Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images
Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images

Verlede jaar se aanbiedings op Swart Vrydag en Kuber-Maandag was die grootste nóg in Suid-Afrika met meer as sewe miljoen transaksies wat verwerk is – dis ’n 36%-toename van die vorige jaar – en meer as R6 miljard se kaarttransaksies is aangegaan, volgens BankservAfrica.

Vanjaar gaan dinge effens anders lyk, want die laaste plek waar die meeste mense tans wil wees, is in die middel van ’n skare gretige kopers.

Hier is pandemie-vriendelike Swart Vrydag-inkopiewenke vir diegene wat steeds soek na winskopies voor die feestyd.

Vermy fisieke winkels 

Die meeste groot handelaars het aanlyn winkels waar kopers hul inkopies kan doen. As jy nie gesond voel nie of nie jouself aan die virus wil blootstel nie, is dit beter om aanlyn te koop. Jy het dalk ook ’n beter kans om die items te kry wat jy begeer as om jou weg deur ’n groot skare te baan.

As jy winkel toe gaan 

Gaan die winkel se bedryfsure na, want talle het hul tye weens die pandemie verander. Dit sal jou help om jou dag te beplan en steeds vroeg genoeg daar te wees.

Los die kinders tuis of by iemand wat jy vertrou 

Dis ’n veiliger opsie vir hulle, want hulle kan weg raak in inkopiesentrums of vinnig prikkelbaar raak. As jy hulle nie tuis kan los nie, maak seker jy hou hulle deurentyd dop.

By veilig deur jou masker te dra, jou eie ontsmettingsmiddel saam te dra en soveel afstand moontlik te hou.

Winkels sal vol wees, maar jy moet steeds probeer om die gesondheidsriglyne te volg.

Wees bewus van jou omgewing 

Foto ter illustrasie: Pexels/Eduardo Soares
Foto ter illustrasie: Pexels/Eduardo Soares

Vol plekke met bedrywige kopers kan ’n misdadiger se speelgrond word. Wees waaksaam en beskerm jouself en jou besittings.

As jy met kontant koop, maak seker jy trek geld die dag of dae vooraf sodat jy OTM’s kan vermy. Dit kan jou ’n maklike teiken maak wanneer dit bedrywig is.

As jy aanlyn koop, wees op die uitkyk vir verdagte URL’s 

Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images
Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images

Kubermisdadigers is bewus van die opwinding rondom Swart Vrydag en sal ook daarby probeer baatvind. As jy dus iets aanlyn koop, maak seker dis van die regte handelaar of winkel. Wees op die uitkyk vir https:// en vermy webtuistes wat nie die “s” in hul skakel het nie – dit dui aan dat die webblad wat jy besoek, onveilig is.

Wees versigtig vir skelmstreke 

Foto ter illustrasie: Pexels/Karolina Grabowska
Foto ter illustrasie: Pexels/Karolina Grabowska

Vermy groot winskopie-aanbiedinge wat buitengewoon goedkoop is. Dit kan ’n skelmstreek wees. Die algemene reël is as iets te goed klink om waar te wees, dan is dit waarskynlik.

Swart Vrydag is natuurlik ’n tyd wanneer ons waarskynlik gaan geld uitgee, maar dis belangrik om te verstaan hoe, wanneer en hoekom ons dit doen, sê Kim Mopelong, die produkhoof van Multiply Money.

“Hoewel ons almal gesonder geldgewoontes wil kweek en ons finansiële kennis wil verbeter, vergeet ons dikwels ’n bestedingsgewoonte is presies dit – ’n gewoonte. Met volgehoue en pligsgetroue inspanning, kan alle ‘slegte’ gewoontes verbreek word,” sê sy.

“Sodra jy die impak van jou gewoontes op jou finansiële sekuriteit besef, sal jy in ’n beter posisie wees om verstandige keuses te maak wat vir jou en jou gesin werk.”

Kim gee die volgende raad om jou die skuldstrik hierdie Swart Vrydag en verder te help vermy.

Ken jou finansiële welstand 

Eerstens, gee jou geldsake ’n eerlike oorsig

“Vergelyk jou maandelikse inkomste met al jou uitgawes. Die vergelyking kan outomatiese debietorders en maandelikse betalings soos huurgeld en bankkoste insluit. Dis belangrik om ’n duidelike prentjie van hierdie uitgawes te hê sodat jy besteding reg prioritiseer en nie meer uitgee as wat jy kan bekostig nie,” sê Kim.

Om tred te hou van jou geldsake en jou uitgawes te kategoriseer, sal jou help om jou spaargeld te identifiseer en jou aanmoedig om meer te spaar.

Moenie impulsief koop nie

Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images
Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images

Moenie in die strik trap van impulsief koop nie, veral nie met een van daardie “jy-mag-dit-nie-misloop-nie”-aanbiedinge. Swart Vrydag is nuttig wanneer jy ’n winskopie kry op iets wat jy al ’n ruk lank beplan het om te koop.

“Maak ’n lysie van die dinge wat jy benodig en wees op die dag bereid om te soek vir ’n goeie winskopie net op daardie spesifieke items. Moenie enigiets koop wat nie op jou Swart Vrydag-inkopielysie is nie,” sê Kim.

“Wanneer jy aanlyn koop, kan jy voorberei deur die items waarvan jy hou op jou wenslysie te plaas en dit in jou mandjie te voeg sodra die afslag toegepas word.”

Gebruik jou beloningsprogramme of kontant wat terugbetaal word

Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images
Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images

Gebruik jou lojaliteitsprogramme en kyk of jy jou spaargeld behoorlik kan benut deur die afslagitems wat jy wil hê deur hulle te koop.

Beplan vooruit

Voor Swart Vrydag-koors jou beetpak, oorweeg dit om dinge soos terug-skool-toe-items nou te koop. Om noodsaaklikhede eerste te koop, beteken ’n bietjie gemoedsrus en ekstra geld in Januarie.

Soek vir die beste winskopie

“Net omdat dit Swart Vrydag is, beteken nie alle winkels het dieselfde afslag op die items wat jy soek nie; vergelyk dus pryse. Dis maklik om aanlyn te doen en verseker dat jy lang toue by inkopiesentrums vermy,” sê Kim.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe