Soos ’n onsigbare indringer het die coronavirus die land binnegesluip en die lewe soos ons dit ken op sy kop kom keer.

En nadat pres. Cyril Ramaphosa ’n 21 dae lange totale inperking ingestel het, is die eens besige strate vreemd verlate.

Van sportgebeurtenisse tot kerkdienste en kunstefeeste is reeds vroeër gekanselleer, en met skole, universi­teite en kantore wat gesluit is, trek oud en jonk hulle in hul huise terug en wag dat die bedreiging van die gevreesde virussiekte COVID-19 hokgeslaan word.

Want nadat pres. Cyril Ramaphosa aangekondig het mense mag van 26 Maart om middernag tot 16 April om middernag slegs hul huise verlaat vir mediese sorg, om kos te koop of maatskaplike toelaes te ontvang, volg mense oor die land dié streng reëls wat deur die owerhede geïmplementeer word.

Diegene wat kan, werk van die huis af, en in baie huishoudings probeer ouers nou hul werk gedoen kry terwyl hul kinders om hulle rondmaal.

Danksy tegnologie en die internet is dit vir baie ouers moontlik om van die huis af te werk, maar dis nie altyd maklik nie. Veral vir dié wat noodgedwonge hul aandag tussen hul werkverpligtings en verveelde spruite moet verdeel, kan dit ’n frustrerende ervaring wees.

Hoe gemaak as jou huis skielik ook jou kantoor is? En as ouers en kinders nou elke dag tussen vier mure vasgekeer is, terwyl julle daaraan gewoond is om elkeen soggens ’n eie koers in te slaan? Hoe sorg jy dat jy nie vereensaam nie noudat sosiale geleenthede verbied word?

En hoe sorg jy dat jy gesond van liggaam én gees bly noudat jou gewone roetine deurmekaargekrap is?

Ons het by kenners aangeklop om vas te stel hoe jy dié “nuwe normaal” vir jou en jou gesin kan laat werk.

JOU HUIS AS KANTOOR

Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images
Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images

As jou werk van so ’n aard is dat jy dit uit die huis kan doen, is dit belangrik om vir jou ’n spesifieke werkruimte tuis te skep, sê Maryke Groenewald, ’n lewensafrigter van Pretoria.

As jy nie ’n eie studeerkamer of tuiskantoor het nie, kan die eetkamertafel ook deug.

“Dit moet ’n plek wees waar jy georganiseerd kan wees, waar jy ál jou boeke en die toerusting wat jy benodig, kan neersit,” sê sy.

Nog ’n vereiste vir jou werkplek is jy moet daar goed kan konsentreer, sê Melissa de Klerk, ’n geestesgesondheidspesialis van Kaapstad.

Natuurlike lig is goed vir jou siels­gesondheid en dit kan bydra tot kalmte, konsentrasie en kreatiwiteit,” sê Lizel Stephan, ’n lewensafrigter van Kaapstad.

Jy moet iewers werk waar jy gemaklik is en nie gereeld onderbreek word nie, sê Lizel.

Met dié dat jy en jou kollegas die volgende paar weke of selfs langer deur video-verbindings moet vergader, moet jy ook let op die ruimte agter jou rug.

“Maak seker jy is tevrede met dit wat die ander persoon op die agtergrond gaan sien.”

Terwyl werknemers uit die huis werk, is die werkgewer verplig om hulle van die nodige gereedskap daarvoor te voorsien, sê Jan du Toit, ’n konsultant van Labor Guide South Africa.

As dit nie vir die werkgewer moontlik is nie weens die koste daarvan of omdat die toerusting nie beskikbaar is nie, kan hulle ooreenkom dat die werknemers hul eie toerusting by die huis ?gebruik.

Jy kan van jou werkgewer verwag om jou vir ekstra data- en lugtydkoste te vergoed en moontlik ook vir elektrisiteit, afhangend van die omstandig­hede.

VESTIG ’N NUWE ROETINE

Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images
Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images

Noudat die meeste mense nie meer bedags by die werk is nie, kan dit vir hulle ontwrigtend wees.

Maar ’n vaste roetine gee ons lewe ’n bekende ritme en laat ons gemaklik voel, sê Lizel, en daarom is dit belangrik dat jy so gou moontlik ’n nuwe roetine tuis skep.

“Jou ritme word verbreek, maar hoe vinniger jy in ’n nuwe een kan kom, hoe beter. Jy sal meer gerus voel as jy soggens steeds op dieselfde tyd opstaan. Jy kan ’n bietjie gemakliker aantrek as wanneer jy werk toe sou gaan, maar jy gaan baie beter voel as jy skoon en vars is,” sê sy.

Hou dus by die roetine wat jy vasstel: Staan soggens op dieselfde tyd op, stort of bad nes jy gewoonlik sou, trek aan asof jy “werk” toe gaan, eet ontbyt op dieselfde tyd en skakel op dieselfde tyd as gewoonlik in vir werk.

Moenie vroeër met jou werk wegspring net omdat jy dit van die huis af kan doen nie, en moet ook nie later as gewoonlik werk net omdat jou werk- en huislewe nou meer verweef is nie.

Dis noodsaaklik om steeds tyd te skep vir asemhaal, rus en ontspan – en ook om te sorg dat jy jouself en jou gesin nie afskeep noudat jy van die huis af werk nie. Net omdat jy tuis werk, beteken dit nie jy moet elke wakker uur van die dag werk nie!

Maar dink ook opnuut oor sinvolle werkure, sê Melissa. Terwyl party mense steeds by hul kantoorure wil hou, kan ander dit aanpas sodat hulle die werk gedoen kry in tye wanneer die kleingoed minder aandag benodig.

Veral ouers moet nou kreatief met hul daaglikse roetine wees, sê Melissa.

“Party mense werk nou van ses tot agt in die oggend, kry die kinders aan die gang en werk dan later die dag verder.”

Om jou met jou werk- en huisrol te help kophou, stel Lizel voor jy stel ’n doenlysie op.

“Meng gerus jou werklysie en die lys van dinge wat jy by die huis moet doen. As jy met die hond moet gaan stap, kan jy dit by jou teepouse inwerk.”

Sy sê mense wat tuis werk, is geneig om produktiewer te wees omdat hulle weet hulle moet verantwoordelik optree wanneer hulle onder hul bestuurder se oog uit is.

“Dit oefen baie meer druk op ons uit as wat ons dink.”

Dit is dus belangrik dat jy nie vergeet om blaaskanse te neem en tyd te skep om te ontspan nie.

STEL GRENSE VIR JOU GESIN EN KOLLEGAS – EN VIR JOUSELF

Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images
Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images

Praat met jou gesin oor die nuwe om­standighede by die huis, veral sodat jong kinders dit beter kan verstaan, beveel ­Maryke aan.

“Maak seker daar is spesifieke tye vir werk, maar ook vir gehaltetyd saam met die kinders. Bespreek dit vooraf met hulle sodat jou kroos kan verstaan hoekom jy nog moet werk en waarom jy nie heeldag saam met hulle kan speel nie.”

Verduidelik aan hulle dat hulle hulself ’n ruk lank moet besig hou wanneer dit vir jou tyd is om aandag te gee aan dringende sake of te werk aan dinge wat konsentrasie verg. As jy ’n deur tussen julle kan toemaak of kan vra dat hulle in ’n ander kamer speel as die een waar jy werk, doen dit.

“Druk ’n groen en ’n rooi gesiggie uit wat jy op die deur kan plak. As jy byvoorbeeld in ’n belangrike vergadering is en glad nie gesteur mag word nie, plak jy die rooi gesiggie op. Wanneer hulle maar kan inkom, plak jy die groen gesiggie op,” sê Lizel.

Maak dit duidelik hulle kan jou wel onderbreek as daar ’n noodgeval is, sê sy.

Nie net moet jy aan jou huismense grense stel wanneer jy uit die huis werk nie; jy moet dit ook aan jouself stel.

“ ’n Mens kan maklik voor jou rekenaar vasgevang raak, maar jy gaan beter kan konsentreer as jy gereeld opstaan. Gaan buitentoe en doen strekoefeninge, maar moenie voor die televisie vasval nie,” gee Melissa raad.

Dit is ook belangrik dat jy met jou kollegas oor jou werkure kommunikeer.

“Sê vir mekaar dít is my ure; dís wanneer ek beskikbaar is,” sê Melissa. Dan hoef jy nie skuldig te voel as jy jou rekenaar op ’n sekere tyd afskakel of jou selfoon tot ’n bepaalde tyd in die oggend op die stilfunksie sit nie.

“Ons leef in ’n tyd waar ons weens slimfone altyd beskikbaar is en dit verg selfgeldende kommunikasie. Jy moet grense stel en selfsorg toepas,” benadruk Melissa.

Die werk sal dalk voor en ná jou werkure “in jou huis” wees, maar jy moet self sorg dat jy op die gepaste tyd daaraan aandag gee en afskakel wanneer die broodnodige gesinstyd of tyd vir ontspan aanbreek.

Gebruik dié hulpmiddels
Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images
Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images

Alleen in jou tuiskantoor kan dit maklik vir jou voel of jy afgesonder is en nie meer in ’n span werk nie. Kommunikasie is nou belangriker as ooit.

Sorg dat jy duidelik met jou bestuurder of kollegas kommunikeer oor take wat afgehandel moet word en oor verwagtings, sê Maryke. Kom ooreen hoe gereeld julle met mekaar in verbinding sal tree en hoe gereeld julle vir mekaar sal terugvoer gee.

Wanneer iemand vir jou ’n e-pos stuur, erken ontvangs wanneer jy dit kry – anders wonder die persoon wat dit vir jou gestuur het of dit jou wel bereik het en kan dit by hulle angstigheid skep.

Vra ook dat ontvangs van jou e-pos erken word.

Maar moenie net op e-pos of teksboodskappe staatmaak nie, waarsku ­Lizel.

Meer direkte interaksie is nodig om verhoudings gesond te hou en te sorg dat misverstande nie insluip nie

MICROSOFT TEAMS

Microsoft Teams
Microsoft Teams

As jy die Microsoft Office 365-program op jou rekenaar of slimfoon aflaai, kan jy direk met kontakte gesels wat dit ook afgelaai het. Jy en jou kontakte kan vir mekaar bood­skappe stuur wat julle dadelik sal ontvang as julle aanlyn is, maar julle kan mekaar ook met die videokamerafunksie bel – soortgelyk aan Skype.

Die program maak dit ook maklik om groot vergaderings te hou, want jy kan sogenaamde “kanale” opstel om ’n paar mense op ’n slag by dieselfde gesprek in te sluit.

Wanneer jy in die program na daardie kanaal bel, sal almal wat by die groep ingesluit is by die gesprek kan aansluit. Jy kan ook vergaderings in hul aanlyn dagboek skeduleer en daar ’n skakel deel waarop almal kan klik as hulle by die vergadering wil aansluit.

Tot 250 mense kan gelyktydig aan so ’n videokonferensie deelneem.

Julle kan ook in die program dokumente deel en uitruil, saam aan lêers werk en wat ook al op jou skerm is met mekaar deel sodat almal gelyk dieselfde dokument as op jou skerm kan sien.

Microsoft Teams
Microsoft Teams
  • Om Teams te kan gebruik, moet jy op Microsoft Office 365 ingeteken wees.
  • Om vir ’n jaarlikse pakket van Microsoft Office 365 in te teken, sal jou eenmalig R899 uit die sak jaag.
  • Jy het ook die opsie om R89 maandeliks vir ’n jaar se toegang te betaal. Dit gee jou dan ook toegang tot al Microsoft se ander programme soos Word, Excel en PowerPoint.
  • Bandwydte: Vir groep­video-oproepe het jy ’n lynspoed van 1 Mbps-aflaaispoed en 500 Kbps-­oplaaispoed nodig.

SLACK

Slack
Slack

Met dié app kan jy virtuele werkruimtes skep en met tot 15 mense gelyktydig deur kitsboodskappe en stem- of videokonferensies kommunikeer.

Slack
Slack
  • ’n Gratis opsie kan vir ’n onbeperkte tyd gebruik word, maar dan word julle tot een-tot-een-video-oproepe beperk. As jy groepvideo-oproepe wil maak, kos dit vanaf $6,67 (R113) per maand.
  • Bandwydte: Vir groepvideo-oproepe met vyf of meer deelnemers het jy ’n internetlynspoed van 4 Mbps (aflaai) en 600 Kbps (oplaai) nodig.

ZOOM MEETING

Zoom
Zoom

Jy en jou kollegas kan die program gebruik om aanlyn vergaderings te reël en deur boodskappe en videokonferensies te kommunikeer.

Dis ideaal vir aanlynseminare, want tot 500 mense kan daarmee ’n opleidingsessie bywoon en 300 mense kan aan ’n videovergadering deelneem. Die sessies kan opgeneem en gedeel word.

Zoom
Zoom
  • Die netjiese koppelvlak is gebruikersvriendelik, maar teen R255-R340 per maand is dit nogal duur. Daar is wel ’n gratis weergawe wat dit moontlik maak om met tot 100 mense te vergader, maar dan het julle net 40 minute om koppe bymekaar te sit.
  • Bandwydte: Die minimum lynspoedvereiste is 600 Kbps (op/af), maar vir optimale gebruik word 1,5 Mbps (op/af) aanbeveel.

GOOGLE HANGOUTS MEET

Google Hangouts Meet
Google Hangouts Meet

Jy hoef jou nie daaroor te bekommer of jou spanmaats of klante die regte rekenings of sagteware het nie – jy deel net ’n skakel deur e-pos waarop hulle kan klik om by die gesprek aan te sluit. Gebruikers kan daarmee kletskamers skep en per stem- of video-oproep kommunikeer. Hulle kan ook dokumente en lêers deel.

Tussen 100 en 250 mense kan aan ’n video-oproep deelneem, afhangend van die plan wat jy kies. En jy kan so ’n oproep ook regstreeks na tot 10 000 lede van jul organisasie.

Google Hangouts Meet
Google Hangouts Meet
  • Jy kan dit vir 14 dae gratis beproef. Intekengeld vir basiese gebruik beloop sowat $5,40 (R91,80) per maand.
  • Bandwydte: Vir optimale funksionering het jy ’n lynspoed van 2,6 Mbps (oplaai en aflaai) nodig.
Apps vir saam kuier

WHATSAPP

WhatsApp se Video Call-funksie bied die ideale manier om van aangesig tot aangesig te kommu­nikeer met enigiemand wat ook Whats­App en ’n kamera en mikrofoon op hul slimfoon of rekenaar het. Wees daarvan bewus dat as iemand sonder Wi-Fi jou oproep aanvaar dit van hul data sal wegvreet.

FACETIME

Dit maak ’n video- of oudiogesprek met enige van jou kontakte moontlik, mits jy en hulle Apple-toestelle het. Vir mense wat iOS 12 of hoër gebruik, is daar ’n Group FaceTime-opsie waarmee tot 32 mense lustig met mekaar kan gesels. Ideaal vir ’n familiekuier.

FACEBOOK MESSENGER

Mense is geneig om dit hoof­saaklik vir kitsboodskappe te gebruik, maar dit het ook ’n video- en ­oudio-oproepfunksie. Daarmee kan jy jou Facebook-vriende dadelik kontak. Om met hulle te kan gesels, moet ook hulle Facebook Messenger geïnstalleer hê.

SKYPE

Dit bied video- en oudio-oproepe en het ook ’n boodskapfunksie. Die koppelvlak is maklik om te gebruik en tot 50 mense kan by ’n video-oproep aansluit. Jy kan ook jou gesprekke opneem en deel.

ZOOM MEETING

Bedags gebruik mense dié app vir sakevergaderings, maar saans word dit vir sosiale aktiwiteite ingespan.

Met ekstra eienskappe soos ’n prettige agtergrond wat dit laat lyk of jy op die strand of op ’n ander planeet is – dit keer sommer ook dat jou vriende sien hoe deurmekaar jou leefvertrek is – is Zoom ’n groot treffer onder Millenniërs.

Ander funksies is emoji’s en skoonheidsfilters wat jou op jou beste laat lyk.

Saamgehok onder een dak

Waar gesinne gewoonlik spartel om genoeg tyd vir mekaar te skep, kan dit nou uitdagend wees om aldag en heeldag saam onder een dak te wees.

“Waar ons gewoonlik kla dat die tyd vlieg, raak die dae nou oneindig lank, en om harmonie in die gesin te handhaaf, vereis dat elke lid emosionele aanpassings maak,” sê Daniel Nel, ’n sielkundige van Alberton in Gauteng.

“Wees sensitief vir die emosionele druk ?op die onderskeie gesinslede en bied ondersteuning vir mekaar.”

Hy sê dis sinvol om steeds spesifieke gesinstyd te skep, selfs al deel julle bedags kort-kort dieselfde ruimte.

“Beplan ontspanningsaktiwiteite vir die gesin soos speletjies en ’n vleisbraai.”

Tydsbestuur is belangrik

“ ’n Versteurde roetine kan tot frustrasie, angs, depressie en gemoedskommelings lei. Fisieke, intellek­tuele en ontspanningsaktiwiteite moet alles deel uitmaak van ’n gebalanseerde dag.”

Sorg dat jy ’n vaste tyd daarvoor skep in jou gesin se dagboek vir die dag.

Die isolasie kan gesinne selfs ’n gulde geleentheid bied om verhoudings te laat verdiep, meen hy.

Om jou eie innerlike balans te behou, moet ouers ook tyd vir hulself inruim.

“Meditasie, ontspanningstegnieke, lees, stokperdjies, kuns en ander gunstelingtydverdrywe is van terapeutiese waarde,” sê Daniel.

Hou jou kinders so besig

Met ’n verlengde skoolvakansie weens die uitbreek van COVID-19 moet kinders op ’n sinvolle manier besig gehou word, ook om hulle die trauma van dié stresvolle tyd te spaar, sê Marita Rademeyer, ’n kindersielkundige van Pretoria. Sy gee dié wenke.

SKEP RUSTIGE GEHALTETYD

Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images
Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images

Jy hoef jou kinders nie heeltyd te probeer stimuleer nie. Nou kan ook ’n tyd wees vir eenvoudige gehaltetyd.

Lees saam, bou saam legkaarte en speel bordspeletjies, sit saam buite in die tuin, gesels en vertel stories. Jou kinders sal dalk nie onthou wat hulle als in hierdie tyd geleer het nie, maar hulle sal onthou hulle het tyd saam met jou deurgebring.

VAAR DIE KOMBUIS IN

Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images
Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images

As jy jou kleingoed leer om self ’n ligte ete te berei, is dit ook ’n maklike en prettige manier om hulle te voed.

KWEEK TUINHANDE

Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images
Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images

Baken ’n lappie grond af wat hulle self kan voorberei, en laat hulle iets daar plant wat vinnig en maklik groei. Julle kan (verkieslik ­telefonies) by ’n plaaslike kwekery navraag doen oor watter plante dié tyd van die jaar goed sal vaar. As jy nie ’n tuin het nie, plant plantjies in potte.

ONTHOU OM HULLE TOE TE LAAT OM NET TE SPEEL!

Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images
Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images

Net omdat jy en jou kinders pal by die huis is, beteken dit nie jy moet hulle heeltyd probeer besig hou nie. Kinders moet ook tydens die vakansie bloot ontspan en leer om hulself besig te hou in die ledige ure.

Soms is dit juis wanneer hulle verveeld voel dat hulle begin speel en woeker met dinge wat hul belangstelling prikkel – uit verveling kan kreatiwiteit gebore word.

LEER AANLYN

Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images
Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images

Net omdat die skole gesluit is, hoef jou kind nie op te hou leer nie.

  • YouTube kan vir jou kinders ’n hele wêreld open met kanale wat spesifiek op onderrig gemik is soos National Geographic Kids, Kids Learning Tube, Science Max, The Science Channel, TheBrain­Scoop en Mike Likes Science.
  • Allinonehomeschool.com is ’n webtuiste met lesse in enige vak waaraan jy kan dink vir gr. R tot gr. 12. Die lesse is boonop ­alles gratis.
  • Udemy bied ’n groot verskeidenheid kursusse in vakke soos wiskunde, wetenskap, kuns en selfs kodering aan. Die pryse wissel van R100 tot R1 000. Gratis kursusse is ook beskikbaar, en jou kinders kry ’n sertifikaat vir elke kursus wat hulle ­voltooi.
  • BrainPop is ’n groep opvoedkundige webtuistes met meer as 1 000 animasievideo’s om leerders van gr. R tot matriek met vakke soos wiskunde, wetenskap, biologie, Engels en kuns te help. Maar teen $150 (R2 600) vir die goedkoopste plan is dit ’n duur opsie.

Marita maan ouers om kinders nie alleen met die rekenaar of slimfoon te los nie en hul skerm­tyd tot ’n minimum te beperk.

Hou deurgaans ’n oog op dít waarna jou kinders op die skerm kyk sodat hulle nie per ongeluk afkom op inhoud wat nie geskik is vir hulle nie.

IN GROOTMAAT KOOP OF NIE?

Sedert pres. Cyril Ramaphosa ’n nasionale ramptoestand verklaar het, het baie Suid-Afrikaanse verbruikers op kruideniers­winkels toegesak, hul trollies volgepak en die rakke leeg gekoop.

Is dit verstandige voorsorg of ’n paniekerige oorreaksie?

Die opgaar van vars vrugte, groente, brood en ander bederfbare kosse soos rou vleis is “selfsugtig en ’n vermorsing”, waarsku prof. Gunnar Sigge, hoof van die departement voedselwetenskap aan die Universiteit Stellenbosch.

“Dis selfsugtig omdat dit ander verhoed om hul daaglikse kosse aan te koop. En baie van dié kosse vries nie goed nie en het nie ’n lang raklewe nie; daarom gaan dit vermors word,” verduidelik hy. Hy reken dis onnodig om kos op te gaar, want die landbou en kosproduksie sal voortgaan en die owerheid beklemtoon daar is geen gebrek aan kos in die land nie.

“Selfs met die huidige lockdown word mense toegelaat om winkels toe te gaan om die nodige kos te koop,” benadruk Gunnar. Ook in ander lande waar daar ’n inperking is op mense se beweging, word hulle toegelaat om kruideniersware te gaan koop.

Hy raai mense wel aan om genoeg kos vir ’n paar dae te koop sodat hulle minder dikwels winkels toe hoef te gaan.

“Beplande voorbereiding moet oorweeg word, maar nie paniekbevange aankope in grootmaat nie,” beaam dr. Lize Barclay, ’n ­senior lektor in toekomsstudies en stelseldenke aan die Universiteit Stellenbosch se Bestuurskool.

“Mense moet nou dink aan wat hul gesin in ’n maand nodig het.”

Nog ’n opsie is aanlyn aankope, maar onthou dit sal dalk weens die groot vraag langer neem voor die produkte by jou afgelewer kan word. Bestel dus waar moontlik ’n week vooruit. Lize moedig veral kwesbare mense soos bejaardes aan om daarvan gebruik te maak.

Wat om te koop en eet

Lize stel voor jy koop lensies, rys, boontjies, neute, droëvrugte en blikkieskos vooruit. Hou in gedagte dat supermarkgroepe intussen ’n perk geplaas het op die getal eenhede van ’n bepaalde produk wat elke klant mag koop.

Gunnar raai aan dat mense, “veral nou”, so gesond moontlik moet eet en ’n gebalanseerde dieet moet volg met baie vrugte en groente.

As vars vrugte en groente nie beskikbaar is nie, sal bevrore of ingemaakte produkte ’n “baie goeie alternatief” wees, meen hy.

Irene Labuschagne, ’n dieetkundige aan die Universiteit Stellenbosch se voedingsinligtingsentrum, sê: “Geblikte groente, vrugte en bone kan geëet word as deel van jou daaglikse inname van vyf of ses porsies vrugte en groente. Maar kies dié met ’n lae soutinhoud wat in hul eie sappe of water verpak is.”

Sluit ook meer eiers, melkprodukte en vis soos snoek, sardyne, makriel en salm by jou dieet in en minder rooivleis, sê Irene.

So oefen jy tuis

Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images
Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images

Al is gimnasiums nou gesluit, beteken dit nie jy moet jou oefenplan laat vaar nie.

Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images
Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images

Trouens, jy het oefening nou nodiger as ooit, want dit laat die vlakke van die goedvoelhormoon endorfien styg en werk die stresrespons teë wat skadelik vir die immuunstelsel is, sê kenners soos Tony Maloney van die National Institute of Fitness and Sport in In­dianapolis, Amerika.

Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images
Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images

Nes jy vir jou ’n tuiskantoor kan inrig, kan jy vir jou ’n gim in die kleine by die huis skep.
Al wat jy nodig het, is jou eie liggaamsgewig, ’n paar huishoudelike items soos ’n besem en genoeg ruimte om uit te strek.

Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images
Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images
  • Doen daaglikse ’n reeks strekoefeninge – van jou nek, arms en gewrigte tot jou bobeen- en agterdyspiere. Hou die posisies minstens 30 sekondes lank.
  • Opstote en hurk- en maagoefeninge verg niks buiten jou eie liggaamsgewig nie en word algemeen beskou as van die doeltreffendste oefeninge om fiksheid en spierkrag op te bou.  
  • Draai onoopgemaakte pakke meelblom of suiker stewig in plastieksakke toe en gebruik dit om ketelbal­oefeninge te doen.
  • Lig ’n besem bo jou kop op en trek dit met reguit arms agtertoe tot jy weerstand begin ervaar. Laat die besem op jou skouers agter jou nek rus; draai dan stadig van kant tot kant vir ’n goeie ruggraatrol.
  • Omskep 1 L-waterbottels in handgewigte en hou dit vas terwyl jy hurk.
  • Skakel in op ’n aanlyn oefensessie op YouTube. Stel Yoga with Adriene op die proef vir gratis jogaklasse, asook Nike Training, wat gratis afgelaai kan word en oefensessies bied waarvoor jy geen gimtoerusting benodig nie.
Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images
Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images
  • Mediteer: Ruim tyd in om jou gemoed kalmer te stem met meditasiesessies met behulp van ’n app soos Calm, Headspace of Insight Timer. Laasgenoemde het selfs ’n meditasiesessie wat daarop toegespits is om jou vrese oor die coronavirus te laat bedaar.
BRONNE: GUARDIAN.CO.UK, WASHINGTONPOST.COM, THEATLANTIC.COM
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.