Die kwik styg – en dit beteken ons slibberige vriende kom uit hul winterslaap. Dis dus tyd om ekstra versigtig te wees wanneer jy met jou hond buite gaan stap.

Ongelukkig sal Wagter nie twee keer dink om sy neus in ’n slanggat te druk of, selfs erger, ’n slang wat oor sy pad kom te probeer aanval nie.

“Die meeste honde verstaan nie slange kan dodelik wees nie en sal ’n slang probeer aanval of ten minste daaraan probeer ruik,” sê dr. Rouxlene Sheridan, ’n veearts van Moorreesburg in die Wes-Kaap.  

“ ’n Slang kan hierdie optrede as ’n bedreiging beskou en verdedigend optree. Katte word selde gebyt omdat hulle ’n aangebore begrip van die gevaar het.”  

Wenke om slange te vermy

  • As jy in ’n gebied is wat bekend is vir slange, hou jou hond liefs aan ’n leiband. Dis veiliger.
  • Moenie jou hond laat onder­soek instel as ’n slang dood lyk nie – talle maak net of hulle dood is.
  • As die hond met sy poot aan iets krap of dit besnuif, roep hom of trek hom weg.  
  • Hou by gemerkte roetes en oop paaie waar dit makliker is om slange raak te sien.
  • Die meeste slange jag saans, so moenie ná sonsondergang met jou hond gaan stap nie.

Simptome van ’n slangbyt

  • Gaatjiewonde (met of sonder bloeding)
  • ’n Pynlike area rondom die bytmerk
  • Asemhalingsprobleme
  • Oormatige speeksel
  • Skielike swakheid gevolg deur ineenstorting
  • Rukkende spiere en sukkel om oë te knip
  • Verlamming
  • Braking en inkontinensie
  • Bloed in urine

Wat om te doen

Moenies

  • Probeer om nie paniekbevange te raak nie en stap met of dra jou hond terug motor toe. Neem hom dadelik na jou naaste veearts of dierehospitaal. Slanggif het amper onmiddellik ’n uitwerking en jou vinnige reaksie verhoog jou hond se kans op oorlewing.
  • Moenie ’n toerniket aanwend of die gif probeer uitsuig nie. Moet niks op die wond plaas nie behalwe koel water om dit skoon te maak.

Moets

  • Probeer ’n foto neem van die slang of probeer ’n prentjie in jou kop vorm van sy merke – dit sal die veearts help om te identifiseer watter teengif om te gebruik.
  • “Omdat teengif duur is en ’n kort rakleeftyd het, hou talle klein praktyke dit nie aan nie,” sê dr. Izak van der Vyver, ’n veearts van Durbanville.
  • “Die beste is om na ’n 24-uur-hospitaal te gaan. Indien die dier asemnood ondervind, word hulle aan ventilators gekoppel, en tesame daarmee kry hulle ook die teengif.”
Gevaarlikste slange in SA
Stadig bewegende pofadders is moeilik om raak te s
Stadig bewegende pofadders is moeilik om raak te sien, selfs in die ooptes, maar pof dikwels hul lyf op en gee ’n waarskuwende sisgeluid as hulle bedreig voel. Foto: Gallo Images/Getty Images

Swartmamba

Die mees gevreesde slang in Afrika is groot, vinnig en uiters giftig.

Dis nie swart nie, maar olyfbruin of grys. Dit word in Noordwes, Limpopo, Mpumalanga en die noorde van KZN aangetref.

Boomslang

’n Kalm maar ­uiters giftige slang wat dwarsoor SA aangetref word. Hoewel dit uiters giftig is, werk die gif stadig en simptome kan tot 24 uur neem om te verskyn. Kleure wissel van ligbruin tot swart en heldergroen.  

Kaapse kobra

Een van die wêreld se giftigste en aggressiefste kobras. Die kleur wissel tussen goud en swart en dit het soms spikkels.  

Mosambiekse spoegkobra

Die tweede giftigste naas die swartmamba. Dit kan grys, olyfkleurig of bruin wees met swart skubbe en swart stroke oor die nek. Dit word meestal in die noordelike dele van SA aangetref.

Wipneuskobra (ook bekend as die Egiptiese kobra)

Minder giftig as die Kaapse kobra, maar baie dodeliker vanweë die groot hoeveelheid gif wat dit toedien. Sy kleur wissel van effens goudkleurig of lei­klipbruin tot donkerbruin of swart met dowwe geel stroke.

Pofadder

Die slang wat die algemeenste in Afrika voorkom. Hulle is verantwoordelik vir die meeste byte vanweë hul kamoeflering en traagheid. Hulle kan liggeel, bruin of oranje met helder of dowwe sjevronmerke wees.

Bronne: www.nature-reserve.co.za, www.tah.co.za, friendsofthedog.co.za
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.