Terwyl die land vir die volgende 21 dae in inperking is, sal die gedrukte weergawe van Huisgenoot nie in winkels beskikbaar wees nie. Maar jy sal steeds jou weeklikse dosis nuus-, leefstyl- en vermaakstories kan kry: Met die apps en webtuistes Netwerk24, Zinio en Magzter is dit maklik om die digitale weergawe van Huisgenoot te lees – sonder dat jy jou sitkamer verlaat.

Laai eenvoudig ’n app op jou foon of gaan na die internet op jou rekenaar, en volg hierdie eenvoudige stappe om met jou gunsteling-leesstof te ontspan.

Opsie 1: Netwerk24

Die beste manier om vinnig toegang tot al Huisgenoot se inhoud te kry, is om ’n intekenaar van Netwerk24 te word. As intekenaar kan jy Huisgenoot se tydskrifinhoud aanlyn as ’n e-weergawe lees wat presies soos die papiertydskrif lyk.

Jy kry ook baie meer waarde vir jou geld in die vorm van eksklusiewe webstories en video-inhoud, asook toegang tot al die nuus op Netwerk24, die inhoud van meer as 30 koerante en nog nege ander tydskrifte.

Dit beteken jy kan ook tydskrifte soos Kuier, Sarie, Tuis, Weg!, Weg! Ry en Sleep, Landbouweekblad, Baba en Kleuter, TV Plus en die koerante Rapport, Beeld, Die Burger, Volksblad en 31 gemeenskapkoerante in elektroniese formaat lees.   

Hoe word ek 'n intekenaar?

Stap 1:

Besoek die App Store of die Play Store op jou foon om die gratis Netwerk24-app af te laai, as jy op jou foon wil lees.

Indien jy op jou tablet, persoonlike of skootrekenaar gaan lees, gaan direk na Huisgenoot of Netwerk24 se webtuiste.

 Stap 2

Indien jy reeds ’n intekenaar is, kan jy die “Meld aan”-knopie gebruik om jou e-posadres en wagwoord in te vul. As jy nog nie ’n intekenaar is nie, sal jy ’n profiel moet skep deur op “Word ’n intekenaar” te kliek.

Registreer deur jou persoonlike besonderhede (naam, van, e-posadres en kontaknommer) in te vul en op “Word ’n intekenaar” te kliek. 

Let op: Daar is die opsie van ’n gratis toetstydperk van 30 dae, maar jy sal dan slegs toegang tot Netwerk24 se inhoud en die oorspronklike e-koerante kry. Jy sal nie tydens die toetstydperk tydskrifte kan lees nie.

Stap 3

Jy sal herlei word na ’n blad met twee pakkette waaruit jy kan kies. Die gewildste pakket is die R99-opsie, wat jou onbeperkte toegang tot al die koerante en tydskrifte gee. Maak jou keuse om verder te beweeg. 

Stap 4

Netwerk24 bied vier betaalopsies vir nuwe intekenaars. As jy nie met ’n kredietkaart wil betaal nie, kan jy ’n debietorder versoek deur die dienssentrum wat jou sal terugbel. Hul nommer is 087-353-1300.

Jy kan ook jou R99-intekening by jou Vodacom-kontrak voeg.

Hoe lees ek Huisgenoot in tydskrifformaat as Netwerk24-intekenaar?

Stap 1

Gaan na Huisgenoot of Netwerk24 se webtuiste. Kies “E-publikasies” op jou rekenaar of tablet. Jy sal outomaties herlei word na ’n blad waar die koerante en tydskrifte netjies in twee afdelings ingedeel is. 

Stap 2

Kies dat jy “Tydskrifte” wil lees. Op jou rekenaar lyk die biblioteek met tydskrifte nou so.

Stap 3

Kliek op die Huisgenoot-voorblad om toegang tot die aanlyn tydskrif te kry.

Jy sal stap vir stap verduidelik word hoe om die tydskrifleser te gebruik deur op die inligtingsknopie (i) te kliek.

Stap 4: Begin lees

Gebruik die pyltjies om te blaai of na die begin of einde van die uitgawe te spring.

Jy kan kies hoe die bladsye moet vertoon. Jy kan bladsye vergroot (plusteken) of verklein (minusteken), en dit volskerm of as ’n enkel- of dubbelbladsy lees.

As jy op ’n storie wil fokus, druk jy op die vergrootknoppie (plus). Gebruik dan die pyltjies bo, onder en aan die kante om op die bladsy wat jy lees rond te beweeg.

Verklein (minus) die blad as jy klaar gelees het en blaai verder om op hoogte bly van al die stories.

Nog nuttige funksies

Argief: Daar is ’n vol argief met vorige uitgawes beskikbaar.

Soekfunksie: Jy kan soekterme gebruik om al die uitgawes te deursoek en daardie gunstelingresep of ’n artikel oor ’n spesifieke onderwerp op te spoor.

Lees Later: Jy kan volle uitgawes of slegs enkele blaaie bêre om dit later te lees of vir as jy iets later weer wil oproep, soos ’n lekker resep of ’n mooi dekoridee. 

Internettoegang: Jy het internettoegang nodig om die e-publikasies te lees.

Die Lees Later-funksie stel jou wel in staat om te lees wanneer jy nie aanlyn is nie.

Hoe lees ek Huisgenoot in webformaat as Netwerk24-intekenaar?

As intekenaar kan jy al Huisgenoot se tydskrifinhoud aanlyn op huisgenoot.com lees.

Daar is ’n blokkie boaan Huisgenoot se webtuiste met die rooi opskrif "Tydskrif". Daar kan jy elke Vrydagoggend die hele tydskrif in webformaat lees. Dit is tot die daaropvolgende Donderdagaand beskikbaar. 

Wanneer jy ’n intekenaar is, kry jy ook toegang tot al huisgenoot.com se daaglikse stories wat nie in Huisgenoot se tydskrif verskyn nie: ’n daaglikse vars dosis nuus, ware lewensdramas, eksklusiewe stories oor bekendes en glansmense asook artikels met raad, nuttige wenke, wenresepte en vermaak. 

Opsie 2: Zinio of Magzter

Die twee platforms is 'n opsie as jy Huisgenoot digitaal wil lees, maar nie 'n Netwerk24-intekenaar wil word nie.

Stap 1 – Laai die app af

Besoek die App Store of die Play Store op jou foon om Zinio of Magzter af te laai. Albei apps is gratis. As jy op jou persoonlike of skootrekenaar gaan lees, gaan direk na die webtuistes deur op die skakels hierbo te kliek.

Stap 2 – Maak 'n rekening oop

Sodra die Zinio-app op jou foon afgelaai is of jy op die Zinio-webblad op jou skootrekenaar is, kliek op die ikoon in die boonste regterhoek om 'n nuwe rekening te skep. Tik jou e-posbesonderhede en 'n wagwoord in of kliek op die Facebook-logo om met jou Facebook-profiel in te teken.

Die proses werk dieselfde by Magzter, hoewel sommige van die funksies ander name het, soos ons hier onder verduidelik. Nou is jy gereed om ’n tydskrif te koop!

Stap 3 – Vind jou gunstelingtydskrif

Kliek op die soekikoon boaan die blad en tik "Huisgenoot" daar in om die jongste en vorige uitgawes te sien.

Zinio of Magzter
Op Zinio
Zinio of Magzter
Op Magzter

Stap 4 – Kry dit!

Kies die jongste uitgawe. Wanneer jy daarop kliek, sal jy twee prysopsies sien - een vir die spesifieke uitgawe waarop jy gekliek het en nog ’n opsie om jaarliks vir 52 uitgawes in te teken.

Gereelde lesers sal opmerk dat ons aanlyn weergawe teen R22,40 goedkoper is as die papierkopie in die winkel, wat R28 kos. En indien jy inteken, verminder die prys verder na R17,20 per uitgawe.

Stap 5 – Betaling

Sodra jy besluit het om die jongste uitgawe aan te skaf of om ’n intekenaar te word, kan jy betaal. Indien jy die registrasie eers oorgeslaan het, kan jy nou registreer. Jy sal gevra word vir jou krediet- of debietkaartbesonderhede.

Stap 6 – Welkom by jou biblioteek

Sodra jou betaling deur is, sal die tydskrif wat jy gekoop het, in jou biblioteek verskyn. Om in Zinio by die biblioteek uit te kom, kliek op "My Library" – dit sit boaan jou skootrekenaarskerm en onderaan jou foonskerm. Op Magzter word die biblioteek "My Collections" genoem, maar dit werk verder dieselfde. 

Jy sien dan al die tydskrifte wat jy gekoop het in alfabetiese volgorde of volgens die datum.

As jy op Huisgenoot inteken, sal die app outomaties 'n nuwe uitgawe by jou biblioteek voeg wanneer dit gepubliseer word.

Stap 7 – Reg om te lees

Jou toestel moet met die internet verbind wees om jou tydskrif te lees of af te laai – kliek op die tydskrifvoorblad om die twee opsies te sien – "read" en "download".

Jy kan dit aanlyn lees sonder om dit af te laai, maar dan sal jy weer met die internet moet verbind as jy dit weer wil lees of later wil terugkeer. Of jy kan dit aflaai deur op "download" te kliek en dit daarna sonder 'n internetverbinding aflyn lees.

Stap 8 – Kies hoe die tydskrif moet lyk

Jy kan kies om 'n digitale tydskrif in dieselfde formaat as die papiertydskrif te lees, met foto's en teks wat verskyn net soos dit in die gedrukte weergawe lyk, of om dit in teksformaat te lees soos 'n boek. Die teksformaat is baie nuttig as jy op 'n kleiner toestel lees en nie gedurig wil in- en uitzoem nie. 

Om na die opsie van net teks oor te slaan in Zinio, kliek op die "T"-ikoon regs op die blad as jy 'n rekenaar of skootrekenaar gebruik, of onderaan die blad op 'n foon of tablet. 

Kies die artikel wat jy wil lees uit die opwiplysie wat sal verskyn as daar meer as een artikel op die blad is. Kliek op die "A"-ikoon om die grootte van die teks en kleur van die agtergrond te verander.

Om terug te gaan na die tydskrifuitleg, kliek op die tydskrifikoon genaamd "PDF View".

Die teksopsie in Magzter word "ezRead" genoem en werk op dieselfde manier. 

As jy vashaak, kliek op die inligtingsimbool ("i") vir 'n kitsgids oor al die opsies.

Stap 9 – Lekker lees! 

Nie genoeg stoorplek nie?

Jou koffietafel gaan dalk 'n bietjie leër wees, maar ná 'n ruk kan jou toestel begin kla oor die tydskrif-app te veel ruimte opneem. Dit sal gebeur as jy baie tydskrifte afgelaai het. Jy kan afgelaaide tydskrifte in die argief sit om meer ruimte te skep.

In Zinio word hierdie funksie "Archive" genoem, en in Magzter "Remove". Jy verwyder egter nie die tydskrifte permanent uit jou biblioteek nie; jy kan dit weer later lees, sonder om weer te betaal, maar moet dit dan weer aflaai.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.