Hy was twee jaar oud toe sy ma hom na ’n troeteldierwinkel neem en hy verby die oulike hondjies en katjies stap, reguit reptiele toe.

Daar het Arné Hobbs (12) van Potchefstroom drie ure lank gesit en sedertdien ken sy liefde vir slange geen perke nie.

“Ek sê altyd ek het nie slange gekies nie. Hulle het my gekies,” vertel Arné. “Ek dink ek het net besef hulle maak my so gelukkig. Hoekom kan ek hulle nie gelukkig maak nie?”

Foto: Facebook

Die blonde seun wat met klompvoete gebore is kon vir ’n groot deel van sy lewe nie vry beweeg nie en hy dink omdat die slange nie soos honde en katte gedurig rondhol nie en net by hom bly, het sy passie vir hulle nog groter geword.

Deesdae het hy geen las meer van sy voete nie en kan hy hardloop en speel net soos hy wil. “Ek is baie gelukkig,” laat hy hoor.

Hy het later besef mense maak slange sommer goedsmoeds dood en hy het besluit om soveel moontlik van hulle te leer om dit te probeer verhoed.

Hy het intussen al verskeie kursusse gedoen en is tans ’n gekwalifiseerde slangvanger wat gereeld op sy tuisdorp en omgewing ontbied word om mense te help wat slange in hul huis het. 

“Elke slang het sy eie geaardheid,” sê Arné. “Vir my is dit amper soos om ’n nuwe mens te ontmoet wanneer ek ’n slang ontmoet. Soms as ek een van hulle op die maag kielie, lyk dit amper asof hulle glimlag. Elke slang is regtig anders.”

So lief is hy vir slange dat hy teel met die spesies wat aangehou mag word. Hy het op die oomblik sowat 40 slange by sy huis. Hy het ’n slangkamer agter in die erf en ook ’n vertrek in sy kamer waar hy sy geliefde troeteldiere aanhou.

Hy beoog om volgende jaar 'n gevorderde slangvangkursus te doen waar hy sal leer hoe om 'n swartmamba agter sy kop te vang.

Sy ma, Arina Hobbs, ’n eiendomsagent op die dorp, is glo net so lief vir die slange, vertel Arné. “Sy is glad nie bang nie en sal saam met my gaan as ons hulle in die (Vredefort) koepel gaan vrylaat.”

Arné het al die nodige gereedskap om slange veilig te hanteer, maar dit het al gebeur dat hy deur nie-giftige slange gepik is. “Dit voel soos ’n prik en dit is baie gou verby.”

A post shared by Arne Hobbs (@arnehobbs) on

Die giftigste soort slang wat hy al gevang het was twee boomslange in die dak van 'n lapa. Dit het hulle twee uur geneem om net een uit te kry. “Die wyfie was vol eiers en sy was nogal kwaai.”

Arné sê nie almal wat hy ontmoet deel altyd sy passie nie en mense het al baie lelike goed vir hom gesê. Gelukkig steur hy hom glad nie daaraan nie.

Inteendeel – hy is vasbeslote om eendag ’n slangpark oop te maak en wil hê dit moet so uniek en spesiaal wees dat mense regoor die land daarheen sal reis om na die slange te kom kyk en meer van hulle te leer.

Met soveel passie en energie kan ons nie wag om te sien wat hy eendag nog alles vermag nie. 

Vir meer inligting oor Arné besoek sy Facebook-blad Arne Hobbs - Wise As Serpents.