Maar tog is daar dikwels die vrees: Gaan dit reg uitkom? Hoekom rys dit nie? Hoe op aarde het ek dit gebrand?

Hier is ’n paar eenvoudige wenke wat van jou ’n bobaasbakker sal maak.

1. Hoe gemaak as jy lus is vir piesangbrood, maar daardie tros piesangs is nog groen?

Bespoedig die rypwordproses deur ’n bakplaat met foelie oor te trek en die vrugte met die skil aan in die oond te sit. Bak dit by 150 °C tot die piesangs sag binne en donkerbruin aan die buitekant is.

Ter illustrasie. Foto: Getty Images/Gallo Images
Ter illustrasie. Foto: Getty Images/Gallo Images

2. Dankie tog vir kossproei. Bespuit die maatkoppie of kombuisgereedskap vooraf met kossproei wanneer jy met taai bestanddele soos heuning, stroop of olie werk – dit verhoed dat enige taai vloeistof agterbly.

3. Die perfekte beslag benodig eiers by kamertemperatuur. As jy jou eiers in die yskas hou, moet jy dit vir 10 minute in ’n bak warm water plaas om van die koue ontslae te raak. Moenie kokende water gebruik nie; dit kan die eierdop kraak of die eier gaarmaak.

4. Moenie bekommerd wees as die bruinsuiker in jou koskas kliphard geword het nie. Sit ’n dun snytjie appel vir ’n paar uur by die suiker in ’n lugdigte houer om die korrels sag te maak.

5. Keer dat die beslag oral spat wanneer jy ’n handmenger gebruik deur gate in ’n papierbord te sny en dit bo die klitsers te plaas. Die papierbord tree soos ’n skild op terwyl jy die beslag meng.

Ter illustrasie. Foto: Getty Images/Gallo Images
Ter illustrasie. Foto: Getty Images/Gallo Images

6. Is jou koekroller altyd soek wanneer jy dit wil gebruik? Drink ’n glas wyn vir die stres en gebruik dan die wynbottel as ’n koekroller.

Dit maak nie saak of hy leeg of vol is nie; verwyder bloot die etiket, spoel die oorblyfsels daarvan af en bedek die bottel in kleefplastiek voor jy dit gebruik om jou deeg uit te rol.

Ter illustrasie. Foto: Getty Images/Gallo Images
Ter illustrasie. Foto: Getty Images/Gallo Images

7. Jy het die perfekte koek gebak – laat dit nou soos bobaasfyngebak lyk. Laat ’n koekievorm saggies bo-op die koek rus en strooi net genoeg strooiversiersel daarin om die versiersuiker binne-in die vormpie te bedek.

Dit is ’n maklike manier om jou skepping uniek te maak met iemand se ouderdom of naam op.

Maak jou eie

VERSIERSUIKER

Meng 250 ml (1 koppie) suiker en 5 ml (1 teelepel) mielieblom in ’n menger tot dit poeierig raak. Gebruik ’n sif om klonte te verwyder.

KARRINGMELK

Meng 250 ml (1 koppie) melk en 5 ml (1 teelepel) vars lemoensap goed in ’n mengbak.

Ons doen ons bes om goeie raad op te stel, maar jy beproef dié wenke op jou eie risiko. Huisgenoot aanvaar nie verantwoordelikheid vir enige skade of besering wat daardeur veroorsaak is nie.

BRONNE: LIFEHACK.ORG, CRAFTSY.COM, MYKITCHEN.CO.ZA, ONEGOODTHINGBYJILLEE.COM, COSMOPOLITAN.CO

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.