The Sun berig dat Angus Palmes, van Macclesfield in Cheshire, wat klein van gestalte is, aan ’n siekte ly wat so ongewoon is dat dit nie eens ’n naam het nie. Kenners verwys daarna as “translokasie van 15/22 met gedeeltelike trisomie 22q12.3”.

Die siekte is op driejarige ouderdom by hom gediagnoseer.

Hy het verskeie ander komplikasies met sy gesondheid gehad. Hy het op tweejarige ouderdom harsing-en-rugmurgvliesontsteking oorkom en is onlangs geopereer om verteringsprobleme reg te stel.

Tandy, die seun se ma, het aanvanklik bitter min inligting oor sy siekte gehad.

“Ek het nie regtig geweet wat dit beteken nie, maar hulle het nie vir my gesê hy sou vir die res van sy lewe soos ’n kind wees nie. Daar was by geboorte verskeie klein gaatjies in sy hart en sommige van sy rugwerwels was net gedeeltelik gevorm."

“Hy is ook met horrelvoete en ’n chroniese maagrefluks gebore, dus was daar van die begin af ’n berg gesondheidskwessies. Hy het ’n opehartoperasie ondergaan, sy voete is reggemaak, hy’s geopereer vir die refluks. Noem dit, hy’s daardeur.”

Angus het op driejarige ouderdom ophou groei. Hy het meer as 40 operasies ondergaan, insluitend gereelde botoksinspuitings wat moes keer dat hy kwyl.

Volgens die Daily Mail beplan Tandy, ten spyte van Angus se vreemde voorkoms, om hom ’n positiewe lewe te gee.
 
“Angus dra steeds klere vir kinders 10 jaar jonger as hy. Dis soos om met ’n peuter te werk in die stadium net voor hy begin loop. Hy is nie heeltemal sonder motoriese vaardighede nie, maar hy kan nie praat nie, dus het hy sy eie soort gebaretaal geprakseer."

“Dis ’n klompie basiese handseine. Almal wat hom ken of met hom werk, weet wat dit beteken.”

Volgens haar het sy gewoond geraak daaraan dat vreemdelinge in die openbaar na haar seun staar.  “Gelukkig is Angus altyd die ene glimlaggies en dit lei daartoe dat mense met ons praat. As mense my vra hoe oud hy is, sê ek 13. Hulle dink dit beteken 13 maande.”

Bronne: The Sun, Daily Mail, Mirror