Helga, van die Berg-versorgtuiste in noordwes-Ysland, was 'n jaar oud toe die verwoestende Spaanse Griep-pandemie die wêreld getref het. Dit het van 1918-19 miljoene lewens geëis.

“Sy het baie oor die Spaanse Griep gepraat. Haar oom was destyds in kwarantyn op die plaas waarop sy en haar elf sibbe grootgeword het,” het haar kleindogter, Agnes Veronika Hauksdóttir, vertel.

Aangesien sy in 1917 die lewenslig aanskou het, het Helga die laaste deel van die Eerste Wêreldoorlog asook die Tweede Wêreldoorlog sien kom en gaan. Boonop het sy tuberkulose twee keer geklop, die eerste keer as jong meisie.

In 1952, as ma van 'n twee weke-oue seuntjie, het dié longsiekte haar weer beetgekry. Gevolglik moes sy in 'n gesondheidsinrigting naby die hoofstad Reykjavik opgeneem word, baie ver van haar jong baba, en is sy eers weer ses maande later met haar kind herenig.

Sy en haar man, 'n visserman, het uiteindelik drie spruite gehad, en sy’s ook vandag die trotse ouma van ses kleinkinders.

Haar merkwaardige herstel het nou wyd buite haar Skandinawiese land aandag getrek, en die Verenigde Nasies se Streeksinligtingsentrum (UNRIC) het haar en haar kleindogter ook spesiaal gaan besoek. 

Ná haar man se heengaan toe sy 90 jaar oud was, het sy steeds op haar eie gewoon, en selfs toe sy 98 was, is sy steeds as te fiks en gesond beskou om vir huisvesting in haar dorp se versorgtuiste te kwalifiseer.

Kleindogter Agnes het 'n ruk nadat die pandemie na Ysland versprei het as reserwe-personeellid by Helga se tuiste aangesluit. Verskeie COVID-19-infeksies by die versorgplek het beteken sowel Helga en sommige ander inwoners as party gesondheidswerkers daar moes onder kwarantyn gaan. En dis toe dat Agnes die moue oprol.

Of altans afrol, want sy moes so te sê van kop tot tone in volle beskermingsgewaad na die seniors omsien. “Dit was omtrent 40 grade, en half versmorend in daardie uitrusting en regtig moeilik om so te werk,” het sy laggend vertel. Dis 'n verligting om, noudat haar ouma weer coronavirus-vry verklaar is, net ‘n masker en handskoene hoef te dra wanneer sy na haar omsien.

Agnes was wel baie bekommerd oor haar toe sy aanvanklik ‘n aansienlike koors en ook lyfpyne ontwikkel het. “Ek het gevrees dit was dalk dit . . .

“Maar sy is so taai . . . sy het haarself byvoorbeeld gedwing om baie vloeistowwe te drink. En ek’s absoluut oortuig dis omdat sy so ‘n positiewe mens is wat graag lag, wat haar so ver gebring het. Ons het g’n herinnering van haar waar sy kwaad was of oor enigiets gekla het nie. Sy’s ‘n ongelooflike rolmodel.”

En Helga self het teenoor UNRIC en Yslandse media geskerts: “Ek het nou omtrent alles oorleef, het ek nie?”

Bronne: unric.org, icelandreview.com, Reykjavik Grapevine, Facebook 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.