Die tenger geboude Kaliforniese ma, ’n fikse en ervare voetslaner, het op 6 Oktober in die deelstaat Utah se Zion- nasionale park vermis geraak. Sy het met ’n toerbus daar aangekom en sou weer by die eindpunt van haar voetslaanroete op ’n bus klim, maar het nooit haar bestemming bereik nie.

Holly, wat die laaste ruk op haar liefde vir die buitelug gefokus het nadat sy haar werk as kinderversorger weens die ekonomiese impak van die covid-19-pandemie kwyt was, het nog nie self van haar beproewing vertel nie aangesien sy steeds in die hospitaal behandel word.

Maar familie en vriende wat haar as “ ’n ware vegter” beskryf het in verklarings en TV-onderhoude al ’n prentjie begin skets van wat met haar gebeur het.

Volgens haar dogter, Kailey Chambers, het sy blykbaar haar balans verloor, geval en haar kop teen ’n boom gestamp.

“Sy was toe baie deurmekaar, maar het deur die genade naby aan ’n rivierbedding beland. Sy het gereken haar beste kans op oorlewing was om naby aan ’n waterbron te bly.”

Holly was egter die byna twee weke wat sy vermis was sonder kos en te gedisoriënteer en mettertyd te swak om hulp te kry.

Kailey het 800 km uit San Diego gereis om te help soek en ander familielede het ook aangesluit by die uitgebreide operasie, wat verskeie snuffelhondspanne ingesluit het.

Luidens ’n verklaring van die Zion-park is sy eindelik in “ ’n dig begroeide area langs die Virgin-rivier” gevind nadat beamptes ’n wenk van parkbesoekers opgevolg het.

Kort tevore het soekbeamptes nog gesê hulle sou, helaas, soektogte moes aflas tensy hulle vinnige bruikbare leidrade kry.

Kailey het besluit sy sou nie ophou soek tot Holly gevind is nie. “Ek het geweet sy sou nooit moed verloor het as dit ek was nie; dus het ek geweier om tou op te gooi,” het sy aan ’n KCAL-TV-span gesê.

Weens kwaai wanvoeding en ontwatering moes Holly in die naaste hospitaal opgeneem word. Toe sy opgespoor is, was sy in so ’n swak toestand dat sy nie regtig kon praat nie.

Maar haar familie is diep dankbaar teenoor die bewaarders en soekspanne wat dag en nag “na haar gesoek het”.

“So ook teenoor die talle vrywilligers . . . Hierdie reddingspoging sou nie moontlik gewees het sonder die netwerk mense wat byeengekom het nie,” sê hulle in ’n verklaring.

Die reservaat is bekend vir sy enorme kranse en doolhowe van sandsteenklowe en daar was oomblikke toe die topografie vals hoop by reddingswerkers geskep het.

So vertel Nancy Hachmeister van die vrywilliger-organisasie Utah Search Dogs oor hoe sy en haar Duitse herdershond, Hanna, wat ’n T-hemp van Holly as snuffelleidraad gebruik het, met hernieude ywer teen 'n hang uitgeklim het nadat hulle ’n blou voorwerp in die verte bespeur het.

“Maar dit was ’n rots . . . eintlik gryserig, maar oor ’n afstand het dit blou gelyk.”

Volgens Kailey sterk haar ma nou taamlik goed aan.

“Sy het baie gewig verloor en is vol kneusplekke, maar sy herwin geleidelik haar krag. Sy’s steeds swak, maar aan’t herstel.

"Sy's op vloeistofbehandeling, en kos word stadigaan bygevoeg. En sy’s in ’n goeie gemoedstoestand en baie dankbaar teenoor almal wat gehelp het.”

“Ek het geweet as enigeen dit kon doen, sou dit sy wees sy’s so ’n vegter,” het Holly se suster Jillian aan die TV-netwerk ABC gesê.

Volgens Kailey was dit vir haar ma ’n lewensideaal om soveel moontlik natuurreservate te besoek. “Toe sy haar werk verloor, het sy dit ook positief benader en gesê dit gee haar meer tyd om uit te kom en parke te sien.”

Bronne: nps.gov, ABC, nytimes.com, CBS

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe