Pragtige vrou gesels op haar selfoon.
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Alamy

Óf jy's dol daaroor óf dit dryf jou teen die mure uit. Dis nou “voice notes”, oftewel stemboodskappe, op kletsplatforms soos WhatsApp. Maar hoe jy ook al daaroor voel, daardie blikstemme oor jou selfoon gaan nie sommer stil raak nie.

Weens die coronaviruskrisis werk en leef ons meer digitaal as ooit en is ook stemboodskappe gewilder as tevore. Baie mense het hulle die afgelope jaar tot stemboodskappe gewend omdat die kanse vir persoonlike kuiers saam met familie, vriende en kollegas so min was, sê Kaya Yurieff, ’n tegnokenner van CNN.

Om die opneemknoppie op jou foon te druk en te babbel voel vir baie mense meer soos persoonlike kontak met geliefdes. Daarteenoor beleef hulle die tik en stuur van teksboodskappe as koud, onpersoonlik, langdradig en meer moeite.

Conrad David, die stigter van Hashtag South Africa, ’n Johannesburgse digitalemediamaatskappy, verklaar die toenemende gewildheid van stemboodskappe aan die hand van ’n onlangse studie deur navorsers van die Universiteit van Kalifornië.

Daarvolgens kan die menslike stem 24 emosies in ’n enkele stemboodskap oordra. “Dit laat jou nader aan ’n mens voel as jy hul boodskap hoor eerder as om net getikte woorde en emoji’s te lees,” sê Conrad.

“Wanneer jy ’n stemboodskap stuur, hoef jy jou nie daaroor te bekommer of jy te veel uitroeptekens het of nie. En jy hoef nie te wonder of daardie ‘punt’ in ’n teksboodskap beteken jou vriend is kwaad nie.”

Ten spyte daarvan dat mense uiters verdeeld is oor
Ten spyte daarvan dat mense uiters verdeeld is oor stemboodskappe, meen kenners dié kommunikasievorm het tydens die pandemie ál gewilder geraak. Foto: Gallo Images/Getty Images

Tog bly mense verdeeld oor stemboodskappe ’n volle agt jaar nadat WhatsApp die funksie bekendgestel het. Sarah Britten, ’n sosialemediakenner by die Johannesburgse reklameagentskap Brand Factor, het onlangs haar sowat 2 500 Facebookvriende se menings oor stemboodskappe getoets.

Die resultaat? “Dis een van daardie Marmite-goed: Óf mense hou daarvan óf hulle haat dit,” sê Sarah.

En die twee kampe is omtrent 50/50 verdeeld. Haar raad is om bedagsaam en oordeelkundig te wees met die gebruik van stemboodskappe.

“Dis onbeskof om te kommunikeer in ’n vorm waarvan jy weet iemand nie hou nie. As jy wil hê jou boodskap moet tot iemand deurdring, is dit in jou beste belang om dit te doen in die vorm wat hulle verkies.” Maar Conrad glo die dermiljoene mense wat graag stemstukkies stuur, het ’n punt beet.

“Stemboodskappe is ’n geriefliker, intiemer en soms veiliger manier om kitsboodskappe te stuur.”

Hier is ’n paar basiese moets en moenies om te onthou voor jy in jou foon se mikrofoon begin klets.

Neem jou ontvanger se omgewing in ag

Stemboodskappe verg dat die mens moet stop en luister. Doen eers ekstra moeite en vra of die ontvanger in ’n posisie is om ’n stemnota te ontvang, sê die Amerikaanse tegnoblogger Hillel Fuld.

“ ’n Eenvoudige: ‘Is jy met iets besig of is dit in die haak as ek ’n stemnota stuur?’ sal voldoende wees,” sê hy. Moenie ’n stemnota stuur as jy nie ’n antwoord daarop kry nie.

Toon respek

’n Stemnota is steeds ’n vorm van een-tot-een-kommunikasie en dit is belangrik om te onthou wie die mens is vir wie jy dit opneem.

“Niemand wil luister hoe jy hul tyd mors met ’n klomp heen-en-weer-pratery terwyl jy by ’n winkel se betaalpunt is nie,” sê Jess Joho, ’n Amerikaanse kenner oor digitale intimiteit.

Hou dit kort en bly gefokus

Sarah, wat haar ’n stemnota-minimalis noem, meen dit is die beste om onder ’n halfminuut te bly.

“Ander met wie ek gepraat het, sê onder twee minute, maar vir my is dit te lank.”

Conrad stel voor jy breek dit in kleiner brokkies op as jy baie het om te sê.

“Sodoende kry die luisteraar vinnig die kern van elke stemnota sonder dat hulle verplig is om na ’n vyf minute lange alleenspraak te luister.”

Die goue reël is om so vinnig moontlik tot die punt te kom, sê Sarah.

Neem jou verhouding met die ontvanger in ag

Ten spyte daarvan dat mense uiters verdeeld is oor
Ten spyte daarvan dat mense uiters verdeeld is oor stemboodskappe, meen kenners dié kommunikasievorm het tydens die pandemie ál gewilder geraak. Foto: Gallo Images/Getty Images

“Moenie ’n stemnota stuur wat langer as drie minute is as jy nie besonder na aan die ontvanger is of weet die mens aan wie jy dit stuur, verpes die formaat nie,” sê Sarah.

Met ander woorde, doen jou huiswerk. Maak ’n punt daarvan om vir die mens te vra of hulle oukei is daarmee om stemboodskappe te ontvang.

Beplan wat jy wil sê

Dit klink dalk voor die hand liggend, sê Conrad, maar jy moet vooraf minstens vaagweg voorberei wat jy wil sê sodat jy nie afdwaal nie.

“Niks is frustrerender as om na ’n lang stemnota te luister wat 75% net ‘um’, ‘aa’ en baie sugte is nie.”

Maak seker dit is nie te kort nie

“Moenie die stemnota stuur as dit korter as vyf woorde of net ’n klank is nie,” sê Sarah. Soms sal ’n eenvoudige teksboodskap met “Ek stem”, “OK” of ’n duim-in-die-lug-emoji voldoende wees. Dit sal net die ontvanger irriteer as hulle op ’n baie kort stemboodskap druk. En dit wys jy’s lui.

Soms is teks die beste

Die goue reël is om nooit stemnotas te gebruik om aanwysings, datums, besonderhede oor ’n geleentheid, foonnommers of adresse oor te dra nie, sê Jess.

Dit is makliker om na ’n teksboodskap te verwys as om weer na ’n stemnota te moet luister. En al is stemboodskappe dalk nuttiger om nuanse mee oor te dra, kan dit in die beroepsomgewing onvanpas wees.

‘Dis een van daardie Marmite-goed: Óf mense hou daarvan óf hulle haat dit’

“Ek hou nie van stemnotas vir werk wanneer dit belangrike inligting behels nie. Oor die algemeen is enigiets wat nie op skrif is nie minder as ideaal, want dit is baie moeiliker om op te volg of ’n papierspoor te wys.

Daar is ook ruimte vir verkeerde vertolking as iemand nie duidelik gepraat het nie.”

Wees versigtig: Dit kan jou inkrimineer

Nes met enige vorm van kommunikasie kan die stuur van iets wat kleinerend of kwetsend is jou in groot moeilikheid laat beland.

“Gegewe dat dit jou werklike stem is, is dit baie moeiliker om toerekenbaarheid te ontken sou jou stemnotas in ’n regsaak of geskil teen jou gebruik word,” maan Conrad. 

Musiek vir die ore

Hoe maak jy jou luisterstukkies onweerstaanbaar vir jou vriend wat gewoonlik stemboodskappe verpes? Hier is Gyan Yankovich, ’n Australiese skrywer en redakteur, se wenke.

  • Begin elke boodskap deur die toneel te skik “Om te hoor iemand sit in die sonnigste hoek van hul woonstel of lê op hul bed help om dit te laat voel asof julle is waar julle moet wees: saam in dieselfde ruimte.”
  • Al voel jy ongemaklik of verleë, moet dit nie sê nie Moenie toelaat dat jou gevoelens ’n boodskap bederf nie, sê Gyan. “Om te sê jy voel vreemd sal nie jou eerste boodskap enigsins minder vreemd laat voel nie. Verswyg dit eerder en trek weg met die sappige dele.”
  • Praat oor iets wat jy daardie dag gedoen het “Die lekkerte van ’n stemnota is wanneer jy iets prettigs deel wat jy daardie dag gedoen het.” Gyan stel voor jy deel iets interessants wat jy deur die venster sien, wat jy gisteraand vir aandete gemaak het of die vreemde en wonderlike droom wat jy die vorige nag gehad het.
Bronne: repeller.com, mashable.com, cnn.com, theverge.com, inc.com, theguardian.com
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe