’n 17-jarige se groot droom het pas waar geword: om self van die Kaap tot Kaïro te vlieg – boonop in ’n vliegtuig wat sy en medetieners gebou het.

Van die koffierestaurant op die boonste verdieping van Gauteng se besige Lanseria-lughawe, net ’n spreekwoordelike klipgooi van die Wieg van die Mensdom met sy antropologiese skatte, kyk kinders vandag vasgenael hoe vliegtuie opstyg en neerstryk. Wat deur hul gedagtes gaan, kan ’n mens net raai.

Dalk droom hulle daaroor om eendag agter die stuurstang van een van daardie groot ystervoëls te sit . . . By een van die tafels sit ’n blonde tienermeisie wat dié kinders se verbeeldingsvlugte alte goed verstaan.

Megan Werner was net 15 toe sy twee jaar gelede besluit het om haar vliegdrome letterlik vlerke te gee. En sy het sommer groot gedroom: Sy wou van die Kaap na Kaïro in Egipte vlieg – met vlerke wat sy self aanmekaargesit het.

In daardie stadium het sy nog nie eens ’n vlieglisensie gehad nie. Maar met die steun van haar ouers het sy ’n span van 20 vrywilligers, almal tieners, gekies om haar met die projek te help. En toe begin hulle sowaar vliegtuig bou.

“Ek wou vir ander tieners wys enigiets is moontlik; niks staan in die pad van jou drome nie,” verduidelik die matriekleerder aan die Hoërskool Noordheuwel in Krugersdorp vandag.

Meghan Werner
Haar gesig straal van opwinding terwyl sy oor Afrika vlieg. Foto: Facebook/@TheMeghanWerner

En daardie punt het Megan (nou 17) en vyf jong hulpvlieëniers onlangs op ’n dramatiese wyse beklemtoon: ’n epiese lugreis van 31 dae en 24 000 km oor die lengte van Afrika in hul viersitplekvliegtuig.

“Dit was die beste ervaring van my lewe. Ek sal dit vir niks verruil nie,” vertel sy. “En oral waar ons geland het, het ons probeer om motiveringspraatjies te lewer. Dit voel regtig of ons met hierdie projek nie net onsself geïnspireer het nie, maar ook baie ander tieners van oor die hele vasteland.”

Maar dit was nie als net pret nie, erken sy. Daar was ook benoude oomblikke tydens hul groot avontuur . . .

Lugvaart is in Megan se bloed. Haar pa, Des (49), is self ’n vlieënier. En haar ma, Belinda (44), bestuur ’n opleidingskool vir vliegtuigingenieurs. Hulle gesels vandag saam.

Megan het nog altyd geweet sy wil ’n verskil in die lewe maak. Terwyl ander tienermeisies hul dae vul met skoolwerk, sport en kêrels, het sy en haar pa hul niewinsgewende organisasie U-Dream Global in die sosiale media begin.

“Ons wou jong mense help om groot te droom, hul doelwitte na te jaag en so kennis en vaardighede te verkry,” sê Des. Met dit in gedagte het Megan besluit sy wil van die Kaap na Kaïro vlieg.

“Toe sy met hierdie idee kom, het ek eers vir haar gesê dit is al gedoen,” onthou Belinda.

“Maar toe sê sy sy wil self die vliegtuig bou!”

Meghan en die span
n Groep van die jong mense wat deel was van die ambisieuse projek. Foto: Verskaf

Hul keuse vir die vliegtuigmodel, die Sling 4, word as ’n monteerstel van die vervaardigers aangekoop. Dan word al die dele – romp, vlerke, brandstoftenk, instrumente, kontroles, bedrading, die enjin en skroef – stuk vir stuk deur die nuwe eienaar aanmekaargesit.

Die aankoop en montering is hoofsaaklik deur Des, Belinda en borge gefinansier. Megan het ander tieners in die sosiale media genooi om deel te wees van die bouprojek, en uit sowat 1 000 aansoekers is 20 gekies.

“Die aansoekers het nie nodig gehad om enige vliegkennis of lugvaart-ervaring te hê nie. Die plan was om enigiemand wat eendag graag in lugvaart wou werk ’n leergeleentheid en voet in die deur te gee,” sê Megan.

Die span tieners het moue opgerol en naweke en vakansies die vliegtuig onder die wakende oog van twee gekwalifiseerde vliegtuigingenieurs monteer.

Dit het twee jaar gekos om die projek te beplan, maar met die 20 tieners is die vliegtuig binne twee weke aanmekaargesit. Een van die vrywilligers was Keamogetswe Seemela (15), ’n skoolmaat van Megan.

“Voor die projek kon ek nie eens ’n boor vashou nie,” vertel Keamogetswe telefonies aan Huisgenoot.

“Daar was baie uitdagings . . . Partykeer het ek iets verkeerdom monteer en dan het die vliegtuigingenieur dit uitgewys en moes ons alles oordoen.”

Keamogetswe kon die vrug van haar arbeid proe: Sy het saam met Megan tot by Zimbabwe se Victoria-waterval gevlieg voor sy moes terugkeer om by Noordheuwel eksamen te gaan skryf.

“Om in ’n vliegtuig te vlieg en te weet jou eie hande het dit help bou is onbeskryflik,” sê sy.

‘Weens meganiese probleme moes ons op die naaste lughawe land’

Terwyl die bouwerk gedoen is, het Megan op ’n skarefinansieringswebtuiste sowat R350 000 ingesamel vir die reiskoste. Haar pa sou aan die stuur wees van ’n ondersteuningsvliegtuig, en vyf jong aflosvlieëniers sou op ’n rotasiebasis die Sling 4 saam met Megan vlieg.

Daar was ’n magdom logistieke reëlings om te tref. Hulle sou Namibië, Zimbabwe, Malawi, Tanzanië, Uganda, Ethiopië en Egipte aandoen.

Elke land sou visums en dokumentasie vir die vliegtuie vereis; elke lughawe vlugplanne en toestemming om te land; brandstofvoorsiening moes beplan word; verblyf . . . Maar op 13 Junie vanjaar het Megan en die span eindelik in die Kaap opgestyg.

“Ek het eers twee dae voor ons vertrek my privaat vlieglisensie gekry,” lag Megan.

“Ek het baie daaroor gestres.”

Dan sluit ’n jong man by ons aan. Driaan van den Heever (18), ’n matrikulant aan die Hoërskool Ben Viljoen op Groblersdal, was een van Megan se hulpvlieëniers.

Hy het pas in sy eie ligte vliegtuig van Groblersdal hier na Lanseria gevlieg om saam te gesels.

“Ek het Megan op ’n vliegskou ontmoet waar hulle haar Sling 4 uitgestal het,” vertel hy.

“As vlieënier het ek dadelik geweet ek wil deel wees van die projek.” Soos die ander moes hy keuring deurgaan, onder meer in ’n vlugnabootser.

“Al was my matriekjaar dalk nie die beste tyd om so iets aan te durf nie, sal ek dit vir niks verruil nie. Ons het iets ervaar en gedoen wat nog nie deur mense van ons ouderdom aangedurf is nie,” sê Driaan.

Daagliks was hulle vyf tot 10 uur in die lug. Die Sling 4 het egter twee stuurstange.

vliegtuig
Die Sling 4-vliegtuig wat hulle gebou het. Dit het ’n span van 20 tieners onder die wakende oog van vliegtuigingenieurs twee weke gekos om die ystervoël aanmekaar te sit. Foto: Facebook/@TheMeghanWerner

“Ek het ’n uur of wat gerus en dan weer by Driaan oorgeneem. So het ons die hele tyd roteer,” verduidelik Megan.

By elke lughawe het die tieners en Des die nodige vluginspeksies en onderhoud gedoen. Die reis was nie sonder haakplekke nie, vertel Megan.

“Ons het beplan om in Aswan in Egipte te land, maar weens meganiese probleme moes ons op die naaste lughawe op die grens van Egipte en Noord-Soedan land.

“Dit was ’n plaaslike lughawe en beamptes was woedend vir ons, maar gelukkig het die Suid-Afrikaanse ambassade gehelp en die situasie ontlont. Ons kon brandstof ingooi, die vliegtuig herstel en verder vlieg.”

Hoogtepunte op Megan se droomvlug was daar baie. Haar gunsteling was om oor die Malawimeer, waar hulle ook ’n bietjie uitgespan het, te vlieg.

“’n Mens begryp nie hoe groot dit is voor jy daaroor vlieg nie; dis soos die see.”

Vir Driaan was dit ’n praatjie met tieners by die Ethopian Air-lugredery.

Op 20 Julie het Megan weer op Kaapse bodem geland. En vir eers fokus sy daarop om haar skoolwerk in te haal. Haar volgende droom?

“Ek wil my kommersiële vlieglisensie kry.”

Sy wil in haar pa se voetspore volg en ’n vlieënier word. Des twyfel nie dat Megan sal slaag nie.

“Dit was wonderlik om te sien hoe hierdie jongklomp iets so groot kon aanpak en ’n sukses daarvan maak.”

Hier by Lanseria klim nog ’n Boeing nou dreunend die lugruim in. En dis nie moeilik om Megan in die stuurkajuit voor te stel met vlerkies op haar uniformhemp nie . . . 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.