As daar een ding is wat hierdie vreemde nuwe werklikheid van COVID-19 ons kom leer het, is dit dat goeie internet belangriker as ooit is.

Daarsonder het jy waarskynlik gesukkel om jou werk gedoen te kry en by te hou met jou kinders se klaswerk – en wanneer jy saans met ’n stroomdiensfliek wou ontspan, het die stadige gebuffer jou meer frustreer as enigiets anders.

Die inperking het jou dalk laat besef jy het beter internettoegang nodig, maar kom ons wees nou maar eerlik: Al die beskikbare opsies kan verwarrend raak.

FTTH, LTE, ADSL, 4G, 5G – die tegno-afkortings is genoeg om jou kop te laat draai.

En wat beteken dit alles in elk geval? Hoe weet jy wat die regte internetopsie vir jou behoeftes is?

Hier’s ’n uiteensetting van al die opsies.

ADSL

Dit staan vir “asymmetric digital subscriber line” en is ’n permanente skakel na die internet wat data via jou telefoonlandlyn versend. Sedert dit in 2002 ontplooi is, het dit die ou inbel-internet in die meeste huishoudings vervang.

Die nadeel is dat dit jou tot een plek beperk, want jy is van jou landlyn afhanklik, en teen ’n gemiddelde spoed van 4 Mbps (sien kassie regs bo) is dit taamlik stadig.

Telkom het onlangs aangekondig hy sal oor die volgende vyf jaar sy ADSL-diens beëindig.

Dit beteken klante sal binnekort na nuwer tegnologieë soos vesel of LTE moet skuif.

WAT JY NODIG HET

’n Vaste telefoonlyn en ’n ADSL-modem.

Foto: Getty Images/Gallo Images
Foto: Getty Images/Gallo Images

VIR WIE DIT DIE BESTE IS

Mense wat nie toegang het tot ’n veselnetwerk nie.

4G

Dit is die vierdegeslagbreëband- sellulêre tegnologie, wat op 3G en 2G gevolg het. Dis nou die algemeenste vorm van selfoondatakonnektiwiteit in Suid-Afrika, met die vier groot telekomoperateurs, Cell C, MTN, Telkom en Vodacom, wat sowat 80% van die land dek. Met ’n aflaaispoed van tussen 4 en 40 Mbps is dit tot 40 keer so vinnig as 3G.

WAT JY NODIG HET

’n 64k- of 128k-simkaart en ’n slimfoon of tablet wat met 4G kan werk (“4G capable”).

Foto: Getty Images/Gallo Images
Foto: Getty Images/Gallo Images

VIR WIE DIT DIE BESTE IS

Mense wat vinnige konnektiwiteit nodig het en mense wat baie rondbeweeg.

LTE

Dit is ’n algeheel koordlose vorm van sellulêre tegnologie, wat dit ’n goeie alternatief vir vesel maak. LTE staan vir “Long-Term Evolution”, so genoem oor dit destyds ’n ontwikkeling van 3G was. Selfoonoperateurs gebruik soms 4G en LTE om die beurt, maar dit is misleidend, want LTE is stadiger as 4G – die spoed wat dit bied, lê iewers tussen 3G en 4G. Die meeste fone sal outomaties na LTE oorskakel as die 4G- netwerkopsie nie beskikbaar is nie.

WAT JY NODIG HET

’n 64k- of 128k-simkaart en ’n slimfoon of tablet wat met 4G of LTE kan werk (“4G/LTE capable”). As jy dit vir werk of as jou enigste middel van toegang tot die internet wil gebruik, is dit beter om ’n behoorlike 4G/LTE-roeteerder (“router”) te kry waarin ’n simkaart geïnstalleer word pleks van dit net deur jou foon te gebruik. Daar kan tot 32 mense aan ’n roeteerder verbind.

Dit maak dit ’n goeie oplossing vir klein ondernemings of gesinne wat ’n klomp verskillende toestelle gebruik. Nog ’n pluspunt is dat die roeteerder draagbaar is en jy dit kan gebruik waar jy ook al gaan.

VIR WIE DIT DIE BESTE IS

Huishoudings en ondernemings wat geleë is waar vesel nog nie beskikbaar is nie.

5G

Dié tegnologie gaan ’n algehele omwenteling meebring, sê die tegno-ontleder Arthur Goldstuck, besturende direkteur van die marknavorsingsonderneming World Wide Worx. In China stel dit mense reeds in staat om spoed van tot 1 Gbps te geniet, en Arthur voorspel Suid-Afrikaners kan aanvanklik na ’n spoed van 20 Mbps tot 200 Mbps per se- konde uitsien – sowat vyf keer so vinnig as wat hulle nou het. “Dit beteken videogesprekke oor jou foon via WhatsApp sal van ’n hoër gehalte as ooit tevore wees. Ons sal meer hoëdefinisie- interaktiewe speletjies sien wat baie op video’s staatmaak, en jy sal sonder enige vertraging kan speel – en nooit hoef te wag dat iets klaarbuffer nie.”

Die vinniger spoed en verhoogde stabiliteit van die 5G-netwerk sal ook gevorderde tegnologie soos virtuelerealiteit (VR)-toepassings, masjienleer en kunsmatige intelligensie toeganklik maak.

Die plaaslike selfooninternetverskaffer Rain het hul 5G-netwerk verlede jaar met beperkte dekking in Johannesburg, Tshwane en Kaapstad bekendgestel.

Maar voor dit algemener beskikbaar kan word, moet die Onafhanklike Kommunikasieowerheid van Suid-Afrika (Okosa) meer spektrum toestaan – oftewel radiogolwe wat 5G kan hanteer.

“As ons gelukkig is, sal ons sien dat Okosa teen die einde van 2020 eindelik 5G-spektrum byvoeg, en dit beteken waarskynlik dit sal nog drie tot ses maande duur vir die operateurs om 5G bekend te stel.

“Optimisties gesproke kyk ons dus na 5G teen die middel van 2021,” sê Arthur.

WAT JY NODIG HET

’n 5G-simkaart en ’n toestel wat met 5G kan werk.

Foto: Getty Images/Gallo Images
Foto: Getty Images/Gallo Images

VIR WIE DIT DIE BESTE IS

Mense wat blitsvinnige internetspoed nodig het.

Vesel (FTTH)

Die Engelse afkorting FTTH staan vir “fibre to the home”. Anders as die kopertelefoondrade wat vir ADSL gebruik word, word optieseveselkabels van glasagtige materiale gemaak. Dit gelei data met ligimpulse, wat beteken meer data kan teen ’n veel vinniger spoed gestuur word.

Terwyl ’n spoed van 20 Mbps met ADSL as blitsvinnig beskou is, maak huisvesel aflaaispoed van tot 1 Gbps moontlik.

Dus het dit ’n heel nuwe wêreld vir Suid-Afrikaners oopgemaak. Veseldekking is nog nie oral beskikbaar nie, maar word geleidelik na ál meer buurte in die groot Suid-Afrikaanse stede uitgebrei.

Die meeste internetdiensverskaffers het ’n landkaart op hul webtuiste waar jy jou straatadres kan intik om te sien of jou buurt al veseldekking het.

WAT JY NODIG HET

Veseldekking in jou gebied asook ’n veselmodem en ’n Wi-Fi-roeteerder sodat al die toestelle in jou huis koordloos gekoppel kan word.

Foto: Getty Images/Gallo Images
Foto: Getty Images/Gallo Images

VIR WIE DIT DIE BESTE IS

Mense wat vinnige en betroubare internet wil hê vir van die huis af werk, video-oproepe en televisiestroomdienste.

Koordlose internet

Dit beteken pleks van ADSL of vesel gebruik, ontvang jy jou internetkonnektiwiteit deur ’n koordlose antenna wat op jou dak geïnstalleer word en jou aan ’n netwerk van torings verbind. Dit is gewoonlik stabieler en vinniger as ADSL en maak ’n spoed van 7 Mbps tot 80 Mbps moontlik afhangend van watter pakket jy kies.

WAT JY NODIG HET

Nadat jy by ’n koordlose internetverskaffer ingeteken het, sal hulle ’n antenna op jou dak installeer.

VIR WIE DIT DIE BESTE IS

Mense wat nie toegang tot vesel het nie.

Haas en spoed ís soms goed

Daar is twee vorme van spoed wat internetgebruikers moet oorweeg – aflaai en oplaai, en dit word in megabit per sekonde (Mbps) aangedui.

Aflaaispoed is die koers waarteen data van die internet na jou rekenaar oorgedra word. 

Oplaaispoed verwys na die spoed waarteen data van jou rekenaar na die internet oorgedra word.

As jy dus byvoorbeeld ’n televisieprogram stroom, sal jou aflaaispoed bepaal of dit glad stroom en of daar vele irriterende pouses is terwyl dit buffer.

Oplaaispoed is belangrik wanneer jy byvoorbeeld video-oproepe maak of groot dokumente na ’n kantoornetwerk oplaai. As jy veselinternet wil kry en dit net nodig het vir e-pos stuur en ontvang, op die internet rondblaai en af en toe ’n YouTube-video kyk, behoort ’n 10 Mbps-aflaai- en 2 Mbps-oplaaispoed piekfyn te wees.

Maar as jy van die huis af moet werk en video-oproepe maak en lêers vinnig met kollegas deel, behoort jy minstens ’n 20 Mbps-aflaai- en 20 Mbps-oplaaispoed te hê.


Beperk of onbeperk?

’n Beperkte kontrak (“capped”) beteken ’n vasgestelde getal gigagrepe (GB) data per maand word aan jou toegeken.

Wanneer jy jou kwota opgebruik, gebeur een van twee dinge. Met ’n sagte beperking (“soft cap”) neem jou internetspoed af tot ’n slakkepas.

In dié stadium kan jy óf inbetaal om jou data aan te vul óf teen ’n stadiger spoed voortgaan. As jy ’n harde beperking (“hard cap”) op jou kontrak het, word jou internettoegang heeltemal afgesny wanneer jy die kwota opgebruik het en kry jy eers weer toegang wanneer jy nog data koop.

Met ’n onbeperkte (“uncapped”) kontrak kan jy soveel data gebruik as wat jy wil, maar dié pakette kos gewoonlik meer. 

BRONNE: MYBROADBAND.CO.ZA, BUSINESSINSIDER.CO.ZA