Die seun, van Osgood, ’n landelike gebied naby Indianopolis in die deelstaat Indiana, is vanaf 28 Augustus vanjaar by die Dearborn County-jeugsentrum in aanhouding en word nou van die moord op die jong kinders aangekla.

Hy het aan die polisie erken hy het sy 23 maand oue halfsuster, Desiree McCartney, met ’n handdoek versmoor nadat sy gebad het. Byna drie maande later het hy ’n kombers gevat en sy slapende 11 maand oue stiefbroer, Nathaniel Ritz, daarmee versmoor.

Volgens dokumente wat aan die hof voorgelê is, het die polisie op 1 Mei 2017 na ’n huis in Osgood gegaan om ondersoek in te stel oor ’n 23 maand oue dogtertjie wat asemnood gehad het. Die seun het glo op daardie dag aan hul ma, Christina McCartney, gesê “iets is fout met Desiree, sy haal nie reg asem nie.”

Desiree is na ’n hospitaal geneem, maar sy het net vyf dae langer oorleef.

Toe kom die volgende skok: 81 dae later word die nooddienste na dieselfde huis ontbied, dié keer vir Nathaniel, wat ook gesukkel het om asem te haal.

Die seun (toe 13) het na bewering vir sy ouma vertel dat hy Desiree en Nathaniel doodgemaak het. Volgens haar verklaring het hy boonop aan haar beskryf hoe ferm hy die handdoek en kombers om hul koppe gehou het om hulle te versmoor.

Sy motief was glo om hulle “te bevry van die hel en kettings op aarde” en hy wou verhoed dat hulle in dieselfde hel moet leef as wat hy leef. Die handdoek om Desiree se kop was om haar “vry te maak en na die hemel te laat gaan.”

Toe hy gevra is wat hy met “hel” bedoel, was sy antwoord glo werk en hy het die ondersoekbeamptes gevra of hulle die lys gesien het van die take wat hy elke dag moes verrig.

Hy het wel sy ma vertel wat hy met Nathaniel aangevang het, maar teen daardie tyd was dit reeds te laat om sy lewe te red.

Skokkende kat-storie

Die fokus het na die seun verskuif as ’n moontlike verdagte nadat ’n familielid die owerhede gekontak het met ’n grusame storie oor ’n kat in ’n voorval wat ongeveer drie maande voor Desiree se dood plaasgevind het.

Die kat, wat aan ’n gestremde familielid behoort het, het die seun glo gekrap. Hy het die kat so hard gedruk dat “die binnegoed uitgehang het”.

Die vrou sê die seun wou saam met haar man na die veearts gaan om die kat uit sy ellende te verlig, maar dit was nie omdat hy vir die kat omgegee het nie. “Hy wou sien hoe die kat se brein oral spat,” het die vrou gesê.

'My seun is nie ’n monster nie'

Maar Christina sê haar seun is allesbehalwe die monster waarvoor hy nou uitgekryt word. Inteendeel, sy beskryf hom as ’n modelkind wat baie beskermend teenoor die jonger kinders was. Hy het glo vir hulle boeke gelees en vir hulle gesing.

Sy beweer hy het die kinders doodgemaak omdat haar ekskêrel, Stephen Ritz, gedreig het om hom en sy ma dood te maak as hy weier.

“Hy het gesien hoe wreed Stephen teenoor die babas is,” het sy gesê. “Daardie man het soveel mense se lewens vernietig. My seun sal nooit weer dieselfde wees nie en my kinders is weg. Hulle was my babas. Hulle was my lewe, maar hy loop nog vry rond. Dit is net nie reg nie.”

Gary McCarthy, Desiree se pa, het aan die plaaslike televisienuusdiens WLWT5 gesê “dit is baie moeilik. Ek probeer nog om sin te maak van wat alles gebeur het en hoekom”.

Volgens hom is die seun wel uit die huis verwyder ná Desiree se dood, maar het weer na die huis teruggekeer terwyl die ondersoek na haar dood nog aan die gang was.

Die seun se biologiese pa is glo in die tronk.

Die seun word van twee aanklagte van moord aangekla en die staat het aangedui dat hy as ’n volwassene verhoor moet word. In hierdie stadium ondergaan die seun sielkundige evaluering om vas te stel of hy wel verhoor kan word.

Bronne: metro.co.uk, wcpo.com, cincinnati.com, nypost.com