Soms neem die ouer generasie self die besluit om te trek, maar in ander gevalle moet hul kinders hulle aan­moedig om dit te doen of self ingryp. Maar die proses om ’n mens se bejaarde ouers na ’n aftreeoord te laat verhuis hoef nie trauma te veroorsaak nie.

Jy is lief vir jou ouers en wil net die beste vir hulle hê, maar hoe pak jy dié sensitiewe gesprekke en besluite aan as jou ouers huiwerig is om die skuif te maak of vasskop? Ons het by kenners gaan kers opsteek.

Voor die tyd

Op ’n dag ruil die ouer/kind-rolle om en die kind word die versorger, sê Christo van der Westhuizen, ’n sielkundige en lewensafrigter van Randburg.

“Wees voorbereid daarop, maar gee die ondersteuning op so ’n manier dat hulle dit nie sal agterkom nie,” is sy raad.

“Hulle moet altyd voel hulle is in beheer van hul eie situasie en keuses.”

Elke kind moet darem ’n idee van hul ouers se finansiële posisie en hul gesondheid hê, meen Christo.

“Wees deurgaans betrokke by jou senior ouers se lewe en wees bewus van hul behoeftes, maar sonder dat dit lyk asof jy jou neus in hul sake steek. Gereelde kuiers of telefoniese geselsies sal help dat dit nie ’n probleem word nie,” verduidelik hy.

Hy waarsku ook sulke gesprekke kan nie buite die konteks van jul verhouding met mekaar wees nie.

“As daar probleme tussen julle is, maak eers die verlede skoon en raak ontslae van dít wat lank gelede tussen julle gebeur het. Eers daarna is dit moontlik om sinvol oor die toekoms te praat.”

Die groot gesprek

Die bespreking van jou ouers se toekoms moet soos ’n lang vervolgverhaal hanteer word. Dis nie iets wat julle vinnig oor ’n koppie tee kan uitklaar nie, verduidelik Christo.

“Ouers moet nooit die gevoel kry hulle word in ’n rigting gedruk nie. Gebruik jou tyd en gesels kort-kort met hulle oor hoe hulle hul toekomsplanne sien. Tydens dié gesprekke kan jy dan ook jou mening gee.”

Dit is dalk ’n ongemaklike onderwerp, maar as almal oor ’n tydperk stelselmatig hieroor gesels, sal dit later ál natuurliker wees, verduidelik hy.

“Moenie die gesprekke uitstel tot ’n krisis opduik wat veroorsaak dat ’n dringende besluit oornag geneem moet word nie.”

Corrie Kruger, bestuurder van die Huis Herfsblaar-aftreeoord in Pretoria, stem saam en sê ouers moet deel gemaak word van die idee om na ’n aftreeoord te gaan.

“Kommunikasie is belangrik. Julle moet oor aanvanklike onsekerhede of onduidelikhede praat. Bespreek die finansiële implikasies wat die besluit teweeg gaan bring, maar wys ook op die voordele van veiligheid en langtermynversorging in ’n aftreeoord.”

Lê klem op die positiewe nuwe omstandighede en belange van die ouers, asook die gemoedsrus wat dit die kinders sal gee, is sy raad.

Wat as hulle nie wil nie?

Flip Loots is as besturende direkteur van Triple M Produksies baie betrokke by senior burgers en hul leefwêreld. Hy is onder meer die vervaardiger van die kykNET-reeks Met ’n Huppel in die Stap, waar die fokus op die behoeftes van senior burgers is.

Hy vertel vir sommige is die verhuising traumaties, en hulle kan hulle daarteen verset.

“Van die algemeenste redes wat ek teëkom, is ’n vrees vir die onbekende. Bejaarde ouers is ingewortel in hul huidige en bekende omgewing. Baie wonder hoe hulle op hul gevorderde ouderdom in ’n ander omgewing kan aanpas.

Wanneer ’n mens vry­willig laat los, kies jy eintlik om in beheer te bly.

“Net so sukkel sommige om die idee te verwerk dat hulle hul huidige en ruim woning moet verkoop om na ’n kleiner eenheid te verhuis.”

Hulle vrees reeds die verlies van hul onafhanklikheid, verduidelik Christo.

“Daarom moet die kinders nie voorskryf nie, maar verskillende voorstelle aan die ouers maak sodat hulle self kan besluit,” is sy raad.

Ouers moet aan die volgende waarheid herinner word: Wanneer ’n mens vry­willig laat los, kies jy eintlik om in beheer te bly.

“Met die regte leiding kom seniors gewoonlik self tot die besef dat dit nou tyd is om te trek,” vertel hy. “Maar as dit nie gebeur nie, moet die kinders iewers standpunt inneem. Maar doen dit op ’n liefdevolle manier.”    

Hoe gemaak wanneer die tyd aanbreek?

Hanteer dit as die natuurlike volgende fase, is Corrie se raad.

“Wanneer dit tyd is om op te pak, moet die kinders verkieslik nie oorneem nie. Ouers het tyd nodig om self te besluit wat hulle wil saamneem en waarvan ontslae geraak moet word. Hulle moet tyd gegun word om afskeid te neem.”

Hy beklemtoon ook bejaarde ouers moet nooit hul selfbeslissingsreg ontneem word nie.

Al is dit dalk makliker om ’n trekmaatskappy te kry vir die verhuising, moet kinders onthou die personeel is vreemdelinge en onpersoonlik.

Ouers moenie hul selfbeslissingsreg ontneem word nie en moet tyd gegun word om van hul besittings afskeid te neem. Foto: Gallo Images/Getty Images.

“Dis net ’n opsie as die kinders se omstandighede dit nie toelaat om self die trekwerk te doen nie.

“Wanneer julle wel van ’n maatskappy gebruik maak, moet die familie probeer om op die dag van die trek self teenwoordig te wees.”

Die verblyfopsies

Ouers en kinders moet deeglik ingelig wees oor die verskillende opsies, asook die voor- en nadele van elkeen, sê ­Corrie.

“Dit hang af van die ouers se gesondheid. Onthou ook dit is raadsamer om na ’n aftreeoord te gaan waar al die dienste reeds beskikbaar is wat die ouers moontlik in die toekoms sal benodig.

“Dit is traumaties vir iemand om later van een oord na ’n ander te skuif vir byvoorbeeld mediese dienste. Dit is net so traumaties om direk na ’n versorgings­eenheid te gaan in ’n oord wat die bejaarde glad nie ken nie.”

Flip stem hiermee saam en sê die eerste prys is natuurlik om woonplek in ’n oord met ’n versorgingseenheid te kry. Wanneer een van die egpaar later sieklik of swak raak, kan hy of sy opgeneem word terwyl die ander een nog byderhand is.

Die algemene keuses van eenhede is lewensreg, voltitel, deeltitel en okkupasie­reg. Eenhede kan ook dikwels gehuur word.

Corrie sê dit wissel na gelang van elke individu se behoeftes, maar die voor­deligste is dikwels om lewensreg te koop.

“Aangesien die eenheid die eiendom bly van die trust wat die oord bestuur, is die inwoner nie vir enige instandhoudingswerk verantwoordelik nie.

“Die inwoner sit ook nie met die probleem om die eenheid later te verkoop wanneer hy verswak en na ’n versorgings­eenheid verskuif moet word nie.”

En wat van jou gevoelens?

Volwasse kinders het dikwels skuld­gevoelens wanneer hulle nie self hul bejaarde ouers kan versorg nie, sê Corrie. Tog is dit belangrik om te onthou dit gaan nie oor die kinders nie, maar oor wat die beste vir die ouers is, wys hy uit.

Christo stem saam en sê in sommige gevalle kan kinders wel ’n emosie van skuldgevoel ervaar.

“Maar onthou, geen emosie is noodwendig reg of verkeerd nie. Dit is wat jy met die emosie maak wat belangrik is,” beklemtoon hy.

“Maak daardie emosie oop en hanteer dit tot dit verdamp.”

Begryp en aanvaar dat jy nie jou ouers verwerp nie, maar steeds daar vir hulle sal wees, en ook dat ’n aftreeoord in hierdie stadium van hul lewe die praktiesste keuse is.