Dit is een van die lewe se mooiste klanke en beteken gewoonlik jou kat is in ’n toestand van saligheid. Maar het jy geweet katte spin ook wanneer hulle bang is, pyn ervaar of ontsteld is?

Bewyse toon spin is nie net ’n manier van kommunikasie nie; dis ook ’n verdedigingsmeganisme en ’n manier vir jou kat om in stresvolle of pynlike situasies kalm te bly – byvoorbeeld ’n besoek aan die veearts of tydens kraam.

Navorsers het ook onlangs ’n nuwe soort spin geïdentifiseer wat die sollisitasie-spin genoem word.

Dit verander die normale spingeluid in ’n soort smekende spin, ’n dringende, vraende klank soortgelyk aan dié van ’n huilende baba. Die gevolg is dat ons instinktief wil help.

SO HELP SPIN

  • In die babatjietyd: Omdat katjies blind en doof gebore word, het hulle die vibrasies van spin nodig om met hul ma en boeties en sussies te kommunikeer en ’n band te vorm. Huiskatte spin gewoonlik teen ’n frekwensie van 18 tot 20 Hz. 
  • Wanneer die lewe druk: Die spingeluid, met sy laefrekwensievibrasies, is ’n “natuurlike genesingsmeganisme”, volgens dr. Elizabeth von Muggenthaler, ’n katkenner en voorsitter van die Instituut vir Navorsing oor Dierekommunikasie. “Dit is goed vir die genesing van spier-, sening- en ligamentbeserings, asook gewrigsbesering, wondgenesing, vermindering van infeksie en swelling en pynverligting,” sê sy.
  • Dis goed vir jóú! Dit is wetenskaplik bewys dat ’n kat se spin terapeuties vir mense is en dat kateienaars ’n beduidend laer risiko het om hartprobleme te ontwikkel. Dit is heel waarskynlik danksy verlaagde bloeddruk wat deur strelende spingeluide teweeggebring word. Krul volgende keer wanneer jy gespanne is saam met jou kat op die rusbank op en kyk of die vibrasies op jou werk. 
Het jy geweet?
Katte wat spin, kan nie brul nie en katte wat brul, kan nie spin nie as gevolg van ’n beentjie wat in die stembande voorkom wat by brullende katspesies soos leeus buigsaam is, maar nie by huiskatte nie. 

Ontmoet die wêreld se lelikste hond

Die eertydse rondloper, wie se deurmekaar maanhare volgens sy amptelike biografie deur geen hoeveelheid opknapper getem kan word nie, het sterk kompetisie uitgestof by die jaarlikse kompetisie wat in Petaluma, Kalifornië, gehou is.

Sy eienaar, Yvonne Morones, sê sy het Scamp op die laaste nippertjie by ’n diereskuiling in Los Angeles gered.

“Op pad huis toe het ek dadelik geweet ek het reg besluit. Daar was ons – twee vreemdelinge – in ’n motor op pad huis toe na ’n nuwe begin . . . Dit was asof hy geweet het hy het sy permanente huis gevind.” Sy noem hom ’n “Rastafariër-hond”.

“Sy swart lyfhare groei nie, en maak nie saak hoeveel keer hy die versorger besoek nie, sy hare groei natuurlike grys rastalokke teen sy rug af.” Maar sy eiesoortige onooglikheid gepaard met ’n blye geaardheid is ’n trefferkombinasie.

Scamp werk as troetelterapeut by ’n sentrum vir seniors waar sy swaaiende stert vir baie glimlagte sorg.

Hy werk ook weekliks as vrywilliger om te luister hoe graadeentjies stories lees en help op aannemingsdae by ’n diereorganisasie, waar hy harte laat smelt.

Bronne: CNN.com, Littlethings.com, Independent.co.uk