Die tiener is aangeval nadat sy ’n dag saam met vriende by ’n swembad in Velbert, Duitsland, deurgebring het. 

Volgens Metro het agt skoolseuns van Bulgarye haar voorgelê terwyl sy met ’n pad in die woud huis toe gestap het.

’n Familievriendin wat na die meisie gaan soek het nadat sy nie by die huis aangekom het nie, het op die grusame toneel afgekom. Die seuns het gevlug toe hulle haar sien. 

Die dapper meisie het toe daarin geslaag om die skuldiges op Facebook op te spoor nadat sy een van hulle vaagweg herken het, berig The Mirror

Sy het vir die polisie die seun se foto gegee en die verdagte is later die dag op die dorp in hegtenis geneem. 

Die polisie het beeldmateriaal van die verkragting op die seun se foon gekry en kon die ander sewe skuldiges maklik identifiseer. 

The Sun berig ses van die migrant-skoolseuns van tussen 14 en 17 jaar oud is in Oktober verlede jaar skuldig bevind al het hulle beweer die 13-jarige slagoffer het ingestem. 

Die hoofverdagte, wat 15 is, is tot vier jaar en nege maande tronkstraf gevonnis nadat die hof bewys het hy het die meisie twee keer verkrag. 

Nog ’n skoolseun het vier jaar in ’n jeugaanhoudingsentrum gekry en twee ander is tot twee jaar en 20 maande in ’n jeugtronk gevonnis. Twee het vrygekom nadat hulle ’n opgeskorte vonnis gekry het. 

Dié week is twee van die tieners wat die polisie aanvanklik ontwyk het eindelik tronk toe, berig The Mirror.

Hulle het na Bulgarye gevlug, maar is na Duitsland uitgelewer en is ná ’n verhoor skuldig bevind.

Bronne: The Mirror, The Sun, Metro