Oorweeg jy dit om ’n kamer in jou huis te verf? Die meeste huiseienaars weet watter basiese dinge jy moet doen om daarvoor voor te berei – soos om die muur af te skuur en die vloer en jou meubels met iets te bedek. Daar is egter ’n paar slim truuks wat die takie makliker kan maak. Gebruik dié wenke om seker te maak als verloop glad en jou mure lyk asof jy ’n professionele persoon betaal het om die verfwerk te doen.

WAG OP DROË WEER

Vogtigheid beteken die verf raak stadig droog en begin teen die mure afdrup; moet dus liefs nie op ’n reënerige dag verf nie. As jy moet verf wanneer die lug vogtig is, doen dit stadig.

MENG ALLES

Vra ’n verkoopspersoon om jou te help uitwerk hoeveel verf jy gaan nodig hê sodat jy dit alles op een slag kan koop. Giet dan al die verf in een groot houer en meng dit goed – pleks van een blik op ’n slag gebruik. Dit verseker die kleur bly deurgaans dieselfde.

GEBRUIK SEILDOEK

Velle plastiek is ’n goedkoop manier om jou vloere en meubels teen verfspatsels te bedek, maar dit kan glad raak as verf daarop val. Dis ’n beter idee om in seildoeke te belê. Dis duursaam, jy sal minder daarop gly en dit absorbeer enige druppels en spatsels. Boonop sal jy die seildoeke weer kan bêre vir ’n volgende keer, terwyl die plastiek meestal ná die tyd weggegooi word.

BLAAS NUWE LEWE IN JOU MASKEERBAND

Dit kan moeilik wees om maskeerband van ’n ou rolletjie af te trek sonder dat dit skeur of vassit. Blaas nuwe lewe in jou maskeerband deur dit 10 sekondes in die mikrogolf te verhit. Dit maak die gom sagter sodat dit makliker van die rol af wegtrek.

GEE JOU BASISLAAG ’N SKAKERING

Jy weet waarskynlik al dat ’n basislaag grondverf (primer) die algehele afwerking van jou verfwerk verbeter. Maar professionele verwers gee die basislaag dikwels ’n skakering deur dit met ’n klein bietjie van die bolaagverf te meng. Dié truuk verseker dat die oppervlak se basislaag beter bedek word deur die bolaag en die basiskleur nie deurslaan nie.

VERMY MERKE

Ongelyke lae verf veroorsaak lelike streepmerke. Dit gebeur as jy verf oor ’n verflaag wat reeds gedeeltelik droog is. Maak seker die rand van jou verfwerk bly nat deur die muur van bo na onder te verf en dan net ’n bietjie te skuif sodat jou verfhaal met die vorige een oorvleuel.

VERF VAN BO NA ONDER

’n Amateurverwer se muur het dikwels drupmerke wanneer hulle klaar is, maar die professionele mense verf hul foute toe deur van bo na onder te verf. As ’n deel eers begin het om droog te word, moet jy dit eerder uitlos. Om weer daaroor te verf kan merke en kleurstroke op die verfoppervlak los.

BÊRE JOU KWASTE SLIM.

Wanneer jy klaar is vir die dag, maar môre nog verder moet verf, hoef jy nie dan jou kwaste en rollers skoon te maak nie. Verf of rol net enige orige verf af en draai dan die kwaste en rollers in kleefplastiek toe. Sit dit in die yskas om dit vars te hou. Die volgende dag kan jy dit bloot 30 minute voor jy wil verf uit die yskas haal – dit sal dan soepel en reg vir verf wees. 

Bronne: realsimple.com, diynetwork.com, nationwide.com, popularmechanics.com
  • Ons doen ons bes om goeie raad saam te stel, maar jy beproef dié wenke op jou eie risiko. Huisgenoot aanvaar nie verantwoordelikheid vir enige skade of besering wat daardeur veroorsaak is nie.