Klein Isabella Stark het Maandagoggend in haar ouerhuis se tuin gespeel en fyngemaalde neute geëet toe sy blykbaar geval het en aan van dit gestik het.  

“Ons het dadelik mond-tot-mond-asemhaling toegepas op haar. Daar was sowat 20 minute wat sy glad nie asemgehaal het nie,” sê Athol, Isabella se oupa.

 Haar ouers het met haar na die hospitaal toe gejaag en dokters het haar aan ’n ventilator gekoppel. 

Volgens Athol was die voorval verskriklik traumaties vir haar ouers. 

“My seun Joshua en sy vrou, Monica, is in ’n toestand. Hulle is baie bekommerd oor hul dogtertjie.” 

Klein Isabella is in 'n kritieke toestand nadat sy
Klein Isabella is in 'n kritieke toestand nadat sy aan neute verstik het. Foto: Facebook

Monica is ook vyf maande swanger met hul tweede kind.

“Dit veroorsaak vir haar geweldig baie stres. Ons probeer in hierdie stadium om haar net te kalmeer en rustig te hou ter wille van die swangerskap.” 

Die gesin het nie ’n mediese fonds nie en Isabella moet na ’n hospitaal met ’n pediatriese eenheid oorgeskuif word. 

“Sy gaan per lugambulans geskuif moet word. Daar is ’n bed by die Nelson Mandela Kinderhospitaal (in Johannesburg), maar ons het nie die geld om vir die lugambulans te betaal nie.” 

Die familie probeer nou geld insamel om Isabella oor te plaas. 

“Ons wil haar net graag by die beste dokters moontlik uitkry.” 

Athol sê al is Isabella in ’n kritieke toestand, is sy stabiel. 

“Sy beweeg haar armpies en bene en haar suurstofvlak lyk goed. Ons is vol vertroue dat sy gaan deurdruk en gaan terugbaklei.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe