persoon verbeter lewensgehalte
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Met die jaar wat einde se kant toe staan, voel dit dalk asof jy nie grond vat nie: Daar is laaste werkprojekte om af te handel, jy moet weens die pandemie oor jul jaarlikse Kersplanne herbesin, en ná ’n moeilike jaar moet jy elke sent drie keer omdraai.

Om aan jouself aandag te gee is waarskynlik die laaste ding op jou doenlysie.

Maar kenners meen ’n paar eenvoudige gewoontes – hoe jy dink en hoe jy optree – kan ’n groot invloed hê op hoe gelukkig jy is. En hier gaan dit nie net oor gesonde gewoontes wat jy kan kweek nie; dit gaan veral oor slegte gewoontes wat jy dalk moet verbreek.

Voor jy jou tot iets verbind, vra jouself: ‘Gaan dit my geluk bring?’

Dit is dikwels dié dinge wat jy onnadenkend doen wat geleidelik aan jou emosionele en fisieke welstand knaag.

Hier is vyf slegte gewoontes om dadelik te verbreek as jy jou lewensgehalte wil verbeter – met praktiese wenke vir hoe jy dit kan regkry.

1. JY LUISTER NA JOU INNERLIKE KRITIKUS

persoon verbeter lewensgehalte
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Wanneer laas het jy jouself op die skouer geklop oor iets? Kan jy nie onthou nie? Dít kan wees omdat jy te veel luister na jou innerlike kritikus, daardie stemmetjie wat dinge fluister soos: “Jy is nie goed genoeg nie” of: “Hoekom kan jy jouself nie regruk nie?”

Ons het almal in ’n mate daardie stemmetjie in ons kop. En ja, dié innerlike kritikus kán soms nuttig wees, byvoorbeeld deur jou te help besef wanneer jy ’n slegte besluit geneem het, sê Taryn Smith, ’n lewensafrigter en berader van Kaapstad.

Maar dit moenie ’n permanente blyplek in jou kop kry nie, sê sy, want dit lei tot voortdurende negatiewe gedagtes wat jou aftakel.

PROBEER DÍT

Wees bewus daarvan. Erken dat hierdie innerlike stem nie ’n weerspieëling van die werklikheid is nie en dat dit wat jy daar hoor dikwels op gebrekkige redenasie of onrealistiese verwagtings gegrond is.

Werk sagkens met jouself. Elke keer wanneer daardie innerlike kritikus lostrek met: “Ek is nie so wonderlik soos my suster/vriendin/kollega nie,” reageer met deernis deur byvoorbeeld te sê: “Sjoe, jy voel werklik onseker van jouself op die oomblik.”

Swaai dinge om. Betrap jouself die oomblik as jy ’n negatiewe gedagte of emosie beleef en maak ’n vinnige interne skuif om jou denke te verander.

“Vervang die oordeel met begrip, etikettering met aanvaarding, en kompartementalisering met deernis,” sê Taryn.

2. JY SÊ JA (WANNEER JY WIL NEE SÊ)

Ons doen dit almal: Voor jy jou kom kry, hoor jy hoe jy antwoord: “Natuurlik kan ek dit vir jou doen,” al weet jy dat die guns eintlik uiters ongerieflik vir jou gaan wees.

Party van ons sukkel om nee te sê omdat ons nie ander wil teleurstel nie. Dis opsigself nie ’n slegte ding nie, maar dit is belangrik om bewus te wees daarvan as dit ten koste van jouself is of as jy dit doen omdat jy wil voldoen aan die een of ander verwagting dat jy “volmaak” moet wees.

PROBEER DÍT

Herinner jouself daaraan dat jy gesonde grense benodig. Grense stel jou in staat om jouself ’n prioriteit te maak. En ook om meer toegewyd te wees aan die dinge waarvoor jy ja sê.

Onthou, dis in die haak om nee te sê. Voor jy jou tot iets verbind, vra jouself: “Wil ek dit doen of voel ek ek moet dit doen? Gaan dit vir my vreugde of betekenis bring om ja te sê? Of gaan ek vrees of berou ervaar wanneer dit tyd is vir hierdie geleentheid of taak?”

As jou antwoorde op hierdie vrae dit duidelik maak dat jy dit om al die verkeerde redes doen, sê nee. Aanvaar jou perke. Dis geestelik en fisiek uitputtend om vir alles ja te sê en kan tot uitbranding lei.

Rus en selfsorg is belangrik, sê die Kaapse sielkundige Stephanie Sieberhagen. “Haal diep asem en sê: ‘Ek doen wat ek kan met die hulpbronne tot my beskikking.’ ”

3. JY BRING TE VEEL TYD OP JOU FOON DEUR

persoon verbeter lewensgehalte
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Dis sesuur die oggend en jou wekker gaan af. Jy rol om met een oog oop en reik na jou foon om te loer wat in die sosiale media aangaan. Wanneer jy jou oë uitvee, het 30 minute verbygegaan.

“Die meeste mense loer elke 15 minute of minder na hul foon,” sê die Amerikaanse sielkundeprofessor Larry Rosen, medeskrywer van The Distracted Mind. Maar die negatiewe impak strek verder as vermorste tyd.

“Ons het angstigheid opgebou rondom die gebruik van tegnologie – ons dink ons loop iets mis as ons dit nie so gereeld nagaan as wat ons dink ons moet nie,” sê Larry.

Om gedurig na jou foon te loer ontwrig sosiale interaksies met mense in die regte lewe en kan sleg wees vir jou geestesgesondheid.

PROBEER DÍT

Stel ’n skedule op. Verbreek die gewoonte geleidelik deur wekkers te stel vir wanneer jy op jou foon kan loer. Begin met ’n wekker vir elke 30 minute en beweeg dan na 45 minute of ’n uur tot jy jou doelwit bereik het.

Moenie jou foon langs jou bed los nie. Moenie dat jou foon die laaste ding wees wat jy saans sien en die eerste ding wat jy soggens sien nie. Hou jouself verantwoordbaar.

Apps soos QualityTime en Moment hou rekord van jou slimfoongebruik en stel jou in staat om ’n spesifieke gebruikstyd vas te stel. Dit hou ook dop hoe goed jy by jou skedule hou.

4. JY STRES-EET

persoon verbeter lewensgehalte
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Om jou tot kos te wend wanneer jy gespanne voel, is ’n strategie om gevoelens te verdoof, sê die voedingsielkundige Amanda Baten.

“Dis ’n afleidingstrategie – nes mense dalk alkohol, dwelms of televisie sal gebruik om ’n buffer te skep tussen hulself en moeilike gevoelens.”

Daar is geen tekort aan stressors nie – die pandemie, bekommernis oor geld, werkprobleme, gesondheidskwessies – maar om dit te probeer verwerk deur te ooreet sal jou ook nie op langtermyn laat beter voel nie.

PROBEER DÍT

Ken jou snellers.

Identifiseer wanneer jy kos as ’n stresrespons gebruik en skenk aandag aan jou gevoelens. Kenners sê as jy net ’n oomblik wag voor jy iets gryp en die situasie evalueer, help dit jou verstaan wat jou daartoe dryf om te ooreet – wat jou dan kan help om dit te voorkom.

Verwyder die versoekings. Moenie ongesonde peuselhappies soos skyfies en sjokolade in die kaste aanhou nie. Vervang dit met gesonder happies soos vrugte, neute en springmielies.

Beweeg. Navorsing toon fisieke aktiwiteit gee die gemoed ’n hupstoot en verminder stres, wat kan help dat jy minder eet as jy gespanne voel.

5. JY VERGELYK JOUSELF GEDURIG MET ANDER

persoon verbeter lewensgehalte
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

’n Vriendin deel ’n foto waarvan meer as 100 mense hou en jy wonder dadelik hoeveel van jou foto sou hou.

Klink dit bekend? Die sosiale media het dit ongelooflik moeilik gemaak om nié onsself met ander te vergelyk nie. Nes jou innerlike kritikus laat gedurige vergelykings jou ellendig voel.

“Jy kan nie floreer as jy aktief besig is om jou eie waarde te verminder nie,” sê Taryn.

“Dit kan tot angstigheid, jaloesie, selftwyfel en depressie lei.”

PROBEER DÍT

Vier jouself. Herken en waardeer dit wat jou uniek maak. Hou die werklikheid voor oë. Onthou, almal skep ’n beeld van hul lewe in die sosiale media.

Hulle deel foto’s waar hulle op hul beste lyk, pret het en hul gesinne dolgelukkig lyk. Maar dis nie hoe die lewe is nie. Kies slim.

As jy sleg voel oor jouself of jou lewe ná blootstelling aan die sosiale media, is dit dalk tyd om te heroorweeg wie jy volg. Kies eerder om blaaie of rekenings te volg wat jy inspirerend vind.

EKSTRA BRONNE: ITWEB.CO.ZA, GETPOCKET.COM, TIME.COM, TINYBUDDHA.COM, PSYCHOLOGYTODAY.COM, MEDIUM.COM
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe