Geen duur reinigings­middels word benodig nie; die antwoorde om van hardnekkige vlekke ontslae te raak staan reeds in jou kas. Nadat jy die middel aangewend het, kan jy die item soos gewoonlik was. 

ROOIWYN 

Die vlek moet met ’n skoon, klam katoenlap gedep word (nie gevryf nie) om enige oortollige wyn te absorbeer. Plaas dan die gevlekte deel van die item oor ’n leë bak, maak dit met ’n rekkie vas en strooi sommer baie sout op die vlek. Giet warm water oor die area en laat die sout en water ’n paar minute intrek. Spoel dan die sout af.

LIPSTIFFIE 

Opwasmiddel is gemaak om olierige skottelgoed skoon te kry; dit is dus ideaal om van olierige lipstiffievlekke ontslae te raak. Klad die vlek met ’n stuk kombuispapier, bedek dit met opwasmiddel en laat dit 15 minute week. Spoel met water.

ARMHOLTEVLEKKE

Raak van onooglike armholtevlekke (weens reukweerder en sweet) ontslae deur ’n pasta van suurlemoensap en koeksoda aan te wend. Los dit minstens ’n uur aan.

OLIE 

Jy kan ’n paar algemene huishoudelike items inspan om jou gunstelinghemp te red as jy olie daarop gemors het. Bedek die vlek goed met babapoeier, kryt of mielieblom, vryf dit goed in en los oornag. Skud dit die volgende oggend af voor jy dit was.

INK 

Gaan krap in die medisynekassie as jy weer met ’n inkkol te doen kry. Plaas kombuispapier onder die vlek om die ink te absorbeer; dep dit dan met ’n stukkie watte wat in chirurgiese alkohol geweek is of met ’n klamlappie wat alkohol bevat. Herhaal indien nodig.

GRAS 

Bedek die grasvlek met ’n oplossing van wit­asyn en water en laat staan 15 minute. Gebruik dan ’n lappie of ou tandeborsel om die oplossing in die vlek in te vryf.

BLOED

Klad die vlek met ’n nat lap, spoel af en laat dit dan ’n paar uur in koue soutwater week. Spoel weer met koue water en was soos gewoonlik – moenie warm water op bloedvlekke gebruik nie, want die hitte “kook” die proteïen in die bloed en laat die vlek kleef. Om van hardnek­kige bloedvlekke ontslae te raak, meng sout met koue water om ’n pasta te vorm en vryf dit met ’n ou tandeborsel in die materiaal in.

KOFFIE

Meng geklopte eiergeel met ’n bietjie warm water. Vryf die eieroplossing met ’n skoon lap of sagte borsel oor die vlek in en los sowat ’n minuut. Spoel die item deeglik met water.

KERSWAS 

Vries die item om die kerswas te laat verhard en skraap dit dan met ’n mes af. Raak ontslae van die res deur die vlek met kombuispapier te bedek en bo-oor dit te stryk. (Beweeg die papierhanddoek gedurig rond om die smeltende was op die papier vas te stryk.) As daar nog was op die materiaal is, sprei dié deel oor ’n bak, maak met rekkies vas en giet kookwater oor om die was te laat smelt.

Ons doen ons bes om goeie raad saam te stel, maar jy beproef dié wenke op jou eie risiko. Huisgenoot aanvaar nie verantwoordelik vir enige skade of besering wat daardeur veroorsaak is nie. 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.