Charlotte Krige met ’n foto van haar vermoorde dog
Charlotte Krige met ’n foto van haar vermoorde dogter, Anika Smit, as ’n trompoppie by haar skool in Pretoria. Foto: Corrie Hansen/Gallo Images

Jy kan jou beswaarlik ’n warmer, huisliker toneel indink as die een wat jou begroet wanneer jy hier by die Kriges op Hartenbos instap. Die kleurvolle mengelmoes van lekkertes verseël in glas is oral: songeel perskes, appelkose en makataan, oftewel wilde waatlemoen. Als in skywe of tot konfyt gekook.

En natuurlik bokse vol flesse wat wag om gevul te word. Want Charlotte (63) en Hennie Krige (75) se woning is ook hul lekkerbekfabriek. Hy skil, sy kook en lê in. Die soet eindproduk word verkoop onder die handelsnaam Cowley’s Kombuis, verleen aan Charlotte se nooiensvan. Haar dogter was juis so dol oor haar ingelegde beet, begin Charlotte trots vertel.

Maar eensklaps is dit asof die lig uit die vertrek verdwyn. Want Charlotte is die ma van Anika Smit, die Pretoriase tiener wie se grusame moord ná 11 jaar steeds onopgelos is en wie se afgekapte hande nooit gekry is nie. Haar ingelegde beet was die laaste ding waaroor sy en Anika voor haar dood gepraat het, vertel Charlotte.

Dit was ’n Woensdagoggend in Maart, twee weke voor die 17-jarige Anika in die April-vakansie by haar op Hartenbos sou kom kuier het, toe sy haar dogter impulsief bel. Dit was omstreeks negeuur op ’n skooldag, want Anika was tuis met ’n oorinfeksie. Hulle het opgewonde oor die komende weersiens gepraat. En net voor hulle groet, vra Anika: “Ma, onthou om vir my ’n ekstra groot bottel in te lê!”

Charlotte hou ’n bottel ingelegde beet vas wat sy
Charlotte hou ’n bottel ingelegde beet vas wat sy destyds spesiaal vir Anika se besoek aan Hartebos gemaak het. Foto: Corrie Hansen/Gallo Images

Op dieselfde dag is sy in haar pa, Johan Smit, se huis in Pretoria verkrag en met ’n mes vermoor. Elf jaar later is Anika se hande, nes haar moordenaar wat dit afgesny en weggeneem het, steeds soek. In haar herhalende nagmerries worstel Charlotte steeds met dieselfde vraag: “Waar is haar handjies? Hoekom is dit afgesny?

Sy draai na Hennie: “Sal jy dit gou vir my daar bo in die kamer gaan haal? Die bottel met die geroeste deksel. Dis daardie bottel beet wat ek spesiaal vir haar ingelê het voor die moord.”

Op ’n tafel in die woonvertrek lê die stukke van ’n reuse-legkaart uitgepak, en in die vertrek is ’n groot staanhorlosie wat Hennie soms weer moet opwen. Maar vir Charlotte bly die tyd stilstaan op 10 Maart 2010, die dag van Anika se moord. Wat is die punt van my lewe, vra sy haarself wanneer sy besef die tyd stap om haar aan. Sy herhaal die vraag nou weer: Wat is die punt?

Hennie Krige en Charlotte is in November verlede j
Hennie Krige en Charlotte is in November verlede jaar getroud. Foto: Corrie Hansen/Gallo images

Hennie probeer die stemming lig: “Ons vang graag vis by Groot-Brakrivier,” sê hy. En dan, oor Charlotte: “Sy’s ’n kampioen.”

Anika, die jongste van Charlotte se drie dogters, sou nou 29 gewees het. Haar halfsusters, Chantél (37) en Cindy Rudman (32), het reeds aan Charlotte altesaam vier kleinkinders gegee.

“Ek wonder en wonder hoe my laatlammetjie se kinders sou gewees het. Net so sag soos sy? Ek wens so ek kan haar nog net een keer sien, nog net een keer vashou,” sê Charlotte.

“Ek probeer om aan ons goeie dae te dink. Ons het graag saam geteken en geverf. Sy het die mooiste hande gehad . . . En so kunstig. Hoe kon iemand dit van my af wegneem?"

’n Skoolfoto van die vermoorde Anika Smit van Pret
’n Skoolfoto van die vermoorde Anika Smit van Pretoria. Foto: Verskaf

Sy en Johan is geskei toe Anika 13 jaar oud was, en die tiener het toe by haar ma gewoon, eers in Pretoria en toe op Hartenbos. Ses maande voor haar dood het sy gesê sy wil by haar pa gaan woon na dat kanker by hom gediagnoseer is.

“Ek het myself nou al vergewe dat ek Anika nie eerder by my gehou het nie. Tog kan ek nie help om myself soms te verkwalik nie. Ek was streng met haar; ek het altyd geweet na wie toe sy gaan,” vertel Charlotte.

Anders as haar eksman het sy nooit Anika se verminkte liggaam gesien nie, “maar toe ek Pretoria toe is vir die be grafnis, het ek gesukkel om in haar ka mer in te gaan”. Daar was droë bloed teen die muur en op die vloer, en Anika se rooi hartjie kussing was steeds op haar bed.

“Ek kan nie dink wie so iets vreesliks aan haar sou doen nie. Toe ek nog in Pre toria was, het ek almal by haar skool geken en vir hulle skoolklere en trom poppie-uniforms gemaak.”

Hanrika Beukes, Anika se skoolmaat, het destyds in die doodsondersoek getuig sy en Anika was deel van ’n “stout groepie” wat gerook en stokkiesgedraai het.

Hanrika Beukes. Foto: Facebook.
Damian Treeby. Foto: Facebook.
Andrè van Wyk (25) ook bekend as Smiley ná hy destyds vrygelaat is weens die moord op Anika Smit. Foto: Deaan Vivier

André “Smiley” van Wyk (24), wat saam met haar op skool was, het op 16 Sep tember 2016 by die polisie opgedaag en skuld vir die moord beken, maar die po lisie glo dit was net ’n obsessiewe verbeeldingsvlug, en die klagte van moord en verkragting teen hom is laat vaar.

’n Oudleerder van die Hoërskool Ger rit Maritz het vroeër ’n medeleerder aanlyn van betrokkenheid by die moord beskuldig. Hiervoor is sy van laster aangekla.

Ook Anika se ekskêrel, haar pa, Johan, en selfs Charlotte is al genoem as “persone van belang” in die ondersoek. Maar steeds is daar net vrae en geen ant woorde nie. “Dis alles net bewerings,” sê Charlotte. “Ek smag daarna dat die ondersoek afgehandel word.” Maar dit sloer nou al sedert 12 November 2014, met geen einde in sig nie.


Uit die moord huis in Pretoria vertel Jo han die voortslepende geregte like ondersoek breek hom. “Ek weet nie of my kind se moordenaar ooit opgespoor gaan word nie. Ek en Anika se ma word aan emosionele lyding onderwerp.”

Sy droom was altyd om sy aftrede op Upington naby sy familie te verwyl, “maar ek het nie die finansies om elke keer op te kom Pretoria toe vir die saak nie. Ek is gedagvaar om te verskyn, maar dit word heeltyd uitgestel. 

Blomme is kort ná Anika Smit se dood by die Hoërskool Gerrit Maritz neergelê. Foto: Jaco Marais

“Wat vir my baie moeilik is: Ek het nie vriende nie. Ek lewe soos ’n kluisenaar hier. Niemand kom kuier by my nie. Ek is nie regtig ’n sosiale mens nie, maar ’n mens het vriende nodig.”

Hy voel soos ’n gevangene in die huis waar sy dogter vermoor is, want hy moet sy geld spaar om Upington toe te trek wanneer haar saak eendag afgehandel is.

Hy het intussen al haar goedjies uit haar kamer verwyder, “behalwe haar foto’s teen die mure”. Dit was Johan wat destyds gebel het om die nuus van hul dogter se moord met Charlotte te deel. Haar hart bloei vir hom omdat hy steeds in die huis woon waar hul kind vermoor is.

“Ek sou dit nie kon doen nie,” sê sy. “Ons mag nie nou met mekaar praat nie weens die ondersoek. Ek was verlede jaar twee keer in Pretoria vir die saak. Daar is nog nie ’n datum vir die volgende verskyning nie."

Om die trauma van haar dogter se dood te verwerk, het sy destyds ’n jaar lank berading gekry en medikasie gebruik. “Maar jy vergeet nooit. Jy dink dié kant van die pad en daardie kant. Jy weet nie watter rig ting toe nie.”


Sy glo steeds Anika het haar moordenaar geken, en sy bly glo die moor denaar sal eendag gevang word. Onlangs het sy, soos elke jaar met die herdenking van Anika se dood, deur haar dogter se fotoalbum ge blaai.

’n Briefie het uitgeval. Dit het gelui: “Liewe Mamma, ek is baie lief vir jou. En dankie vir alles wat jy gedoen het."

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe.