Sonbrand,beskerming
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Het jy geweet jy kan in net 15 minute sonbrand?

Dis al wat nodig is om skade aan jou vel te veroorsaak – en wanneer jy buite is en die heerlike somerson geniet, gaan ’n kwartier blitsvinnig verby. Daarom moet jy seker maak jy tref elke nodige voorsorgmaatreël voor jy by die deur uitstap.

Sonbrand verhoog jou risiko vir velkanker, wat steeds die algemeenste kanker in Suid-Afrika is met sowat 20 000 gevalle wat jaarliks aangemeld word.

Die beste manier om jou teen die son se skadelike ultraviolet (UV)-strale te beskerm is om blootstelling daaraan te beperk. Maar ná maande en maande van inperking en met die feestyd om die draai, sien baie Suid-Afrikaners juis daarna uit om die vakansie uit te kom en tyd in die buitelug deur te bring.

Om jou vel teen die son te beskerm kan baie duur wees. Ons het by kenners gaan aanklop om te hoor of dit die moeite werd is om geld uit te gee op die duurste sonbeskermingsitems – en wanneer die goedkoper opsies goed genoeg is.

BRANDPUNT

Tussen tienuur en drieuur is die son se UV-strale op hul sterkste. Die Kankervereniging van Suid-Afrika beveel aan dat jy in dié tyd uit die son bly.  

SONSKERMS

Sonbrand,beskerming
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Is dures beter?

Nee, sê die Kaapstadse dermatoloog dr. Altaaf Parker. Daar is uitstekende produkte op die mark teen billike pryse.

“Mits dit ’n SBF van minstens 30 het, UVA- én UVB-beskerming bevat en deur ’n internasionaal geakkrediteerde raad soos die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa) gesertifiseer is, maak die prys glad nie saak nie,” sê hy.

Hoe kies jy die regte sonskerm?

  • Sonskerm word volgens die vlak van die sonbeskermingsfaktor (SBF) geklassifiseer – SBF 30 beteken een 30ste van UV-strale dring tot die vel deur. “Jy sal steeds UV-strale kry, maar net ’n breukdeel van wat jy sonder die SBF sou gekry het,” sê Altaaf.
  • SBF is ook ’n aanduider van hoe lank jy in die son kan deurbring voor jy brand. “As jy gewoonlik ná 10 minute brand, sal ’n SBF van 30 beteken jy kan 300 minute (30 x 10) in die son wees voor jy brand,” sê dr. Sian Hartshorne, ’n dermatoloog. Maar presies hoe vinnig jy brand, sal afhang van jou gelaatskleur, die weerstoestande en die tyd van die dag.
  • Hoe hoër die SBF, hoe beter.
  • Nog iets om te oorweeg is ultraviolet A (UVA)- teenoor ultraviolet B (UVB)-strale. UVA het ’n langer golflengte en hou verband met velveroudering, terwyl UVB ’n korter golflengte het en te doen het met die verbranding van die vel. “Mense moet op die uitkyk wees vir sonskerm wat UVA- én UVB-beskerming bied,” beveel Altaaf aan. “Soek spesifiek vir die woord ‘broad-spectrum’ op die produk.”

Wenke vir aanwending

  • Alledaagse sonskerm moet elke twee tot vier uur aangewend word en waterbestande sonskerm (wanneer jy swem) elke 40 minute. SWend dit mildelik aan. Sonskerm is net doeltreffend wanneer jy ’n dik laag aansit.
  • Wend sonskerm elke dag aan, selfs wanneer dit bewolk is of reën. “Die skadelike UV-strale kan deur wolke dring,” sê Sian.

’n Waarskuwing

Daar bestaan ’n wanopvatting dat mense met ’n donkerder vel nie vatbaar is vir velkanker nie omdat die melanien in hul vel hulle teen die son beskerm. Hoewel daar ’n mate van waarheid in steek, is die ekstra melanien in hul vel nie naastenby genoeg om die nodige beskerming te bied nie.

“Baie donker velle het ’n natuurlike SBF van agt,” sê Altaaf. “Aangesien die aanbeveling ’n sonskerm met ’n SBF van tussen 30 en 50 is, is dit duidelik nie genoeg nie.”

SONBRILLE

Sonbrand,beskerming
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Is dures beter?

Albei dermatoloë is dit eens dat sonbrille wat behoorlike beskerming bied meer sal kos as ander. Goedkoper sonbrille is bloot getint en het nie werklik die nodige beskermende lae nie.

“Dit is amper soos blindings,” sê Altaaf oor die goedkoper brille.

“Die tint van hierdie brille laat jou net jou oë oopmaak en nog meer lig vang. Mense moet versigtig wees wanneer hulle sonbrille koop.”

Wanneer jy ’n gewone sonbril koop, kan jy ’n oogkundige vra om ’n UV-laag aan die lense aan te wend.

Hoe kies jy die regte sonbril?

Soos met sonskerm moet ’n sonbril jou ook teen UVA- én UVB-strale beskerm. Dit moet ook UV-beskerming van 400 of meer hê.

“Baie fabrikate sal UVA en UVB hê, maar hulle noem nie die syfer nie,” sê Altaaf. “Vra oor die vlak van UV-beskerming in die lens voor jy dit koop.”

Hou ook in gedagte dat polarisering niks met ultravioletbeskerming te doen het nie, voeg hy by. Gepolariseerde lense keer bloot weerkaatste lig, en hul funksie is dus om ongemak te voorkom, nie om beskerming te bied nie.

Hoede teen UV

Sonbrand,beskerming
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Hoe verskil dit van gewone hoede?

Kansa gradeer hoede wat UV blokkeer en UV-beskermende klere. Hoede word volgens hul ultravioletbeskermende faktor (UBF) gegradeer en word as 50, 100 en so meer geklassifiseer.

“Terwyl gewone hoede dikwels lig deurlaat, bevat UV-hoede materiale wat die lig afkeer of absorbeer,” verduidelik Altaaf.

Hoede wat UV blokkeer, kos meer as gewone hoede – gewoonlik sowat R350 – maar dit is die moeite werd om in een te belê wat hierdie beskerming bied, voeg hy by. Dit beskerm ook die oorlelle, die punt van die neus en die onderlip – areas waaraan kanker gereeld voorkom.

WENK: Altaaf beveel ook ’n lipsalf aan wat sonskerm bevat as bykomende voorsorgmaatreël.

KLERE WAT UV BLOKKEER

Sonbrand,beskerming
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Hoe werk dit?

  • Klere wat UV-strale blokkeer, absorbeer en versper skadelike bestraling. Dit is een van die doeltreffendste vorme van beskerming teen die fel strale van die son. En die voordeel is dat dit – anders as met sonskerm – nie weer aangewend hoef te word nie.
  • Die UBF aan klere dui aan hoeveel son ’n materiaal tot op jou vel deurlaat. ’n UBF 50-materiaal laat byvoorbeeld net een 50ste van die son se strale tot op jou vel deurdring. Volgens kenners moet materiaal ’n UBF van 30 of hoër hê om doeltreffend te wees. “ ’n Gewone wit katoenhemp het ’n UBF van sowat 10,” sê Sian. “Dus kan jy deur daardie soort klere brand.”

Wat kos dit?

Klere met beskerming teen UV-strale kos gewoonlik meer as gewone klere. ’n Basiese UV-beskermende T-hemp kos sowat R250 en ’n hemp sowat R700. Maar selfs al kan jy nie sonbeskermende klere bekostig nie, is daar maniere hoe alledaagse klere jou kan beskerm.

“As ’n algemene reël, as jy jou klere teen die son hou en daardeur kan sien, beteken dit UV gaan deur,” sê Altaaf.

As die materiaal styf geweef is, is dit doeltreffender om te keer dat die son se strale deur die materiaal dring, voeg Sian by.

“Lycra-soort materiaal, soos dié wat in kinders se swemklere gevind word, is goed,” sê hy.

Dig geweefde materiaal soos denim is goed om die son te absorbeer, terwyl materiaal soos sy die son weerkaats. 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe