Laat Maandagmiddag is die blye tyding uitbasuin: "Al 13 mense (12 seuns en hul afrigter) is lewend gevind," het die goewerneur van die Chiang Rai-streek bevestig.

Reddingswerkers glo die span sal te moeg wees om saam met die duikers na veiligheid te swem. Eers sal nog kos na hulle gestuur word om hulle hul kragte te help herwin voor hulle die pad buitentoe aandurf.

Vermis

Die adjunk-goewerneur van die streek, Passakorn Bunyalak, was optimisties toe vingermerke en voetspore binne-in 'n gedeelte van die grot gevind is. "Ons is vol vertroue dat die kinders nog in ’n goeie toestand verkeer," het hy verlede Maandag gesê.

Die seuns, tussen 11 en 16 jaar oud, en hul afrigter (25) het op 23 Junie in die Tham Luang-grotte weggeraak nadat hulle waarskynlik daar teen ’n storm geskuil het. Vloedwater het die bek van die grot toegespoel. Al wat op die dag van hul verdwyning gevind is, was hul fietse naby die ingang van die grot.

Intussen het die watervlakke in die grot soms tot 15 cm per uur gestyg.

Intussen het meer as ’n duisend mense, onder wie reddingspanne van Thailand, Amerikaanse magte en Britse grotkenners na die seuns en hul afrigter gesoek in die enorme grot wat kilometers ver strek. Saterdag het Australië en China ook van hul kundiges gestuur om met die soektog te help.

"Dit het gevoel my hart breek toe sy rugsak, selfoon en skoene gevind word," het Sudsakorn Sutham, wie se seun Prajak onder die vermistes getel het, gesê.

Familie en vriende het by die grot se ingang byeengekom om vir die vermiste groep te bid. Foto: Gallo Images/Getty Images.
Só is daar op 1 Julie vir die sokkerspan gebid. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Namhom Boonpiam, wie se 13-jarige seun, Mongkol, ook in die groep is, het gesê "my seun is ’n sterk seun. Ek het steeds hoop".

Offerandes, gebede en die onwrikbare geloof dat die 13 vermistes gevind sou word, was die afgelope nege dae aan die orde van die dag in die Suidoos-Asiese land.

Die soekgebied het na ’n droë, hoërliggende gebied, Pattaystrand, verskuif. Dit is ’n paar kilometers van die grot se ingang af.

Duikers verbonde aan die Thailandse vloot se taak is aansienlik bemoeilik deur gure weer en die modder wat die grot binnegespoel het.

Dr. Somsak Akkasilp, direkteur-generaal van Thailand se mediese dienste, het gesê die groep se oorlewing berus daarop of hulle toegang tot vars water in die grot het. Hy het sy kommer oor moontlike besmette water en ook kontak met wilde diere as ’n risiko uitgelig.

Vyf dae nadat die groep as vermis aangemeld is, het die polisie 20 oorlewingspakkies met kos, water, medisyne en flitsligte deur 'n gat wat in die grotwand geboor is, vrygestel. ’n Kaart en ’n nota is ook ingesluit waarin die groep versoek is hom hul ligging te probeer merk en die houers waarin die oorlewingspakkette was, met behulp van die stroom terug te laat dryf na die reddingspanne.

Bronne: itv.com, times.com, channelasiea.com, cnn.com bbc.com