Volgens ’n GoFundMe wat die ouers begin het, wou die 10-jarige Greenlee Marie haar twee troetelkatjies van agter die gesin se tuimeldroër red toe sy doodgeskok is. 

Die polisie in New Boston ondersoek tans presies hoe die voorval gebeur het.

Die polisiehoof Garry McCrary het aan KSLA-TV in Shreveport, Louisiana, gesê dis “te vroeg om die blaam en verantwoordelikheid op iemand te plaas” omdat die ondersoek eers afgehandel moet word”.

Die dogtertjie se ouers, Shelby Roos en Scott Hendrix, het die huis 15 maande lank gehuur en sê die tragedie het afgespeel weens elektriese probleme, maar die polisie moet nog bevestig of dit die geval was.

“Greenlee was lief vir haar ‘babas’. En sy sou enigiets vir hulle doen,” het Shelby aan die televisiestasie gesê.

“Ek weet sy is nou daar bo met al haar babas. Sy was ’n deernisvolle siel en het meer deernis in haar 10 jaar gehad as wat volwassenes in ’n leeftyd het.”

“Daar is geen rede hoekom ons baba weg van ons moet wees nie. Jy moenie sterf in jou eie huis nie,” het haar pa gesê.

Bronne: People, KSLA-TV, GoFundMe