DOEN DIT:  

WEES JOUSELF  

Dit is nie altyd maklik om in te pas in ’n groot groep mense wat almal hul eie sterk persoonlikhede het nie. Maar onthou, jy is uniek en moenie probeer verander om in te pas in die groep nie. Groepsdruk is so laas dekade.

Wees jouself en floreer! Dit is juis op hoërskool dat jy jouself moet ontdek en as ’n mens moet groei.

Maak ’n lys van dinge wat jy eendag wil doen of word. Sodra jy op skool gedruk word om te verander of iets te doen wat jy weet jy nie moet of wil doen nie, dink aan daai lysie en jou toekomsplanne en of jou keuses nou jou doelwitte eendag gaan beïnvloed.  

OEFEN GEREELD  

As jy nie ’n gimlidmaatskap het nie, keer dit jou glad nie om elke dag te gaan draf nie.

Jy kan selfs net 20 minute of meer saam met jou vriende gaan stap. Of begin om ’n sportsoort by die skool te beoefen.

Jy moet na jou fisieke én geestesgesondheid kyk. En as jy oefen, help dit ook om jou ’n bietjie op te beur en jou gedagtes weer skoon te kry – veral in die eksamentye. As jy fisiek goed lyk, gaan dit jou boonop help om emosioneel goed te voel. 

SLAAP GENOEG   

Dis belangrik om meer as agt uur slaap te kry. Daar is deesdae so baie dinge wat jou laatnag ophou: PlayStation, Netflix en selfs WhatsApp-groepklets met jou vriende.

Maar onthou, as jy nie jou voldoende ure slaap in die nag inkry nie, gaan jy nie die volgende dag op jou beste in die klas kan funksioneer nie.

So kan jy agterraak met jou skoolwerk en sukkel as dit by eksamentye kom. Skakel jou foon se helder lig af saans voor jy gaan slaap; dit gaan keer dat die skerp lig jou oë “wakker” maak en jou van jou slaap beroof.

Leer om elke aand op dieselfde tyd bed toe te gaan, en as jou foon regtig jou vingers laat jeuk, sit dit in ’n ander vertrek of in ’n laai. En doen jou huiswerk vroegtydig sodat jy nie saans in slaaptyd daarmee hoef te sit nie. 

KYK NA JOU GEESTESGESONDHEID  

Dit is nie net jou liggaam waarna jy moet kyk nie; jou geestestoestand is net so belangrik. Met die regte ingesteldheid kan jy baie meer in jou persoonlike en skoollewe vermag.

Praat met jou ouers of die skool se berader as jy met geestesprobleme sukkel.

As daar iets moeiliks in jou lewe is wat jy nie weet hoe om te hanteer nie, praat daaroor met mense wat na jou sal luister en jou op die regte pad kan help. Dalk jou ouers of ’n goeie skoolvriend wat jy vertrou en jou belange op die hart dra. 

ANDER PRAKTIESE WENKE: 

KALENDER  

Foto: Gallo Images/Getty Images

Daar is niks ergers as om onvoorbereid by die skool op te daag en dan by jou vriende te hoor julle skryf daardie dag ’n toets nie.

Kyk gereeld na jou skool se kalender wat jou die datums en tye gee van wanneer jy ’n toets of eksamen moet aflê.

Kry ’n ekstra notaboekie waarin jy belangrike datums vir toetse of wanneer take ingelewer moet word, kan neerskryf. As jy in beheer is, gaan dit jou stres oor toetse en skooltake verminder.

RUGSAK

Foto: Gallo Images/Getty Images

Skool is nou nie juis ’n modeparade nie, so kry ’n lekker praktiese rugsak wat jou rug nie gaan seermaak nie.

En onthou om albei skouerbande oor jou skouers te sit, want dit kan tot rugprobleme lei as jy net een skouerband opsit.

As jou rugsak te groot is, kan dit jou agtertoe trek en jou spiere ooreis. ’n Klein rugsak het nie ge-noeg ruimte vir alles wat jy moet dra nie en plaas meer druk op jou skouers.

MUSIEK  

Foto: Gallo Images/Getty Images

Daar is niks so lekker as om met ’n lekker musiekspeellys in jou ore te studeer nie. Kry ’n speellys wat jou sal help om te konsentreer terwyl jy studeer.

Op Spotify is daar selfs speellyste met musiek vir konsentrasie wat jou sal help om rustig te word en op jou skoolwerk te fokus.

TYD  

Foto: Gallo Images/Getty Images

Sorg dat jy altyd betyds is vir jou klasse. En kry ’n beplanner waarin jy elkeen van jou klasse neerskryf sodat jy presies weet watter klasse jy daardie dag het en waar jy vir die klasse moet wees.

Kyk gereeld na hierdie rooster; as jy sekere klasse nie op ’n spesifieke dag het nie, los daardie vakke se handboeke by die huis.

Jou rug sal dit baie waardeer, want soos jy teen dié tyd weet, kan handboeke nogal swaar wees.

OMGEWING  

Om meer gemotiveerd te wees, moet jy dalk jou ruimte tuis inrig. Maak jou kamer eers skoon en kry ’n stoel waarop jy regop kan sit.

Doen jou skoolwerk verkieslik naby ’n venster sodat die natuurlike lug kan inkom. Verwyder dié dinge wat jou aandag gaan aftrek uit jou kamer.

Kry ook ’n bedlamp om jou saans aan die gang te hou. Volgens ’n Duitse studie is ’n warm gloeilamp beter vir kreatiwiteit en konsentreer jy beter in die lig van ’n koel gloeilamp.  

LEERDERS GEE WENKE OOR HOE JY JOU EERSTE HOËRSKOOLJAAR MOET AANPAK 

Rodney van Deventer (14), ’n gr. 9-leerder aan die Hoërskool Hans Strijdom op Mookghopong, Limpopo

Rodney van Deventer. Foto: Verskaf


  • Neem ekstra wiskundeklasse – klaswerk is nie genoeg nie.
  • Maak tyd vir oefen, bly fiks en hou aan oefen, want ’n gesonde liggaam help jou om elke dag aan te pak.
  • Bly positief, al gaan dit nie altyd goed met jou akademie, sport of ­so­siale lewe nie. 
  • Maak maats met ’n verskeidenheid mense, want elkeen help en ondersteun jou op ’n ander manier.
  • Slaap nege tot 10 uur per aand, want skoolwerk is ­harde werk.
  • Wees jouself! Moenie probeer om iemand anders te wees of soos iemand anders op te tree nie.

Tamryn Temmers (14), ’n gr.9-leerder aan die Hoërskool Bredasdorp op Bredasdorp, Overberg

Tamryn Temmers. Foto: Verskaf


  • Volg net die reëls van die skool en daar sal nie moeilikheid wees nie.
  • Vra hulp wanneer jy dit nodig het en gee aandag in die klas. Doen gereeld jou tuiswerk.
  • Probeer om aan soveel moontlik aktiwiteite soos sport en kultuur deel te neem.
  • Vermy vriende wat klasse bunk.
  • Bly positief en glo in jouself.

Uzair Enus (14), ’n gr.9-leerder aan die Hoërskool Windsor in Rondebosch-Oos, Kaapstad

uzair enus,tieners,raad
Uzair Enus. Foto: Verskaf


  • Hoërskool is nie ’n grap nie. Dis ’n aanpassing, veral as jy in gr. 8 nie in dieselfde skool as die res van jou vriende is nie. Maar as jy eers jou voete vind en nuwe vriende maak, kan dit fun wees. Maak net seker jy kies die regte vriende wat jou nie verkeerde dinge leer nie en bly getrou aan wie jy is. Moenie vir ander mense verander nie.
  • Moenie tot in die middel van die jaar wag om ernstig oor jou skoolwerk te raak nie. Begin op dag een. Luister in die klas en hou by met notas.
  • Kry klasmaats bymekaar en stig ’n WhatsApp-groep waar julle oor onder meer skoolwerk met mekaar kan kommunikeer.
  • Moenie te veel druk op jouself plaas as jy nie die punte kry wat jy verwag het nie. Maak net seker jy sit als in, dan weet jy jy het jou bes gedoen.
  • Kry vir jou ’n lekker speellys met musiek waarna jy kan luister wanneer jy leer. 
BRONNE: WIKIHOW.COM, COLLEGEINFOGEEK.COM, CANADIANCHIROPRACTOR.CA
Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.