jou laai of kas moet wegpak tot die volgende oggend. En hou daarby.

Sommige selfone het selfs ’n “focus mode” wat jy kan stel om enige afleidings, soos boodskapkennisgewings op jou selfoon, te vermy en op jou lewe te kan fokus.

App-detoks

Verwyder apps soos Facebook, Twitter, TikTok en Instagram van jou selfoon en loer net na jou sosiale media op jou rekenaar.

Ter illustrasie. Foto: Getty Images/ Gallo Images
Ter illustrasie. Foto: Getty Images/ Gallo Images

Probeer iets nuuts

Kry iets anders om te doen vir daardie tye wanneer jy voel jy wil net ure op jou selfoon se skerm deurbring.

Gaan sit en gesels ’n bietjie by jou ouers of broers en susters of speel met jou troeteldiere. Doen joga of oefeninge tuis of mediteer om jou kop skoon te kry.

Grys is goed vir jou

Stel saans jou foon op die “wind down”-opsie as jy ’n Android het.

Vir iPhones kan jy na “settings” gaan, kies dan Accessibility > Display & Text Size > Color Filters en kies die Grayscale-opsie.

Dit verander jou foon se helder kleure in skakerings van rustige grys.

In studies is bevind dat studente minder geneig is om na hul foon te kyk as hul foon se skerm grys en vervelig lyk.

Ter illustrasie. Foto: Getty Images
Ter illustrasie. Foto: Getty Images

Kry ’n outydse alarm

Baie van ons gebruik ons selfoon as ’n oggendalarm, maar dan begin ons vingers jeuk as daai foon langs jou op die bedkassie vir jou lê en loer.

Sit jou selfoon saans weg of sit dit in ’n ander vertrek en steek jou hande diep in jou spaarvarkie en koop vir jou ’n outydse alarm.

Takealot en Superbalist het baie cool alarms wat jou kamer ’n ander gevoel sal gee en jou rustiger sal maak.

BRONNE: IMDB.COM, POPSUGAR.COM, LATIMES.COM, FORBES.COM, MENSHEALTH.COM, CNN.COM
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe