Soms verskyn hulle uit die niet. ’n Oulike skilpadjie kruip op jou erf rond en smul aan gras. Of dalk het jy een van ’n besige pad gered en skielik besit jy ’n nuwe “troeteldier”.

Die eerste ding om te weet is dat ’n skilpad nooit as ’n troeteldier beskou moet word nie – hulle word as ’n wilde dier geklassifiseer en in Suid-Afrika is dit onwettig om een te hê sonder dat jy ’n behoorlike permit het.

“As jy een op die pad kry, tel hom op en plaas hom veilig aan die kant van die pad, in die rigting waarin hy beweeg het,” sê Vicki Hudson, CapeNature se ekologiese koördineerder.

“As een in jou tuin inkom, los hom net uit en moenie dat honde of katte hom pla nie. Hy sal uitgaan waar hy ingekom het.”

Deur skilpaaie in die natuur te los help bewaar jy gesonde bevolkings en ver­seker hul oorlewing.

Maar as jy ’n permit het om een te besit, is hier ’n paar basiese riglyne om te sorg hy is gelukkig en gesond.

Voldoende sonlig

Skilpaaie kan nie hul liggaamstemperatuur reguleer soos soogdiere nie, wat beteken hulle het hitte nodig om rond te beweeg. Om dié rede moet hulle soveel moontlik buite in die son wees.

Die son is ook goed vir hul dop, want dit help hul kalsiumvlakke reguleer.

Habitat

Hoe natuurliker hul omgewing is, hoe beter, soos met enige wilde dier. In die natuur bewoon skilpaaie ’n groot gebied om ’n gesonde dieet te bekom. Dus moet jy, indien moontlik, ’n groot hok vir hulle kry of hulle toelaat om vry rond te loop in die tuin.

As hulle in die tuin is, sorg dat hulle nie by jou eiendom kan uitkom nie. As jy ’n heining het, sorg dat dit tot onder die grond strek, want party spesies kan grawe en ontsnap.

Skilpaaie het ook skuiling nodig om in te slaap, skaduwee te kry of van slegte weer te skuil. Hulle moet ook teen roofdiere soos honde beskerm word.

’n Maklike opsie is om ’n hut te bou deur ’n gat in die grond te grawe, ’n bokant by te voeg en dit dan met grond te bedek.

Jy kan ook ’n eenvoudige hut koop of maak en sagte beddegoed soos veen, strooi, sand of grassnysels binne-in sit.

Kos en water

Vars kos en water is noodsaaklik. Skilpaaie is herbivore en vreet plante wat endemies is aan hul natuurlike omgewing. Gee hulle soveel moontlik natuurlik groeiende kos.

Kosse wat uit die kombuis gebruik word, moet deeglik gewas word om enige spoor van plaagdoders te verwyder.
Aanbevole kosse is onder meer murg­pampoentjies, wortels, pampoen/botter­skorsie, skorsie, bronkors, roket, sampioene, komkommer, krulkool, krullerige en rooiblaarslaai en eetbare blomme.

Sorg dat die kos fyngekap of in dun skywe gesny is. Maal die kos fyn vir baba-­skilpaaie. Voer hulle af en toe vrugte.

Moenies

  • Moenie onkruid of plante uittrek en dit vir skilpaaie voer nie, want dit kan giftig raak namate dit verlep.
  • Moenie vir jou skilpad geblikte kat- of ­honde­kos of honde- of katpilletjies gee nie.
  • Moenie spinasie gee nie, want dit bind kal­sium en veroorsaak ’n kalsiumtekort.
  • Moenie toelaat dat jou skilpad honde- of katte­mis eet nie, want dit kan hulle met parasiete besmet.

Moets

  • Gee aanvullings – enige goeie vitamien-/mineraal-aanvulling bo-oor kos een keer per week is voordelig. Vra by jou veearts raad.
  • Ekstra kalsium word ook aanbeveel. ’n Mak­like opsie is om inkviskraakbeen in hul gebied te sit vir hulle om aan te kou of dit oor hul kos te rasper. Skilpaaie sal ook aan bene knaag om mindere minerale in te kry.

Nuwe tuiste

Moet nooit ’n skilpad wat in aanhouding was in die natuur vrylaat nie. Skenk dit eerder aan ’n natuurreservaat, of kontak jou naaste bewaringsorganisasie om iemand op te spoor wat gemagtig is om skilpaaie aan te hou.

Kontak CapeNature Conservation, SANParke of jou plaaslike munisipaliteit, wat jou nog raad sal kan gee. 
Skilpadfeite
  • Die naam laat dit dalk nie so klink nie, maar ’n waterskilpad is nie ’n skilpad nie! Dis ’n reptiel met ’n dop wat tot die orde Chelonii behoort. Die term “skilpad” verwys spesifiek na landskilpaaie – en nee, skilpaaie kan nie swem nie.
  • Die skubbe op ’n skilpad se dop staan as skildplate bekend. Die getal groei­ringe op die skildplate dui die skilpad se geskatte ouderdom aan.
  • Skilpaaie is uniek in dié opsig dat hulle ’n eksoskelet (’n dop) sowel as ’n endo­skelet (ruggraat en ribbes) het.
  • Hulle kan lank leef – meer as 50 jaar ?is nie ongewoon vir ’n skilpad nie. Die wêreld se oudste skilpad het trouens die rype ouderdom van 189 gehaal! 

Bronne: mentalfloss.com, carecentre.org.za
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.