1. Hou muesli-stafies of ’n pakkie neute in jou skooltas. Dit sal nuttig wees as jou ma vasdraai en jou ’n bietjie later as gewoonlik by die skool kom haal.

2. Teken ’n paar lippies in jou dagboek vir ’n maand van nou af. Dit kan dien as aansporing om nader te beweeg aan daardie een op wie jy al maande lank ’n ogie het. Dink dan elke week aan ’n nuwe uitdaging om jou daardie punt te laat bereik, soos om vir hom of haar ’n oulike briefie te gee, ’n bietjie op Facebook te klets of seker te maak julle woon dieselfde partytjie by.

3. Laat sny ’n spaar- sleutel en gee dit vir ’n betroubare buurman of -vrou vir noodgevalle. Dit sal jou beslis help as jy uitgesluit is of jou sleutels verloor.

4. Vra jou ma om jou te wys hoe om ’n maklike pastagereg te maak sodat jy soos ’n ware superheld vir jou kleiner boeties of sussies iets kan aanmekaarslaan as jou ouers dalk later tuiskom. Vol magies = soet kinders.

5. Stel Sondae jou wekker vir die hele week sodat jy nie ’n enkele oggend verslaap nie. Teken ook in jou dagboek en op jou selfoon se onthounotas alles aan wat jy moet onthou – van die skool se koekverkope tot die top wat jou pel wou leen.

6. Hou twee lepels in die yskas, en as jy weer met pofferige oë wakker word, haal dit uit en druk dit in koue water voor jy dit sowat vyf minute op jou toe oë hou.

7. Vermy ’n voorpartytjie-ineenstorting oor jou haarstyl of grimering deur vooraf op YouTube te gaan kyk hoe om die voorkoms te skep wat jy wil hê. Dan kan jy sê “dit het my vyf minute geneem” en dit bedoel.

8. Memoriseer jou drie belangrikste kontakte – een of albei ouers, ’n broer of suster en ’n pel – se nommer. Jip, betaalfone bestaan nog, en as jou foon se battery jou in die steek laat, kan dié nommers nuttig wees as jy iemand soek om jou by die winkelsentrum, skool of ’n pel se huis op te laai.

9. Bêre R50 in ’n afskorting in jou skooltas vir die kere dat jy vergeet of te haastig is om vir pouse kos in te pak of lugtyd moet koop. Draai dit in papier toe en stewig met kleeflint vas as jy dink jy gaan dalk in die versoeking kom om dit op iets anders uit te gee.

10. Niks is meer frustrerend as om by die skool op te daag en te besef jy het toe nooit jou gedrukte taak in jou skooltas gebêre nie. Vermy dié stres deur ’n geheuestokkie uitsluitlik vir take altyd in jou tas te hou. Sodoende kan jy enige tyd daaraan werk en het jy ’n afskrif as die gedrukte een wegraak.

11. Sorg dat jy altyd dié noodsaaklikhede in jou sak het: haarrekkies, sanitêre produkte, pleisters, klamlappies, deursigtige naellak (dis vir wanneer jou skoolkouse skeur – as jy rondom die skeur verf, sal dit verhoed dat dit nog skeur) en snesies.

12. Aktiveer vlugmodus op jou selfoon wanneer jy weet jy gaan ’n ruk weg wees van jou selfoonlaaier. Sodoende sal jy nie met ’n pap foonbattery sit wanneer jy dit nodig het nie.

Teks: BAUERSYNDICATION.COM.AU/WWW.MAGAZINEFEATURES.CO.ZA