1. Wat gebeur het

Honderde Trump-aanhangers het laat gister die US Capitol, die Amerikaanse kongresgebou, bestorm nadat Trump hulle aangemoedig het om die seremoniële tel van die Kieskollege-stemme daar te gaan “beveg”.

Die seremonie sou die blote formalisering van 'n uitgemaakte saak wees – Amerika se Kieskollege het reeds geruime tyd gelede die verkiesingsuitslag bevestig en die howe het al Trump-hulle se bewerings van bedrog verwerp. Hy het egter die indruk geskep dat daar nog iets gedoen kon word.

Die protes het handuit geruk toe betogers met onlustepolisie slaags geraak, hulle oorweldig het, deur verskeie versperrings gevorder en die gebou binnegedring het. Hulle het verskeie kantore beskadig en geplunder, selfies geneem, en tot by die deure na die Huis van Verteenwoordigers en Senaat gevorder, wat deur gewapende veiligheidsamptenare gesluit is terwyl die huis ontruim is.

2. Laagste punt in Amerikaanse geskiedenis in baie dekades

Die ongehoorde tonele van wetteloosheid is beskryf as die eerste voorval van dié aard sedert die gebou in Augustus 1814 deur die Britte aangeval en aan die brand gesteek is.

3. Vier sterftes bevestig, talle arrestasies, beseerde wetstoepassers

'n Vrou, luidens berigte die 35-jarige Ashli Babbitt, 'n oudlugmaglid en vurige Trump-aanhanger, is dood nadat sy op die Capitol-terrein in die bors geskiet is. Nog drie sterftes is teen Donderdag aangemeld.

Volgens 'n polisieverklaring is dié mense weens hul “mediese noodgevalle” midde-in die oproer dood. Talle polisie- en ander veiligheidslede is beseer en sommiges is in die hospitaal opgeneem. Teen vroeg Donderdagoggend is meer as vyftig mense in hegtenis geneem.

4. Bomme onskadelik gestel

Wetstoepassers het inligting oor pypbomme op verskeie plekke in Washington DC ondersoek. Ten minste drie is onskadelik gestel. Die polisie het ook 'n verdagte vasgetrek toe hulle op 'n voertuig met vuurwapens en tien petrolbomme afgekom het.

5. Wat Trump gesê het

Hy is wyd vir dié chaos aanspreeklik gehou, insluitend deur talle kongreslede, ook Republikeine.

By 'n saamtrek naby die Capitol het hy sy ondersteuners onder meer só na die kongresgebou aangepor: “Hierna gaan ons soontoe stap, en ek sal saam met julle daar wees . . . Jy sal nooit jou land terugvat met swakheid nie. Jy moet krag wys en sterk wees.”

Hy het toe ook weer sy bewerings van verkiesingsbedrog herhaal, wat reeds telkens tot op die hoogste vlak verkeerd bewys is. “Ons sal nooit opgee nie. Ons sal nooit toegee nie. Jy kan nie toegee waar diefstal betrokke was nie.”

'n Ruk nadat die betogers tot geweld oorgegaan het, het hy onder meer 'n videogreep getwiet waarin hy gesê hulle moet “nou huis toe gaan”, maar bygevoeg: “Ons is lief vir julle, julle is baie spesiaal.” Hy het ook weer wolhaarstories oor die verkiesing herhaal.

6. Twitter & ander haal hom van die lug af

Die video en sy daaropvolgende plasings in die sosiale media is deur Twitter, YouTube en Facebook verwyder. In 'n ongehoorde stap het Twitter sy rekening vir twaalf uur lank gesluit.

7. Amerikaanse leiers se verdoemende reaksie

Saam met talle ander invloedryke Amerikaanse figure, het die land se vier oorlewende voormalige presidente, Jimmy Carter, Bill Clinton, George W. Bush en Barack Obama, die gebeure op Capitol Hill skerp veroordeel.

Bush, as 'n Republikeinse oudpresident, het gesê dit herinner aan “'n piesangrepubliek”.

Trump se eie huidige adjunk-president en (stellig nou) voormalige regterhand Mike Pence, het ook die betogings verdoem en gesê die betrokkenes sal “vervolg word en die volle gesag van die reg ervaar. Die geweld en skade moet nou stop . . .” Hy het vroeër ook Trump se eis dat die Kieskollege se bekragtiging van die verkiesingsuitslag eensydig verwerp moet word, geïgnoreer.

En Obama het onder meer op Twitter geskryf: “Vandag se geweld by die Capitol, aangehits deur 'n sittende president wat voortdurend ongegrond gelieg het oor die uitslag van 'n wettige verkiesing, sal tereg in die annale aangeteken word as 'n oomblik van groot oneer en skande vir ons nasie . . .”

8. ‘Onthef hom dadelik uit sy amp’

Karl Racine, prokureur-generaal van Washington DC, het ook 'n beroep op Pence gedoen om die Amerikaanse 25ste amendement in werking te stel sodat Trump onmiddellik uit sy amp onthef kan word: “. . . Pence is meer geskik vir die amp . . . ons het 'n hoofbevelvoerder nodig wat sy grondwetlike verantwoordelikhede sal nakom. Beskerm Amerika, staan op vir demokrasie . . . en verkry 'n meerderheid in die kabinet of in die kongres om onmiddellik die president te verwyder, want hy’s duidelik nie geskik vir die amp nie.”

9. Koebaai Trump - Kongres formaliseer uitslag ná al die skande

Vier ure ná die beleg is daar aangekondig dat die laaste oproermakers uit die gebou verwyder is en die Capitol weer veilig was. Die proses om die Kieskollege-stemme te sertifiseer, is toe voltooi.

10. Ok, ek sal nou gaan . . .

The Donald het toe ná alles oplaas gesê hy sal wel loop, sonder verdere ontwrigting.

“Selfs al verskil ek heeltemal van die uitkoms van die verkiesing . . . sal daar nietemin 'n ordelike oorgang op 20 Januarie wees,” het hy verklaar. Dis wanneer pres. Joe Biden ingehuldig word.

Trump kon egter nie anders as om by te voeg nie: “. . . terwyl hierdie die einde van die voortreflikste eerste termyn in die presidensiële geskiedenis verteenwoordig, is dit net die begin van ons geveg om Amerika Weer Groots Te Maak . . .”

Bronne: CNN, AP, Reuters, washingtonpost.com, nytimes.com, usatoday.com

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe