Met video-oproepe wat tydens die pandemie ál gewilder geword het, het WhatsApp nou besluit om hierdie manier van gesels ook op die rekenaarskerm moontlik te maak.

“Om op ’n groter skerm met jou kollegas of familie te praat, is duideliker en dit gee jou die vryheid om rond te beweeg sonder om die skerm vas te hou,” sê ’n WhatsApp-woordvoerder. 

Met verlede week se bekendstelling van WhatsApp Desktop ding WhatsApp, wat deur Facebook besit word, nou met  Microsoft se Skype en Apple se FaceTime mee in ’n tyd dat video-oproepe al deel van die “nuwe normaal” geword het. En dit terwyl baie mense voor die covid-19-pandemie skaars van iets soos Zoom of Teams bewus was!

Stem- en video-oproepe is natuurlik niks nuuts vir WhatsApp se vele gebruikers nie, maar nou is hierdie nuttige funksies nie meer net tot hul slimfone beperk nie. Dié oproepe kan ook nou op ’n rekenaar of skootrekenaar met sy veel groter skerm gemaak word. Dit word op ’n aparte venster op jou rekenaarskerm gemaak, en bly gewoonlik prominent op die skerm om te keer dat jou oproep tussen die ander oop vensters verlore gaan.

Video-oproepe vir groepe van tot agt mense kan steeds slegs op selfone op WhatsApp gemaak word, maar die maatskappy het bevestig dat hulle beplan om groepsvideo-oproepe binnekort ook op WhatsApp Desktop bekend te stel.

LAAI SO DIE WHATSAPP DESKTOP-APP AF

Om ’n WhatsAapp-oproep op jou rekenaar te kan maak, moet jy eers die WhatsApp Desktop-app op jou skootrekenaar of rekenaar aflaai.

Hierdie nuwe app is nog nie op WhatsApp Web via weblaaiers soos Google Chrome, Firefox of Internet Explorer beskikbaar nie. Jy kan dit wel via Microsoft Store of Apple iTunes op jou rekenaar aflaai. Maak seker dit is die nuwe weergawe, dit wil sê die 34-bit-weergawe 1903 of nuwer. 

Vir die oproep om te werk, moet jou foon aan wees, al word die oproep via jou rekenaar se internetverbinding of Wi-Fi gemaak.

KLIK OP DIE KNOPPIE

Om die oproep op WhatsApp Desktop te maak, moet jy net op die video- of foonknoppie klik wat regs bo op elke geselsvenster verskyn. Dis hoe maklik dit is!

Bronne: Business Insider South Africa, Sky News