BETER IN BOTTER 

botter, kruid
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Een van die maklikste maniere om kruie te bewaar, is om kruiebotter te maak, want dit kan weke lank in die ys- of vrieskas gebêre word. Kap ’n paar van jou guns­telingkruie op en meng dit met botter wat jy kamertemperatuur laat bereik het.

Beproef ’n kombinasie van 10 ml (2 t) vars tiemieblare, 30 ml (2 e) vars pietersielie en 15 ml (1 e) grasuie. Vir ekstra geur, voeg twee fyngedrukte knoffelhuisies en ’n knippie sout en peper by. Skep dit in kleefplastiek en vorm in ’n staaf of blok. Vou of draai die punte toe om te verseël en bêre in die ys- of vrieskas. 

WENK
Gebruik kruiebotter as ’n vinnige vryfmiddel aan gebraaide hoender, bees- of varkvleis of om ’n knoffelbrood te maak.

BEWAAR DIT IN OLIE

kruid
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Kry die meeste geur vir min moeite op dié manier. Gegeurde olie gee bredies, braaigeregte of sop woema. Verwyder die blare van kruie soos tiemie, origanum, salie, roosmaryn en basilie van hul stele. Breek dit grof op en plaas in die holtes van ’n ysbakkie. Vul elke holte halfpad met kruie en bedek met ekstrasuiwer olyfolie. Bedek die houer met kleefplastiek en plaas in die vrieskas. 

WENK
Gee die kruieblokkies ’n bietjie skop deur gekapte vars brandrissie by party of al die holtes te voeg. 

DROOG DIT UIT 

Bind ’n paar takkies van jou gunstelingkruie in bossies vas. Hang dit op in ’n donker, goed geventileerde plek in die huis. Sorg dat dié gebied nie klam is nie, want dit kan muf laat groei. Laat die bossies hang tot die kruie droog voel en krummel dit dan in flesse om te bêre. 

Wenk
Die geur van droë kruie verdwyn ­vinnig; gebruik dit so gou moontlik. 

PESTO-PERFEKSIE 

kruid
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Basilie en dennepitte is waarskynlik die bekendste pestokombinasie, maar moenie daar ophou nie. Die resep werk goed met vars, sagte kruie soos pietersielie, ment, grasuie, dille, koljander en dragon. Was 500 ml (2 k) gekapte kruie van jou keuse goed om van enige grond ontslae te raak.

Voeg dit in ’n voedselverwerker saam met 1 knoffel­huisie, 15 ml (1 e) gerasperde parmesaankaas en neute (kies tussen amandels, pistachio-, pekan- of okkerneute). Voeg laastens 125 ml (½ k) olyfolie (of meer as jy ’n loperige pesto verkies) en verwerk tot glad. Eersteklas! 

Wenk
As jy ’n neutallergie het, gebruik sonneblom- of pampoenpitte om dit bros te maak.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.