2020 het met tye oneindig lank gevoel, en tog het die jaar terselfdertyd verby geblits. ’n Mens kan skaars glo dit is weer tyd om jou Kersboom uit die kas te haal. Dit voel dan of jy dit nog net nou die dag weggepak het . . .

Een ding is wel seker, die laaste vyf weke is gewoonlik baie bedrywig, en om dinge te vererger voel die meeste mense moeg en uitgeput. Boonop is die meeste mense se geduld min. Hoe gemaak om deur te druk? Ons het by kenners gaan aanklop vir raad. 

1. Een ding op ’n slag

“Wanneer jy deur ’n moeilike tyd gaan en die einde voel so naby, maar tog so ver, is die beste om dinge een dag op ’n slag te vat,” sê Corné Peach, ’n sielkundige van Kempton Park. “Fokus op die hier en die nou en om net deur hierdie dag, of selfs soms net deur die volgende uur te kom, eerder as om te dink oor die volgende ses weke wat nog voorlê,” stel sy voor.

Sy meen dié ingesteldheid sal jou help om by die einde van die jaar uit te kom. “Die gesegde:  ‘Hoe eet jy ‘n olifant? – een teelepel op ’n slag’ is hier van toepassing.”

2. Begin elke dag reg

“ ’n Gesonde oggendroetine kan ’n kombinasie van intensiestellings, meditasie, liggaamstrekke en oefening insluit,” sê Maryke Groenewald, ’n lewensafrigter van Pretoria.

“Intensiestelling is om jou dag met ‘intensie’ of bedoeling te begin, soos om te sê: Vandag gaan ek ten minste vyf positiewe ervaringe deur my dag opmerk. Sodoende is jou onderbewussyn ingestel om in elke situasie die positiewe te soek, in plaas daarvan om op die negatiewe te fokus.”

3. Eindig jou dag rustig

Maak seker jy skakel die televisie ’n halfuur voor slaaptyd af, en sit jou selfoon neer sodat jy enige visuele stimulasie so kort voor jou nagrus kan vermy, stel Maryke voor.

Asemhalingsoefeninge kan jou ook rustiger maak en help die senuweestelsel om te herstel. Maryke stel die 4-7-8-tegniek voor. “Wat dit behels, is dat jy ’n diep asemteug inneem vir vier tellings, jou asem ophou vir sewe tellings, en dan uitasem vir agt tellings. Herhaal hierdie proses minstens vier keer,” verduidelik sy. 

4. Los die groot goed vir volgende jaar

“Dit was ’n uitsonderlike jaar en baie mense is selfs meer voos as wat hulle gewoonlik dié tyd van die jaar is, omdat hulle dikwels nog geen vakansie of breek gehad het sedert die inperking begin het, of sedert hulle teruggegaan het werk toe nie,” sê Corné. Daarom is dit beter om, indien moontlik, enige groot veranderinge, besluite en sake wat aangespreek moet word, te los vir volgende jaar. 

“Net om deur die jaar te kom en by die einde van die jaar uit te kom is genoeg van ’n oorwinning.  Jy het nie nodig om berge te versit dié jaar nie.  Volgende jaar is nog ’n jaar.  Voltooi en spreek net aan wat jy regtig moet,” is haar raad.

5. Bly weg van negatiwiteit

“Vermy negatiewe gesprekke, situasies, programme en artikels,” sê Maryke. “Negatiewiteit dreineer ons energie onnodig, en moet liefs vermy word. Indien negatiewe gesprekke deel van jou onmiddelike omgewing is, maak dan ’n bewustelike besluit om nie deel te neem aan die gesprekke nie. Kies eerder om jou fokus op die positiewe te behou.”

Indien jy soms met negatiwiteit oorweldig word, is dit belangrik om bewus te raak van wát dit is wat jou negatief beïnvloed. “Doen stappe om dit te vermy of te verander,” sê Maryke. “Indien dit nie moontlik is om dit te vermy of te verander nie, sluit dinge in jou daaglikse roetine in wat jou energievlakke aanvul, en neem tyd om te rus en na jou gesondheid om te sien.”

6. Bederf jouself

“Erken dat dit ’n baie moeilike jaar met baie uitdagings was,” stel Corné voor. “Gee jouself krediet, of selfs ’n lekker bederf (binne die reëls van vlak 1 van die inperking) eerder as wat jy krities is op jouself. Jy het dalk ’n groot verlies gelei die jaar, daar was dalk groot veranderinge in jou persoonlike lewe of werkslewe, en al kan jy nie nou vakansie vat nie, is klein kort wegbreke en bederwe ’n manier om deur die laaste paar weke van die jaar te kom,” sê sy.