Danksy tegnologie kan mense steeds met familie en vriende in aanraking bly, maar dit beteken ook ons hou meer aanlyn vergaderings en konferensies.

FaceTime, Zoom, Skype en Teams is maar ’n paar van die apps wat gebruik word om tydens die ongehoorde tye te kommunikeer.

Maar ondanks die feit dat ons nie in dieselfde vertrek sit vir die vergaderings nie, moet jy steeds jou beste voetjie voorsit.

Amanda Ellis van Mint Management Technologies wat gereeld opleiding vir besighede gee hieroor sê mense moet steeds aanlyn vergaderings professioneel benader en dit is moontlik om fiasco's te voorkom.  

"Jy gaan nie in 'n vergadering op kantoor sit en rook of eet nie. Moenie dit aanlyn doen nie."

Maar jy hoef jounie te veel te bekommer oor kinders in die agtergrond of troeteldiere wat raas nie, sê Amanda.

"Baie mense werk nou van die huis af en besighede en mense is baie meer bereid om toegewings te maak. Besighede moet onthou, mense se persoonlike lewe maak nie net inbreuk op werk nie, maar werk maak ook nou inbreuk op mense se persoonlike lewe," sê sy. 

Hier is agt “reëls” om na te kom met jou volgende video-oproep:

1. Moenie jou mikrofoon dadelik aanskakel nie. Wanneer jy nie praat nie, is dit belangrik om jou mikrofoon te demp, want agtergrondgeraas kan ander steur. Dit is ook goeie etiket om jouself voor te stel wanneer jy by die vergadering aansluit. 

2. Moenie laat wees nie. Wees stiptelik. Skakel ’n paar minute vroeër in. Sodoende sal jy genoeg tyd hê om tegniese haakplekke uit te stryk wat dalk opduik voor die vergadering begin.

3. Moenie in nagklere aanlyn gaan nie. Al is jy in die gemak van jou huis, moet jy fatsoenlik en so voorbereid soos vir ’n vergadering in lewende lywe lyk. Sorg dus dat jy gepas aantrek.

4. Maak seker julle het steeds 'n agenda vir die vergadering en bly daarby. Mense is steeds besig so moenie mense se tyd mors nie.

5. Kyk wat in die agtergrond van jou kamera is. "Ek was al in 'n vergadering en in die agtergrond was 'n rak vol toiletpapier gepak en ek kon nie ophou daarna staar nie," sê Amanda. Sy stel ook voor jy skakel jou kamera af as jy nie praat nie. "Baie van die produkte het 'n funksie waar jy die agtergrond kan blur of 'n ander agtergrond kies. Gebruik dit om jou omgewing meer professioneel te laat lyk.

6. Moenie bo-oor ander praat nie. "As jy iets wil sê, kondig jouself aan en praat dan. Sê byvoorbeeld: 'Amanda hier, ek wil graag bylas...' Die fasiliteerder van die vergadering kan ook orde handhaaf deur te sê 'so en so was besig om te sê'."

7. Moenie eet of rook nie. "Dit is nie goeie etiket om te sit en rook of eet in 'n vergadering nie, al sit jy in jou eie huis," maan Amanda. 

8. Maak seker jou vergadering se intellings op die app is korrek. "Die meeste produkte laat toe dat jy besluit wie in die vergadering hulle skerm kan deel. Dit sal verhoed dat ander mens onvanpaste inhoud deel. Dit is veral handig as dit klomp mense op die oproep is," sê sy.