Die app wat in 2010 die meeste afgelaai is, het die foto’s wat jy met jou foon neem soveel koeler laat lyk. Filters vir antieksjiek, kunstige vinjette en ’n vierkant­raamuitleg het aan jou gewone foto’s ’n nostalgiese Polaroid­bekoring gegee.

Maar 10 jaar later onthou feitlik niemand meer Hipstamatic nie. ’n Ander fotodeel-app, wat op 6 Oktober 2010 kort op Hipstamatic se hakke bekendgestel is, het die wêreld verander. Verlede maand het meer as ’n miljard mense foto’s op Instagram geplaas.

Met die eerste plasing van die medestigter van Instagram Mike Krieger sou jy waarskynlik nie kon voorspel dat dit die geboorte van ’n kulturele en ekonomiese verskynsel sou wees nie.

Dit was ’n foto van San Francisco se South Beach-­hawe vanuit die nywerheidsjiek staalraamvensters van Pier 38 gesien. Net die komposisie, met die bootmaste wat teen ’n hoek van 45 grade lê, het op ’n ambisie gedui wat verder as die alledaagse strek.

View this post on Instagram

A post shared by Mike Krieger (@mikeyk) on

Maar nou, ’n dekade later, het Instagram die samelewing herbedraad. Dit het ons voorkoms verander, wat ons eet, ons verhoudings, hoe ons stem, waar ons gaan vakansie hou en waarop ons ons geld uitgee.

Van die Kardashians en avokado’s tot geestesgesondheid, baie van die afgelope dekade se stories maak deel uit van Instagram se stories.

Kortom klink daardie storie naastenby so: Nadat Facebook Instagram in 2012 vir $1 miljard (toe sowat R8 miljard) gekoop het, span die gemene magte van “groot tegnologie” saam en steel ons selfbeeld en ons aandagspan.

Die ruiltransaksie laat ons met leë hande, afgesien van ’n behoeftige afhanklikheid van byna vreemdelinge se goedkeuring en van die versameling opblaasswembadspeelgoed wat Instagram teen 2014-’16 as noodsaaklik vir somers verklaar het. Maar nou lê dit in die skuur en vergader stof.

Instagram het toegesien dat ons, soos Narcissus wat in die poel na homself staar, deur ons eie hoogmoed tot ’n val gebring word.

Die waarheid is ’n bietjie ingewikkelder. Dis nou vreemd om te onthou dat Instagram aan die begin geen skoonheidskompetisie was nie. ’n Nuwe visueel gesofistikeerde gehoor het daarby aanklank gevind – die soort mense wat dol is oor hoe die regte filter ’n geel reënjas teen ’n stadstraat kan laat uitstaan.

Op die eerste dag het 25 000 mense aangesluit, en ná ses weke was daar ’n miljoen gebruikers. Dit was speels, skeppend en soortvan ernstig.

Skewe foto’s van die Amerikaanse weskus het vir baie staptogte gesorg. Ek onthou ek het op die boonste dek van ’n Londense bus met grys lug buite die vensters deur Instragram gekyk en gedink ek het nog nooit so baie watervalle gesien nie.

Ons het nie voor Instagram geswig omdat ons graag na onsself kyk nie, maar omdat ons graag na ons foon kyk. Instagram, wat uit die staanspoor vir mobiele toestelle ontwerp is, was die eerste platform wat besef het in die 21ste eeu is ons belangrikste verhouding met ons foon.

Nie Twitter of Facebook was so vroeg al so fotosentries soos Instagram nie.

’n Plasing ná Chadwick Boseman se dood.Foto: Insta
’n Plasing ná Chadwick Boseman se dood.Foto: Instagram/@chadwickboseman

Dit is deels ’n kwessie van tydsberekening: Die kerndemografie op Instagram is die eerste geslag vir wie die lewe aanlyn eintlik die reël is.

Instagram het ons fone in fopspene vir volwassenes verander.

Soos Gretchen McCulloch dit in haar boek Because Internet stel, Millenniërs onthou net so min die eerste keer dat hulle aanlyn gegaan het as wat my Generasie X-tydgenote die eerste keer onthou dat ons oor ’n foon gepraat of televisie gekyk het.  

Elke Februarie doen ’n Valentynskaar­tjie die rondte wat lui: “Jy is my gunstelingmens om mee saam na my foon te sit en staar.” Dis snaaks, want dis waar.

Instagram het ons fone in fopspene vir volwassenes verander.

So het Kylie Jenner die geboorte van haar baba aan
So het Kylie Jenner die geboorte van haar baba aangekondig. Foto: Instagram/@kyliejenner

Eers was dit ’n kalmerende rits mooi foto’s wat met elke duimveeg in ’n bestendige stroom uitgepomp word. Soos ’n ewigdurige glas warmsjokolade, maar van sonsondergange en hondjies en tone in die sand. Later, en verraderliker, het die do­pamienskop daarna verskuif om te kyk hoeveel likes jou eie foto’s kry.

Hoe ook al, ons het ons in ’n kringloop van aandagsoek begewe waarin ons emosies van ons brein na ons foon en weer terug gekanaliseer word. Twitter gaan oor jou groep, Facebook oor jou huis en familie, maar Instagram is ’n romanse tussen net jou en jou foon.

Toe Justin Bieber in 2011 by Instagram aangesluit het, was sy eerste plasing so reg uit die handboek van die vroeë aweregsheid van Instagram: snelwegverkeer, verwerk om dit ’n 1970’s-reisgevoel te gee, met die by­skrif: “Los Angeles-verkeer is aaklig.”

Justin Bieber se verkeer-­foto. Foto: Instagram/@j
Justin Bieber se verkeer-­foto. Foto: Instagram/@justinbieber

Beliebers wat aangeteken en kommentaar gelewer het, het die bedieners herhaaldelik laat ineenstort. Die koms van een van die grootste popsterre ter wêreld met ’n plasing van wat hy uit die venster van sy kar sien, was ’n mylpaal in Instagram se groei van ’n tydelike modegier tot ’n kolos van die popkultuur.

Binne agt maande was Bieber die eerste bekende met ’n miljoen volgelinge, en die Instagram-wedloop het begin.
In 2012 het alles verander toe Facebook Instagram koop en Kim Kardashian aansluit.

Die eerste amptelike foto van Kim Karda­shian en K
Die eerste amptelike foto van Kim Karda­shian en Kanye West se troue op Instagram. Foto: Instagram/@kimkardashian

Albei was tekens dat Instagram, wat toe nog geen duidelike sakemodel gehad het nie, nou wou geld maak. Die Facebook-transaksie het in koue, berekende geldwaarde die grootte en strategiese belang gedemonstreer van al die ruimte wat Instagram in ons lewe in beslag sou neem.

Kim se eerste plasing was – hoe dan anders? – ’n selfie om haar handelsmerk te bevorder: Sy het – die ene lippe en wimpers – ’n soen na die kamera geblaas.

Kim Kardashian se ikoniese bydrae. Foto: Instagram
Kim Kardashian se ikoniese bydrae. Foto: Instagram/@kimkardashian

Die etos van die moderne Instagram – dat ons almal ’n gehoor het vir wie ons op ’n werklikheidsreeksweergawe van ons lewe trakteer – is die Kardashian-­leefwyse.

Die era van die selfie het aangebreek, met die Kardashian-huishouding as die Camelot van Instagram. In 2013 is die frase Do it for the ’gram” in die Urban Dictionary ingesluit – dis nou as jy dinge doen sodat jy bewyse daarvan op Instagram kan plaas.

Beyoncé het met hierdie foto bekendgemaak sy verwa
Beyoncé het met hierdie foto bekendgemaak sy verwag ’n tweeling. Foto: Instagram/@beyonce

Die uitleg van Instagram, ’n standhoudende stroom foto’s van dieselfde grootte, verander ons almal in glansmense. Net roem (of berugtheid) sal jou gesig groot op ’n koerantvoorblad of reklamebord laat verskyn, maar op Instagram is jou vakansieselfie net so groot soos Gwyneth Paltrow s’n.

Jou neef se drankies by die werk kry net soveel aandag soos Jennifer Aniston wat saam met haar Friends-medester Courte­ney Cox baljaar.

Almal kry hul 15 minute van roem. Tot baie onlangs was daar inderdaad geen knoppie wat jy kon druk om ander mense se foto’s te “hergebruik” nie; dis nie soos wat jy op Twitter kan “retweet” nie. Jy moes jou eie inhoud skep as jy wou deelneem.

Jennifer Aniston se eerste Instagram-plasing. Foto
Jennifer Aniston se eerste Instagram-plasing. Foto: Instagram/@jenniferaniston

Daar is tog iets bekoorliks daaraan om glansmense sy aan sy op Instagram te sien saamleef met ons gewone sterflinge.

Tog het dit op baie mense ’n nadelige uitwerking. Die standaard vir skoonheid en glans is hoog, en die geleenthede om te vergelyk en te beoordeel talryk.

Die lomp en duidelik sigbare filters van vroeër is verruil vir liggewig-apps wat soos Photoshop werk.

Die gewildste daarvan is ’n “towerstaf” op die skerm wat tande witter en kaak­lyne skerper maak en vlekke uitwis. Waar filters eens kunstigheid aangemoedig het, is dit nou soos ’n laserstraal op ydelheid gefokus.

Strokiesagtige filters wat bekendgestel is om die bedreiging van Snapchat af te weer, is uiters gewild onder jonger gebruikers. Dit kan jou snaakse kat-ore gee of die snuffelende snoet van ’n babadiertjie, maar ook groot amandeloë en ’n hartvormige gesig met breë wangbene.

Dit verander elke gesig in die voorkoms wat die skrywer Jia Tolentino al in The New Yorker ’n “Instagram-gesig” genoem het, ’n “duidelik wit maar tog dubbelsinnig etniese” mengsel van moderne skoonheid wat ewe veel Kendall Jenner, Bella Hadid en Emily Ratajkowski is.

Een van Kendall Jenner se gewildste foto’s. Foto:
Een van Kendall Jenner se gewildste foto’s. Foto: Instagram/@kendalljenner

Die glansmense wat agter die Kardashians aan op Instagram geklim het, het geld van handelsmerke begin aanvaar om produkte te bemark, dikwels met net ’n dubbelsinnige erkenning dat hulle betaal word. Of hulle ignoreer dié feit.

Dit was ’n uitsonderlik doeltreffende manier om klante te bereik wat moeilik met tradisionele vorme van bemarking bereik kon word, en ’n nuwe bedryf – “beïnvloeding” – het ontstaan. In 2013 is Instagram se ommeswaai na die handelswêreld voltooi toe die platform advertensies begin plaas het.  

In haar boek No Filter: The Inside Story of How Instagram Transformed Business, Celebrity and Our Culture vertel Sarah Frier hoe Instagram se uitvoerende hoof, Kevin Systrom, daarop aangedring het dat die eerste advertensies soos gewone plasings moes lyk sonder enige teks op die foto.

Hy het Vogue nagevolg, waar handelsmerke dieselfde fotograwe en modelle as die tydskrif aanstel sodat hul advertensies naatloos met die redaksionele blaaie vermeng word.

As net die vyfde werknemer wat by Instagram aangestel is, het Jessica Zollman ’n deurgrondige kennis van wat op die platform sou werk. Dié kennis is so ’n waardevolle bate dat sy in 2013 opgehou het om vir Instagram te werk en Instagram vir haar laat werk het deur handelsmerkinhoud te skep.

Maar nadat sy ’n “baie, baie indrukwekkende klomp geld” as ’n beïnvloeder verdien het, is sy vier jaar later daar weg. Die redes wat sy daarvoor aanvoer, is mededinging wat die hoogte ingeskiet het en die sielkundige tol van die hele vertoning wat ’n mens op Instagram moet lewer.

Sy het aan die BBC gesê: “Ek het ’n oomblik beleef toe ek gedink het: ‘Hoekom maak die idee om ’n werk te moet kry my skaam?’ ” Sy werk nou as fotograaf.

In 2015 het Essena O’Neill, ’n 18-jarige Australiese beïnvloeder met meer as ’n halfmiljoen volgelinge, byna ál 2 000 ­foto’s wat sy geplaas het, uitgewis. Sy het gesê dit “het geen doel gedien buiten om myself te bevorder nie”.

In ’n YouTube-video het sy verduidelik die werklikheid van ’n lewe wat aan eindelose selfies met ’n “ingetrekte maag, strategiese houding, opgedrukte borste” gewy is, het haar “verteer” van honger na erkenning in die sosiale media.

In ’n peiling in 2017 het die Royal Society for Public Health in die Verenigde Koninkryk 1 500 jong mense gevra watter uitwerking sosialemediaplatforms op hul geestesgesondheid en welstand het. Hulle het bevind Instagram se uitwerking is as die slegste beskou.

Hoe ouer Instagram geword het, hoe jonger het sy gebruikers geword. Om by te bly, het die oorspronklike kalm luim van ’n wandeling deur ’n galery na ’n ál doller pas oorgeskakel.

In 2016 het Instagram Stories die minder oorwoë vryhandgevoel van Snapchat nageaap; vanjaar was die bekendstelling van Reels ’n poging om die bedreiging van TikTok te neutraliseer deur vir gebruikers ’n platform te bied vir die lawwe parodie­video’s wat daar so gewild is.

Uit die staanspoor het jonger mense op hul eie manier met Instagram om­gegaan. Teks is vir emoji’s verruil, en plasings het by hul eie sosiale struktuur ingepas met die verstandhouding van: volg my en ek sal jou volg.

Die kommentaar onder tienerplasings het sy eie kenmerkende musikale ritme ontwikkel – ’n pleitende duet waar mense mekaar soos in ’n ruiltransaksie vlei en heuning om die mond smeer.

En toe breek 2020 aan. Met die koms van die coronavirus het die brood en botter van Instagram – die verkoop van ’n aspirerende leefstyl – problematies geword.  

Oornag het ontvlugting verkeerd gevoel. Soms letterlik, soos in die geval van Arielle Charnas, ’n New Yorkse mode­beïnvloeder wat daarvan beskuldig is dat sy met haar voorregte spog. Dit was nadat sy gewys het hoe sy en haar gesin met ’n kinderoppasser op sleeptou uit New York na die Hamptons vertrek.

Handelsmerke het skielik vennootskappe met haar gekanselleer; die New York Post het haar ’n “covidiot” genoem. Arielle het doodsdreigemente ontvang.

Met geen partytjies, strandvakansies of troues nie het Instagram vir ’n groot deel van die eerste maande van die inperking stil geraak. Piesangbrood trek nie eintlik aandag op die ’gram nie.

Toe, op 2 Junie, ’n week ná die moord op George Floyd, het 28 miljoen mense ’n swart vierkant op hul Instagram geplaas om Black Lives Matter (BLM) te steun.

Foto: Instagram/@justiceforgeorgenyc
Foto: Instagram/@justiceforgeorgenyc

Party het #BlackoutTuesday afgemaak as ’n grootdoenerige gebaar deur ’n demografie met kwalik ’n geskiedenis van politieke deelname en geen begrip van die omvang van die projek om strukturele rassisme af te takel nie – ’n akkurate beoordeling. Tog het dit die betekenis van die oomblik misgekyk.

Aangespoor deur BLM het jong mense uiting gegee aan hul gevoelens in die ruimte waarin hulle grootgeword het. Vir ’n geslag wat dit wat hulle persoonlik raak ook as polities beskou, was daar niks teenstrydigs daaraan om op een dag ’n selfie te plaas en die volgende dag ’n oproep tot optrede nie.

’n Verteenwoordiger van die Instagram-profiel “Justice for George NYC” het aan die webtuiste Recode gesê: “Dit gaan daaroor om ’n groter gehoor te bereik . . . Ons moet gaan na waar die mense is, en dis Instagram.”

Maar ’n paar maande later lyk Instagram weer na sy ou glansryke self, afgesien van ’n blommemasker of twee. Die groot nuus van Augustus was toe Chrissy Teigen haar swangerskap in ’n kort video bekendgemaak het. Daarin hou sy haar Lycra-geklede bababoep vas terwyl sy giggelend sê: “Kyk hier, derde baba, k**.”

Chrissy Teigen het met dié plasing onthul sy het ’
Chrissy Teigen het met dié plasing onthul sy het ’n miskraam gehad. Foto: Instagram/@chrissyteigen

Vroeg in September het alles om Kim Kardashian se somber verklaring gedraai dat haar familie “met ’n swaar hart die moeilike besluit” geneem het om die jare lange televisieprogam Keeping Up with the Kardashians te beëindig.


’n Foto van Cristiano Ronaldo en sy vrou, Georgina Rodriguez, het 13 miljoen likes gekry en was vir ’n rukkie onder die 20 gewildste plasings nóg, maar net twee weke later het ’n selfie van Kylie Jenner in ’n silwer bra-top dit van die trefferlys afgeskop.

’n Foto van Cristiano Ronaldo en sy vrou, Georgina
’n Foto van Cristiano Ronaldo en sy vrou, Georgina Rodriguez, het 13 miljoen likes gekry, Foto: Instagram/@christiano
Kylie Jenner se silwer bra het Christiano Ronaldo
Kylie Jenner se silwer bra het Christiano Ronaldo se 'likes' op Instagram oortref. Foto: Instagram/@kyliejenner

Instagram is ’n wêreld waar die mooi mense heers, maar dis nie altyd so mooi nie . . .

© GUARDIAN NEWS & MEDIA LTD 2020
Instagram: Die syfers
  • Sowat ses uit 10 Instagram-gebruikers teken minstens een keer per dag aan.
  • Amerika het die meeste gebruikers (116 miljoen), gevolg deur Indië (73 miljoen) en Brasilië (72 miljoen).
  • Meer as die helfte van Instagram­-gebruikers wêreldwyd is na raming jonger as 34.
  • Instagram-gebruikers snuffel gemiddeld 53 minute per dag daar rond, byna so lank soos Facebook-gebruikers (58 minute).
  • Die sokkerster Cristiano Ronaldo is boaan die lys van die gewildste Instagramprofiele, met 237 miljoen volgelinge. Op sy hakke volg die popster
    Ariana Grande (198 miljoen) en die akteur Dwayne Johnson (194 miljoen).

BRON: STATISTA.COM