Op ’n onlangse herfsoggend, ’n Sondag middel April, het hy vir die eerste keer in ’n dekade by sy suster gaan kuier. Hulle het saam braaihoender geëet en oor die toekoms gepraat.

Hy wil aan ’n Bybelkollege studeer; sy wil musiek skryf. Dit was haar 36ste verjaardag toe haar broer kom kuier, maar hy kon nie vir haar ’n geskenk saamneem nie.

Hy het, soos altyd, min emosie gewys, maar sy was tranerig. Deur die jare het hulle vir mekaar briewe geskryf, maar dit is moeilik om te praat oor die dinge van hul verlede.

Toe die besoek van 90 minute verby was, moes elkeen terugkeer na die eensaamheid van hul lewe – sy na haar bestaan in die vroueafdeling van die Westville-gevangenis; hy na sy nuwe lewe buite die tronk.

En toe Hardus Lotter (30) sy suster Nicolette groet, kon hy sy rug keer op die soort tronklewe wat tot onlangs ook sy werklikheid was. Want nou, vir die eerste keer sedert dié twee Lotter-sibbes hul ouers in 2008 vermoor het, is Hardus byna ’n vry man.

Nicolette Lotter is steeds agter tralies, maar hoop om binne twee jaar soos haar broer vir parool in aanmerking te kom. Foto: Gallo Images/Foto24/Bongiwe Gumede

Die Hardus wat sewe maande gelede in die Sevontein-gevangenis in die KwaZulu-Natalse Middelland met Huisgenoot gepraat het, het maer en broos in sy oranje tronkoorpak gelyk.

Sy oë was neergeslaan, sy stem afgemete en sy gesig uitdrukkingloos. Net een keer het hy emosie getoon – toe hy sê hy is jammer oor wat hy en Nicolette op daardie nag in Julie 2008 gedoen het.

Hy het saggies gesnik. Maar dit was ’n ander Hardus wat in Maart vanjaar, ná 10 jaar in die tronk, by die deure van Sevontein uitgestap het.

“Ek kon die verligting op sy gesig sien. Hy het breed geglimlag en sedert daardie oomblik nog nie ophou glimlag nie.”

So vertel past. Danny Israel (70), wat Hardus by die tronk gaan haal het nadat hy op parool vrygelaat is.

Volgens Singabakho Nxumalo, woordvoerder van die departement van korrektiewe dienste, is Hardus in huisarres geplaas onder mediumrisikotoesig.

Hy sê Hardus sal tot die einde van sy vonnis gemonitor word tot hy weer in die samelewing geïntegreer is. Vandag wil Hardus nie meer oor die verlede praat nie.

Die familie sal Hardus en Nicolette nie kan vergewe nie

Hy het daardie hoofstuk toegemaak, beklemtoon Danny.

Hy wil vorentoe kyk en sy lewe herbou. Maar dis iets wat Hardus sonder sy familie se ondersteuning sal moet doen.

Hardus was 20 toe hy en Nicolette (toe 26) die land geskok het deur hul ouers, Johnny (53) en Riekie (52) Lotter, in hul huis in Westville, Durban, te vermoor op aandrang van Nicolette se verloofde, Mathew Naidoo (toe 21).

Johnny en Riekie Lotter is deur twee van hul kinders vermoor – iets waarvoor hul familie die kinders nie kan vergewe nie. Foto: Verskaf

Hul familie was verpletter – en van vergifnis is daar nog nie sprake nie. Huisgenoot het verneem vir hulle is Hardus so goed as dood. Dit was Danny, wat in die Westville-gevangenis pastorale werk doen, wat vir Hardus onder sy dak in Durban ingeneem het, waar hy die oorblywende twee jaar van sy vonnis, met streng voorwaardes, in huisarres sal woon.

’n Familielid van die vermoorde Lotter-egpaar het by navraag geen doekies omgedraai nie.

“Ek kan nou vir jou sê: Daar is geen familielid wat hom sou inneem nie. Ek dink ook nie enige van ons sal hom gou weer, indien ooit, wil sien nie,” sê die familielid op voorwaarde van anonimiteit.

Die familielid vertel Hardus en Nicolette se suster, Christelle (32), wil niks van hulle weet nie. Sy was net 19 toe haar ouers vermoor is en het destyds fisioterapie aan die Universiteit Stellenbosch studeer.

Christelle, wat weens die trauma van die moorde haar studie gestaak het, is nou getroud en self ’n ma. Sy het nie op ons navrae gereageer nie.

En Hardus?

Toe hy nog in die tronk was, het hy vertel hy wil vir Christelle die ruimte gee om self na hom uit te reik wanneer sy gereed is. Hy wou nie nou weer met Huisgenoot praat oor sy lewe buite die tronk of uitwei oor sy familie wat hom verstoot het nie.

Hy het dit aan Danny en ’n handjie vol ander vertrouelinge oorgelaat om met ons te praat.

Hardus het net kortliks deur Danny se Facebook-boodskapdiens laat weet: “Christelle is my sussie, en ek het haar lief. Ek dink nou net vorentoe en glo alles sal, met die Here se seën, in plek val. My pad vorentoe is die Here se wil, nogmaals, onder past. Danny se leiding.”

Danny en Hardus het mekaar in 2008 ontmoet toe Hardus verhoorafwagtend was in Durban se Westville-gevangenis. Hy het hom oor Hardus ontferm “omdat ek kon sien hy het potensiaal en ’n opregte begeerte om te verander”, verduidelik Danny.

“Ek was daar gedurende die hele moordverhoor. Ek was daar toe hy in die getuiebank knak,” vertel hy.

“Ek het van die begin af die behoefte gehad om hom te vergewe en ondersteuning te bied.”

In Maart 2012 het regter Shyam Gyanda in sy uitspraak in die hooggeregshof in Durban gesê die sibbes is deur Mathew, wat homself as die “derde seun van God” bestempel het, oortuig hul ouers is boos.

Nicolette en Hardus moes “God se werk doen” deur hul ouers te vermoor, is in die hof gehoor. Nicolette het haar ma herhaaldelik met ’n mes gesteek; Hardus het sy pa in sy bed met ’n elektriese koord verwurg.

Hardus en Nicolette is onderskeidelik 10 en 12 jaar tronkstraf opgelê. Nicolette is steeds in die Westville-tronk, maar kom oor twee jaar in aanmerking vir parool.

Mathew is 25 jaar tronkstraf opgelê en dien sy vonnis op Kokstad uit.

Danny sê die “nuwe” Hardus is “intelligent en toegewy aan Jesus Christus”. Dan vertel hy: “Hy was deur die jare opreg, en die opregtheid het net gegroei.”

Maar die familielid sê: “Dit is die manier waarop hulle, sulke goeie mense, vermoor is wat maak dat die familie Hardus en Nicolette nie kan vergewe nie.

“Ek dink nie Hardus is sielkundig gereed om buite te wees nie. Eerlikwaar, ek is bang vir hom.”

Maar Danny vertel Hardus toon ’n nuwe rustigheid en selfvertroue. Dae ná sy vrylating het Danny vir Hardus op sy eerste uitstappie geneem: om ’n “ernstige” hamburger en skyfies by ’n Mugg & Bean in Durban se Gateway-winkelsentrum te gaan eet.

Hardus was nie ongemaklik of op sy senuwees nie. Die hamburger het hy met groot genoegdoening geëet.

“Hardus is gek oor sy kos, solank dit hom net nie aan tronkkos herinner nie. Hy sit weer gewig aan,” vertel Danny.

Hy het berou oor wat hy gedoen het, maar sal niemand dwing om hom te vergewe nie

Hardus kruip nie weg nie, sê hy, “maar wil nie nou met die media praat nie. Dis ’n aanpassing om ná 10 jaar weer in die samelewing te wees. Maar hy is oukei.”

Soggens doen Hardus Bybelstudie saam met Danny en hul huismaat, ’n voorheen hawelose man.

Daarna eet hulle ontbyt. Die res van die dag werk hy tuis om ’n rekenaarherstelonderneming te vestig. Hardus stap graag in die park naby die huis. Ingevolge sy paroolvoorwaardes mag hy ook Saterdae tussen 08:00 en 12:00 winkels toe gaan.

Sondagoggende gaan hy en Danny na ’n klein Pinkstergemeente en Sondagaande na ’n charismatiese kerk.

“Dit is ons beste dag. Hardus geniet die lofprysing en aanbidding, maar luister ook aandagtig na elke boodskap,” sê Danny.

“Hardus wil sy lewe voortsit, en selfvergifnis is deel daarvan.”

Danny het saamgegaan op die Sondag in April toe Hardus in die tronk by Nicolette gaan kuier het. Oor Nicolette sê Danny: “Ek is ook baie trots op haar.”

Toe Hardus nog in die tronk was, het hy vertel hy wil by skole met kinders oor die okkulte praat.

“Hardus is vandag ’n ander mens, wat waarde kan toevoeg tot die lewe van ander verwarde jong mense,” glo Georgina van der Merwe, ’n oudonderwyseres van Hardus en Nicolette aan die Hoërskool Port Natal in Durban.

Sy het hulle gereeld in die tronk besoek. “Hy het ’n duidelike boodskap: Jy is wie jy is deur die mense met wie jy assosieer. Jy moet jou deur niks en niemand laat beïnvloed nie.”

Mollie Kemp, ’n afgetrede maatskaplike werker wat Hardus van kindsbeen af ken, het hom die dag ná sy vrylating gesien. “Hardus het goed gelyk.”

Sy glo hy het geslaag in sy doel om homself te vergewe. Hy begryp sy familie se gevoelens, maar glo vergifnis is elkeen se persoonlike saak.

“Hy het berou oor wat hy gedoen het, maar sal niemand dwing om hom te vergewe nie. “Hy wil aangaan met sy lewe.”