Die donkerkopmeisie in die selfoonvideo gesels opgewek.

“Hallo, pappa. Dis ek, Janny. Ek hoop ek sal pappa gou weer sien. Daar is so baie om pa te vertel. Ek mis pa. Ek is lief vir jou.”

En dan, in ’n ernstiger trant: “Ek huil vir pappa. Maar ek is seker pa huil vir my ook. Kyk asseblief mooi na jouself.”

Maar die 11-jarige Janice Endley, oftewel Janny, soos sy na haarself in die video verwys, van Johannesburg moes onlangs hoor sy sal haar pa dalk nooit weer sien nie.

’n Suid-Soedanse hof het William Endley (56), ’n gewese Suid-Afrikaanse weermagkolonel, ter dood veroordeel.

William is daaraan skuldig bevind dat hy die rebelleleier, Riek Machar, se troepe bewapen en opgelei het in hul oorlog teen pres. Salva Kiir se regering.

Hy moet eers nege jaar tronkstraf uitdien voor die doodsvonnis voltrek word.

Maar sy familie hou vol hy was bloot Machar se raadgewer en het as sodanig van 2014 af vir vrede in dié oorloggeteisterde land gewerk.

Hier waar ons enkele dae ná William se vonnisoplegging op 23 Februarie praat, is sy vrou, Sana (42), kort-kort in trane.

Dis die kordate Janice wat eindelik sommer self vertel hoe sy die nuus meegedeel is, sowat 10 weke ná daardie videoboodskap aan haar pa in die tronk in Suid-Soedan se hoofstad, Juba.

“My ma het eers vir my gesê my pa het nege jaar tronkstraf gekry,” vertel dié slimkop en skrander atleet. Ek het toe dadelik geantwoord: ‘O, reg; so hy sal terug wees voor ek 21 jaar oud word.’

Maar toe sê my ma: ‘Nee, my skat, daarna kry hy die doodstraf.’ Ek was diep geskok.”

Sana Endley en haar dogter, Janice, trek swaar nadat hulle gehoor het hulle sal William dalk nooit weer sien nie. Foto: Dino Codevilla.

Deur haar trane sê Sana: “William is ’n gesinsman, ’n pa, ’n eggenoot. Sy doodsvonnis is geweldig moeilik vir ons – emosioneel, liggaamlik, geestelik en finansieel. Die uitwerking daarvan is enorm.

“My dogter het haar pa twee jaar gelede laas gesien . . . en nou sal sy dalk nooit weer nie,” vertel Sana, wat gesondheidsprodukte van die huis af verkoop.

Sy sê Machar het William in 2015 laas betaal. “Jy sal William eendag moet vra hoekom hy sonder geld bly werk het. Hy het ’n ongelooflike werk-etiek. Wanneer hy sê hy sal iets doen, doen hy dit.”

Sana onthou nog die skok toe sy op  21 Augustus 2016 ’n e-pos kry met die nuus dat hy aangehou word: “Die sender het net geskryf: ‘Hulle het William gevat en hulle gaan hom doodmaak.’

Niemand het kon weet dit was dalk hul laaste tydjie saam nie.

"My bene het onder my padgegee. Dit was bitter moeilik om Janny te vertel.” Vroeër daardie maand het William uit Suid-Soedan kom kuier, maar niemand het toe kon weet dit was dalk hul laaste tydjie saam nie.

In sy uitspraak het die Suid-Soedanse regter William 15 dae gegun om teen sy vonnis te appelleer.

Die familie het ’n Suid-Soedanse advokaat betaal om William tydens sy verhoor te verdedig, maar kort voor ons druktyd was dit nog onbekend wat die volgende stap sou wees. William se jonger suster, Charmaine Quinn (55), het intussen die ramphulporganisasie Gift of the Givers genader om Suid-Soedan om begenadiging te vra. 

Sy beplan ook om aan pres. Cyril Ramaphosa te skryf en te vra dat hy ingryp. 

Maar Nelson Kgwete, woordvoerder van die departement van internasionale verhoudings, het by navraag gesê: “Die Suid-Afrikaanse regering kan nie in die wetlike prosesse en interne sake van ’n soewereine staat inmeng nie.” 

Machar is al langer as ’n jaar ’n “gas” van die Suid-Afrikaanse regering in Pretoria nadat hy in 2016 uit Suid-Soedan gevlug het.

Daar is wyd berig hy verkeer as’t ware in huisarres.

Janice en Sana is vol hoop die Suid-Afrikaanse regering sal ingryp en toesien dat William huis toe kom. Foto: Dino Codevilla.

William en Sana het mekaar in 2004 in ’n oorlogsone ontmoet: in Irak, waar hy en Sana, ’n Irakiër, kontrakwerk gedoen het vir ’n Amerikaanse nieregeringsorganisasie wat plaaslike mense opgelei het in die hantering van verstrooide bomme en landmyne.

Hulle het kort daarna in Irak getrou en met hul terugkeer na Suid-Afrika in 2006 hul huweliksbeloftes hernu.

Maar die betaling was goed in die buiteland en ná Janice se geboorte in 2007 het William eers in Soedan en toe in Afganistan as konsultant gewerk.

Sana en Janice het in Suid-Afrika gebly. “Ons het hom van 2007 af net elke drie maande tuis gesien. Dit was soos om ’n soldaat se vrou te wees, al was hy nie langer een nie. Hy was ’n goeie voorsiener vir ons en neem sy verantwoordelikhede ernstig op,” vertel Sana.

Sy het van haar huis af gewerk sodat sy voltyds daar kon wees vir Janice. “Ek wil al haar swemgalas, netbalwedstryde, danskompetisies en klavieruitvoerings bywoon; alles waarvoor sy lief is.”

Terwyl ons gesels, speel Janice eenkant by die kwekery met iemand se hond. Sana vertel van Janice se hond, Danny, ’n Jack Russell, wat haar pa haar met sy laaste besoek vir haar negende verjaardag gegee het.

“Danny is baie belangrik vir haar. Hy is deel van haar pa.”

‘Hy het gesê hy het my briewe met foto’s gekry. Hy het gesê ek het groot en mooi geword en gevra of ek oukei is’

In 2011, in ’n geskiedkundige oomblik wat daarop gemik was om die vier dekades lange burgeroorlog in Soedan te beëindig, het Suid-Soedan van die res van die land weggebreek en onafhanklikheid verkry.

Kiir is tot president van die wêreld se jongste land – effens kleiner as Texas – verkies en Machar as adjunkpresident.

Maar die vrede was van korte duur.

In 2013 het Kiir sy kabinet – Machar inkluis – weens beweerde korrupsie afgedank en het Suid-Soedan, verdeeld weens etniese verskille, in ’n burgeroorlog verval.

In 2014 is William terug na dié wêrelddeel – hierdie keer om te werk vir Machar, leier van die rebelle wat teen Kiir se regering geveg het.

Sana vertel militêre geskiedenis was William se passie en Soedan het hom gefassineer.

Op sy tuisbesoeke het hy en Janice ure lank deur die Johannesburgse Militêre Museum gedrentel.

Sy sê weer hy het as konsultant vir Machar gewerk tydens vredesonderhandelings, wat telkens misluk het.

“Dan sou hulle teken; dan baklei hulle weer . . . Die jare sonder hom was moeilik. Maar goeie dinge gebeur nooit maklik nie; dit verg opofferings.”

In 2016 het die situasie drasties versleg. Volgens verslae van die Verenigde Nasies het Kiir se regeringstroepe sowel as Machar se rebelle hulle skuldig gemaak aan massamoorde en die grootskaalse verkragting van burgerlikes.

Met dié dat tienduisende mense reeds dood is weens die geweld en die land se ekonomie op landbou en bestaansboerdery berus, het hongersnood boonop uitgebreek.

Duisende mense het gevlug na buurlande, onder meer die Kongo.

Machar self is intussen gewond en het na die Kongo uitgewyk, van waar hy later na Suid-Afrika vir mediese behandeling gekom het.

Middel 2016 het Sana hom gevra om weens die haglike situasie in Suid-Soedan sy werk daar te staak. Hy wou nie, maar was wel van plan om na Suid-Afrika terug te keer om hopelik op 25 Augustus 2016 by sy dogter te wees op haar 10de verjaardag.

Maar toe kry sy daardie e-pos oor sy inhegtenisneming op die 21ste.

Dit was vir haar selfs ’n groter skok as sy doodstraf, want op laasgenoemde kon sy haar ten minste tydens die lang verhoor geestelik voorberei.

Sy het eers Charmaine, William se suster in Kaapstad, gebel en “onophoudelik gehuil”.

William se suster, is die tussenganger wat nou teen sy doodsvonnis wil appelleer. Foto: Verskaf.

William se ma, Myrtle (77), is ook in kennis gestel, asook sy vier kinders uit vorige huwelike: Bronwyn Brandon (35) en Gwynneth (33), Suzanne (30) en Myrtle Endley (18).

William het ook vier kleinkinders. “Maar ek kon net nie vir Janice van die inhegtenisneming vertel nie; ek het aanhou uitloop om Charmaine weer te bel. En tog, Janice is slim; sy het geweet iets skort. Ek moes op die ou end vir haar sê haar pa is agter tralies; ek weet nie wat gaan gebeur nie.”

Janice het die afgelope 18 maande gereeld aan haar pa geskryf.

“Ek het hom vertel dat ek hom mis, hom vertel dat ek derde was in die danskompetisie en dat ek goue sertifikate gekry het vir wiskunde en Afrikaans, en silwer vir Engels en wetenskap.”

Maar sy het nooit ’n brief teruggekry nie. Soms is William wel toegelaat om telefonies met sy gesin te praat.

Die laaste keer dat Janice sy stem gehoor het, was vroeg in Desember – kort voor die selfoonvideo gestuur is.

“Hy het gesê hy het my briewe met foto’s gekry. Hy het gesê ek het groot en mooi geword en gevra of ek oukei is; hoe dit in die skool gaan. Dit was vinnig. Ek kon hom nie vra hoe dit in die tronk is nie.”

Het William ooit die selfoonvideo in Desember gesien?

“Ek het dit deur ’n gemeenskaplike vriend aan William gestuur,” vertel Sana.

“Volgens die vriend was William se gesigsuitdrukking onbeskryflik: ’n mengsel van vreugde, trots en liefde.”