En dan moet jy besluit of jy dié cookies, wat ongelukkig niks met suiker, meel en eiers te doen het nie, gaan aanvaar of nie. Maar wat presies ís cookies en wat beteken dit as daardie boodskap op jou rekenaarskerm verskyn?

Wat is cookies?

Wanneer ’n webblad cookies gebruik, beteken dit die webblad stoor ’n klein lêer op jou rekenaar, verduidelik Petrie van Zyl, streeksbestuurder van Dial a Nerd van Kaapstad. 

“Hierdie lêer bevat die webblad se besonderhede asook ’n unieke identiteitsnommer wat jou as ’n verbruiker van die webblad identifiseer,” verduidelik hy. Cookies word gebruik om inligting in te win, soos jou soekgeskiedenis, besoeke aan webblaaie, en jou verbruikersgedrag.

Petrie verduidelik dat die cookies jou toestel, soos ’n skootrekenaar of tabletrekenaar, toelaat om jou aanlyn gedrag te leer ken deur tred te hou van jou vorige internet-soektogte.

“Sodoende raak jou toekomstige soektogte meer akkuraat en jou rekenaar kan voorspel waarna jy opsoek is. Dit word ook gebruik vir marknavorsing en advertensies wat jou direk teiken.

“Het jy al ooit na verblyf, huurmotors of vlugte gesoek en dan ’n paar minute later is jou Facebook-nuusblad vol advertensies vir verblyf, huurmotors of vlugte? Dit is as gevolg van Facebook wat na die cookies op jou rekenaar verwys en opgetel het dat jy hierdie dienste nagevors het. Nou word jou presiese navorsingbehoeftes deur hul adverteerders geteiken,” verduidelik Petrie.

Webblaaie met groot databassise inligting, soos intekenbesonderhede of aanpasbare tema’s, maak van cookies gebruik. Dan kan jy gewoonlik danksy die cookies aangaan waar jy laas opgehou het of die webblad word outomaties aangepas na aanleiding van jou voorkeure, verduidelik die webblad All About Cookies.

Wat moet jy doen?

"As jy nie gemaklik daarmee voel om hierdie inligting (soos jou soekgeskiedenis en verbruikersgedrag) te deel nie, het jy die reg om die gebruik van cookies van die hand te wys,” sê Petrie. Kies bloot 'nee' wanneer die blad jou vra of jy die cookies aanvaar.

Petrie meen dit is veiliger om slegs cookies van webblaaie waarmee jy bekend is, te aanvaar. “Moet nooit cookies aanvaar van ’n webblad waarmee jy nie vertroud is nie, of as jy die webblad nie goed ken nie,” sê hy. 

Die cookies kan nie self nie jou rekenaar of tabletrekenaar beskadig nie.

“Maar deur cookies van webblaaie wat jy nie vertrou nie te aanvaar, kan jy dalk onwetend vir kubermisdadigers toegang tot jou toestel of vertroulike inligting gee,” waarsku hy. 

Wat gebeur as ek 'nee' sê vir cookies?

“Jy sal steeds die webblad kan gebruik, maar wetlik mag die webblad dan nie ’n cookie op jou rekenaar behou nie. Maar omdat die rekenaar nie historiese inligting van vorige besoeke aan die webblad kan stoor nie, sal jy dalk spesifieke inligting op die webblad weer moet intik elke keer as jy die blad besoek,” sê Petrie.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.